Fratsongeluk eis pa, jare ná seun se dood

Jaco Bamberger, ʼn bekende boer van Ottosdal, is Vrydag dood langs sy bakkie aangetref. (Foto: Facebook / Hoërskool Klerksdorp (KHS))

Jaco Bamberger (56), ’n bekende boer van Witfontein in die Ottosdal-omgewing, Noordwes, is Vrydag dood langs sy Toyota Hilux-bakkie aangetref nadat ʼn geweer per ongeluk afgevuur is.

Bronne na aan die gesin, wat verkies om anoniem te bly, het aan Maroela Media gesê dit was ʼn fratsongeluk, wat gebeur het nadat Bamberger glo vlakvarke gaan jag het.

Bamberger se dood kom sowat sewe jaar ná sy seun, Barnie (21), ook in ʼn tragiese fratsongeluk tydens ʼn jaguitstappe doodgeskiet is.

Die familie kon egter nie vir kommentaar bereik word nie.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê die voorval word tans deur die polisie ondersoek en dat hulle nog nie seker is wat presies gebeur het nie.

Volgens Tselanyane het Bamberger sy huis omstreeks 07:00 verlaat en om 09:00 teruggekeer.

“Oomblikke nadat hy by die huis aangekom het, het sy vrou – wat in die huis was – ʼn harde geluid buite gehoor. Toe sy uithardloop om ondersoek in te stel, het sy die oorledene op die grond langs sy voertuig aan die bestuurderskant aangetref.

“ʼn Jaggeweer, 223‑REM, was steeds in die bakkie. Die loop het in die rigting gewys van waar die oorledene geval het.”

Bamberger is op die toneel dood verklaar nadat die polisie en nooddienswerkers ontbied is.

Roerende huldeblyke het intussen vir hom op sosiale media ingestroom.

Petroné Giovannoni het in ʼn inskrywing op Facebook gesê sy sal Bamberger se “gelukkige teenwoordigheid en terggees” vir altyd onthou.

“Rus sag oom Jaco, die hemel het vandag ’n gróót legende ryker geword en die Ottosdal gemeenskap het ’n reuse boom verloor. Ons sal nooit oom se tasbare gelukkige teenwoordigheid en terggees vergeet nie! Mag Jesus vir almal vertroosting bring [sic].”

Juan Kleu skryf dat Bamberger ’n regte “mense mens” was.

“Oom Jaco, die stories en wysheid van die lewe wat ek by oom kon wys raak sal my nooit verlaat nie. Ai oom, jy los ons almal se harte leeg, maar met kosbare tye [sic].”

Nog ’n gebruiker, Dominique Spencer, sê Bamberger laat hulle met net goeie herinneringe agter.

“Die Hemel versamel al die beste mense wat vir ons geleen was. Oom Jaco, hoe gelukkig was ons nie om soooo awesome mens te kon leer ken het nie. Daar is NET goeie herinneringe wat vir altyd by ons sal bly [sic].”

“Oom het diep spore getrap oral waar oom gaan. Dankie vir al die lag en al die Jaggies [Jaggermeister]. Baie lief vir oom. Die dag as jy iemand se lewe beter maak is ’n goeie dag en oom het dit elke dag gedoen,” skryf Loelie Kotzé op haar Facebook-blad.

Die Hoërskool Klerksdorp het ook Bamberger se afsterwe op hulle Facebook-blad betreur.

“Klerksdorp Hoërskool (KHS) het een van sy lojaalste ondersteuners verloor. Jaco Bamberger het diep spore by KHS getrap. Hy was baie betrokke en het enorme take verrig as beheerliggaamlid en by KHS se Ondersteunersklub. Elize en Jaco jnr, KHS treur saam met julle oor ons groot verlies,” het die skool by ’n foto van Bamberger geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cecilia ·

Sterkte aan die familie mag GOD elke oomblik saam julle wandel in die hartseer tyd.

Skappie ·

Sterktte aan die gesin, en vriende van Jaco. Mag onse Liewe Heer julle almal styf vashou in hierdie moeilike tyd.

Petrus ·

Baie tragies. Nou het die Moeder van die seun en eggenote van die man, ‘n dubbele tragedie om te verwerk. Mag God jou troos en styf teen Hom vastrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.