Gastenkwa-bestuurder in hegtenis geneem

Die brug waar die ontploffing plaasgevind het. (Foto: Twitter)

Die 32-jarige bestuurder van die gastenkwa wat Saterdag in Boksburg aan die Oos-Rand ontplof het, is in hegtenis geneem.

Volgens brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, is die bestuurder in ’n private hospitaal – waar hy mediese behandeling vir geringe beserings ontvang het – opgespoor en in boeie geslaan.

“Die verdagte is in hegtenis geneem op aanklagte van strafbare manslag, nalatigheid wat ’n ontploffing veroorsaak en tot die dood van talle mense gelei het, asook saakbeskadiging,” bevestig Muridili.

“Hy sal na verwagting Woensdag in die landdroshof in Boksburg verskyn.”

Maroela Media het vroeër berig die ontploffing het minstens 15 mense se lewens geëis, insluitend ’n tienjarige seun. Drie personeellede van die nabygeleë Tambo-gedenkhospitaal – waarvan gedeeltes ook tydens die ontploffing in die slag gebly het – is onder diegene wat in die voorval omgekom het.

Altesaam 24 pasiënte en 13 personeellede wat ten tyde van die ontploffing in die hospitaal se ongevalle-eenheid was, is in die ontploffing beseer.

Volgens Muridili sal die volle omvang van die skade aan infrastruktuur sowel as private eiendom mettertyd bekendgemaak word.

“Die toneel word nog opgeruim.”

Infinite Transport, die vervoermaatskappy wat die vragmotor besit, het Sondag gesê die direkteurs en bestuurspan van die maatskappy werk nou saam met die onderskeie owerhede en onafhanklike ondersoekers om al die feite rakende die voorval te ondersoek.

ʼn Finale verslag sal saamgestel word sodra die ondersoek afgehandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.