Gasvryheidsbedryf verwelkom besluit oor inperking

(Foto: Dept. van toerisme)

Die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) het die aankondiging – dat Suid-Afrika op ʼn aangepaste vlak 1 van die inperkingsregulasies bly – verwelkom.

Die organisasie sê verdere beperkings sou die skade wat deur die Verenigde Koninkryk (VK) se rooilys aangerig is, selfs verder vererger het.

Die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, het Donderdag gesê die land bly in dié stadium op aangepaste vlak 1, terwyl die toename in Covid-19-infeksies, hospitaalopnames, sterftes en die herstelkoers wat hoofsaaklik deur die Omikron-variant veroorsaak word en bydra tot die vierde vlaag in die land, fyn dopgehou word.

“Dit is besonder goeie nuus vir ons toerisme- en gasvryheidsbedryf,” sê Rosemary Anderson, voorsitter van Fedhasa.

Die besluit kom te midde van ʼn vierde vlaag infeksies wat hoofsaaklik deur die Omikron-variant veroorsaak word.

Fedhasa het ook die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu, bedank vir die rol wat sy gespeel het om die belang van die toerisme- en gasvryheidsbedryf tydens regeringsamesprekings te verteenwoordig.

“Dit was ʼn goeie week vir ons toerisme- en gasvryheidsbedryf. Nie net gaan die skrap van die VK se rooilys die grondslag wees waarop ons kan herbou nie, ons is ook verlig dat bykomende maatreëls nie plaaslik ingestel is wat reise tydens een van ons besigste tye sou belemmer nie.”

Anderson sê Fedhasa hoop dat die uitwerking van die Omikron-variant op hospitaalopnames en sterftes laag bly sodat die ekonomie oop kan bly en werksgeleenthede en inkomstes behou kan word.

Fedhasa het ook ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hulle teen Covid-19 te laat inent.

Anderson sê die organisasie hoop dat ʼn balans dié feestyd gevind kan word.

“Ons wil hê ons burgers moet veilig en verantwoordelik leef, asook kosbare tyd saam met hul geliefdes kan deurbring. Ons hoop ook dat 2022 meer bestendigheid inhou vir werkers in die toerisme- en gasvryheidsbedryf, wat die grootste las van die beperkings wat sedert Maart verlede jaar ingestel is, moes dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Wat dan nou van die ANC se plan om wit mense te straf vir apartheid deur hulle van hulle tradisionele “vakansie by die see” te ontneem en om die Wes-Kaap se strande te sluit omdat meeste kiesers daar vir “die rassistiese DA” stem? Sien die ANC nou “die lig”, of is dié toegewing van op vlak 1 van inperking bly net ‘n stilte voor die storm? Onthou net, tydens die Tweede Wêreldoorlog het Stalin ophou om die Russiese kerke te vervolg. Hy het selfs ooreenkomste met hulle gesluit. ALLES is kort na die oorlog verbreek.

Sarel ·

Vertrou sommige van die ” Gasvryheid” bedrywe
sal nie nou weer Plasslike toeriste uitbuit om.op te maak vir gebrek aan Buitelandse Toeriste nie

ES ·

Toemaar die VK het self nou ‘n raps oor die vingers gekry aangesien Frankryk besluit het om alle vlugte van en na die VK te verbied a.g.v. die Omikron variant.

Deurmekaarhaar-Boris sit seker nou met sy hande in sy hare…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.