Gaza: Wêreld kan nie sê hy het ‘nie geweet’ – Ramaphosa

Lede van die Israelse weermag in die Gaza-strook. (Foto: Israelse weermag/AFP)

“Niemand kan sê hulle het nie geweet wat in Gaza gebeur nie, want anders as in Rwanda in 1994, word die vergrype uitgesaai, daar word daaroor geskryf, getwiet en regstreekse uitsendings gedoen,” skryf pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief.

“Dit is nou byna ses maande sedert Israel ʼn veldtog van geweld op die mense van Gaza losgelaat het in reaksie op die gruweldade wat Hamas gepleeg het. Meer as 32 000 inwoners van Gaza is dood. Volgens die VN se Kinderfonds is nagenoeg 13 000 van die slagoffers kinders. Nie eens burgerlikes, diegene wat nie veg nie, vroue, mense met gestremdhede, joernaliste en noodlenigingswerkers word gespaar nie,” sê Ramaphosa.

Suid-Afrika het verlede jaar regstappe teen Israel in die Internasionale Strafhof in Den Haag van stapel gestuur oor die land se skending van die Volksmoordkonvensie weens sy optrede in Gaza. Die hof het ʼn stel maatreëls neergelê wat Israel moet nakom om enige vorm van volksmoord te help verhoed.

“In weerwil van hierdie wetlik bindende bevel, het Israel sy geweld teen die inwoners van Gaza verskerp. Hongersnood staar hulle nou ook in die gesig omdat die lewering van noodhulp voortdurend onderbreek word. Dit sluit in die dood van vrywilligers en humanitêre werkers,” sê Ramaphosa.

Mans in die stad Khan Yunis in Gaza stap langs ‘n karretjie met hout en rommel wat hulle in die puin van die stad versamel het. (Foto: AFP)

Die hof het verlede week bykomende maatreëls opgelê om te verseker basiese dienste en humanitêre hulp bereik inwoners van Gaza. “Die hof het Suid-Afrika se betoog aanvaar dat, teenstrydig met wat Israel aanvoer, die VN-agentskappe nie gehelp word om noodlenigingshulp tot in Gaza te kry nie.”

Ramaphosa verwys in sy nuusbrief na die volksmoord 30 jaar gelede in Rwanda, toe sowat ʼn miljoen mense binne 100 dae in ʼn georkestreerde veldtog van geweld uitgemoor is.

“Die Rwanda-volksmoord was een van die donkerste hoofstukke in die mens se geskiedenis. Dit was ʼn gruweldaad wat ontvou het terwyl die wêreld toegekyk en versuim het om op te tree. Daar was weinig ingryping van die internasionale gemeenskap,” sê die president.

Ondanks waarskuwings van die VN in Rwanda dat ʼn massamoord op Tutsi’s beplan word, het die VN se vredesmagte versuim om die moorde te verhoed en aangevoer hul mandaat is beperk en dat hulle nie die gesag het om in te gryp nie.

“Vredesoldate is eerder aangesê om te konsentreer op die verwydering van buitelanders desperaat om landuit te vlug.”

Die eerste groot slagting in Rwanda was by ʼn skool in Kigali, wat aanvanklik deur VN-vredesmagte bewaak is. Ure nadat dié troepe onttrek is, het die gevreesde milisiebendes die gebou bestorm en 2 000 mense in die skool doodgemaak. Hulle het daar geskuil in die hoop dat die VN hulle sou beskerm.

“Verskeie Westerse lande, waarvan sommige in daardie stadium in Rwanda teenwoordig was, sou later sê hulle was nie bewus van die omvang van die moorde nie.

“Dertig jaar later kan geen land of internasionale liggaam sê ‘ons het nie geweet nie’ en dit gebruik as ʼn verweer of ʼn regverdiging vir versuim om op te tree.

“Die aanvang van 24-uur-nuuskanale, die vermeerdering van sosiale en gemeenskapsmedia en die spoed waarteen inligting in die digitale era versprei word, maak dit byna onmoontlik vir grootskaalse wandade om in die geheim gepleeg te word.”

Die woorde “nooit weer nie” is by talle Rwandese volksmoordgedenkterreine te sien. Weens dié verbintenis om nooit weer gruweldade van hierdie aard toe te laat nie, kan die wêreld “nie toekyk hoe nog ʼn volksmoord gepleeg word nie, hierdie keer teen die mense van Palestina in die beleërde Gaza-strook”, sê Ramaphosa.

Die president sê die gruweldade in Rwanda het “nie net gebeur nie, maar is toegelaat om te gebeur in die aangesig van gevoellose traak-my-nie-agtigheid deur die internasionale gemeenskap”.

