Foto’s: Vlugtelinge van Groentemarkplein verskuif

Talle polisielede is in die Kaapstadse middestad ontplooi om die vrede te help bewaar. (Foto: David Ritchie/ANA)

Kaapstadse wetstoepassers het Sondag begin om vlugtelinge wat al sowat vyf maande lank op Groentemarkplein plak, te verwyder.

Nadat ʼn hofbevel vroeër vandeesmaand verkry is, is daar vanoggend voortgegaan om munisipale verordeninge in die omgewing van die Sentrale Metodistekerk in die middestad af te dwing, het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

Ingevolge die bevel was daar ʼn sewe dae lange proses om die identiteit van elkeen wat sedert Oktober verlede jaar daar plak, na te gaan. Dié proses het Vrydag geëindig.

(Foto: David Ritchie/ANA)

“Die vlugtelinge is ingelig oor die voorwaardes in die bevel en weet nou al langer as tien dae dat die operasie uitgevoer gaan word. Die stad, in samewerking met die polisie en die Sentrale Stadsverbeteringsdistrik, het vanoggend inbeweeg om ʼn einde te bring aan wat ʼn onhoudbare situasie geword het,” het Smith gesê.

“Ons het ʼn groot getal wetstoepassers ontplooi om te keer dat geweld uitbreek. Die Stad Kaapstad is nie ongevoelig jeens die vlugtelinge se lot nie, maar ons kan ook nie toelaat dat die situasie buite beheer voortduur nie. Dit het ʼn beduidende uitwerking op omliggende sakeondernemings, onder wie handelaars op Groentemarkplein, gehad.

“Gegewe die groot nood onder Suid-Afrikaners is ons ook nie in ʼn posisie om noodbehuising aan die groep te verskaf nie, om nie eens te praat van die presedent wat dit sal skep nie.”

Kaapstad het ‘n hofbevel bekom wat hom toelaat om die vlugtelinge te laat verwyder. (Foto: David Ritchie/ANA)

Die stad het ʼn beroep op vlugtelinge gedoen om terug te keer na die huise waarin hulle vantevore gebly het.

“Dit is nie wetlik of prakties moontlik om verblyf te verskaf nie en geen ander regeringsinstellings het daartoe ingestem nie.”

Sommige vlugtelinge het Groentemarkplein verlaat. Wetstoepassers hou dop waarheen hulle gaan en sal optree indien nodig. Ingevolge die hofbevel mag die vlugtelinge ook nie op enige ander plek in die middestad gaan plak nie. Dit sal ʼn minagting van die hofbevel wees indien hulle dit doen.

“Ons nooi sakeondernemings en lede van die publiek om na Groentemarkplein terug te keer en ons te help om die gebied te laat herleef,” het Smith gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter J ·

Hulle moes in die eerste plek nooit in die land toegelaat gewees het nie.

Sean ·

Watse vlugtelinge???? Dis n spul wat te sleg is om te werk en nou gesorg wil word deur die regering

Anoniem ·

Korrek, hulle wil onder die dekmantel van politieke asiel op ons teer.

J ·

Stem saam!

Hulle is geen vlugtelinge nie … hulle is PLAKKERS wat prima grond beset het … en baie lank daarmee weggekom het. Die Rooimiere moes hulle reeds op dag een van hulle besetting van die strate, reggesien het.

Wie infiltreer ‘n vreemde land en oortree daardie land se wette met minagting … teister selfs die besighede en owerhede … en eis om na Kanada vervoer te word … en kom daarmee weg? Kansvatters!

Wie vlug in elk geval na SA toe waar 20 000 mense per jaar GEWELDDADIG sterf … ? Waarvan kan jy uit jou land wegvlug, wat erger is as dit?

marius ·

Waarom dra die polisie maskers ? Die mrk gaan hulle bykom !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.