Etlike dekades later is die Rwandese mense om verskoning gevra vir die internasionale gemeenskap se versuim om in te gryp terwyl die moorde gepleeg is.

“Nes dit te laat was vir die familielede van diegene wat in die Rwanda-volksmoord dood, is verskonings vir vandag se volksmoordslagoffers ook te min, te laat.

“Dit mag nooit wees nie en moet nooit wees nie dat gruweldade, growwe menseregteskendings en volksmoord minder gewig dra weens die ras, etnisiteit of geloof van die slagoffers nie.

“Ons is dit aan die slagoffers van al die wêreld se volksmoorde verskuldig om nie hul nagedagtenis te verraai deur weg te kyk, te versuim om in te gryp – of die ergste van alles – te maak of ons nie geweet het nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jacobus ·

Edel woorde om jou die vernietigings tog deur Suid-Afrika te verberg. En onthou aan jou vriende sal jy geken word.

Michael ·

Dit is dieselfde item wat gesê het daar is nie plaasmoorde in Suid-Afrika nie.

JohanR ·

Ja ou Siener van Ramaphosa. 94 mense vermoor in die Wes-Kaap in drie dae, en waar is jou wonderlike Minister van Poilsie? Seker nog hierdie week sal daar maar soos gewoonlik ‘n plaas moord wees. Maar omdat dit wit mense sal wees sal jy nie ‘n damn omgee nie!

JohanEtz ·

CR spoel graag sy mond uit oor ander se sake – sy eie land is al lankal aan die brand, 90+ moorde/verkragtings per dag, word verwoes en geplunder! Daaroor swyg hy??

Amelia ·

En met meer as 75 moorde per dag wat is dit ook nie volksmoord nie en ons is nie eers in oorlog nie Maar rampie hoekom het jy nie met Rwanda ingegryp nie nou is dit weer ander wat moes ingryp en hoekom los ons nie ander lande uit en kyk na ons eie nie Kom ons praat dan ook oor Rusland aangesien ons nou op onderwerp is Ishamas wat Isreal ingeval het nee wat daar is nie verskoning vir dit nie

Tewis ·

Julle bly hammer op Israel maar van jul maatjies wat hierdie begin het en agter vroue & kinders wegkruip rep jy nie ń woord nie.
VERDUIDELIK ASSEBLIEF???

Ore ·

Hy wat Rampposa is kan nie iets sê sonder apartheid te noem nie. Die hele wêreld weet mnr, hulle weet dat Hamas begin het en dat niemand hulle aanspreek oor die gyselaars nie. Het die ANC al die slagting van die konsertgangers veroordeel? Die verminking van mense wat ook uitgesaai is? U erken die “gruweldade” van Hamas maar verder is julle doodstil. Soos vele lesers al opmerk, hoeveel moorde per dag in SA?

Jan Jacobs ·

Daar is 50miljoen mense in suid afrika, daar word dagliks 97 vermoor. Gaza se populasie is 800 duisend, daar word daagliks 200 vroue en kinders vermoor.

Delia ·

Ja Cyril, jy kan ook nie sê jy het nie geweet nie, …..wat in ons land aangaan nie.!!!

Anel ·

CR, weet jy ooit wat in jou eie land aangaan? Maar nou ja, wat kan mens van terroriste organisasie verwag? Altyd die slagoffer!!! Bly in die verlede. Ken nie van toekoms nie!!!

Lettie ·

Ag asb. Is daar nie ‘n moontlikheid sat ‘n weeklikse nuusbrief aan die die President gestuur word om sy aandag te vestig oo die terreur en menseslagting in SA nie? Nietemin dankie aan MM. Nou weet ons ook hoe dit ookal sy. So moedeloos.

Martie Smartie ·

@Jan Jacobs. Net ‘n vraag of 2 mnr. Waar kom jou syfers vandaan dat daagliks 200 vermoor word in Gaza? Gee asb betroubare bronne. Nie die Palestynse owerheid nie, maar betroubare bronne. En die amptelike stats in SA toon nie dat daar 97 mense vermoor word nie. Kyk asb die SAPS webblad en deel die totale moordsyfer per jaar deur 365 dae. As ek google, sien ek dat Gaza strook in 2023 sowat 2.1 miljoen inwoners gehad het. Jou syfers is bietjie nie lekker nie mnr.

George ·

Jan Jacobs, gedink teen die tyd kan julle onderskei en dat sulke vergelykings glad nie werk nie.

Janine ·

Ons eie land is in stille oorlog…. Geen opinie van enige parlementslid……

FBS ·

Dit is so maklik om die aandag van jouself af te neem as jy hart genoeg skree en aander blameer en voorhou. Ai as ons maar net geweet het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.