Gebaretaal gou (amptelik) amptelike taal

Foto bloot ter illustrasie. (Skermskoot / Youtube)

Gebaretaal sal binnekort amptelik as Suid-Afrika se 12de amptelike taal deur die land se Grondwet erken word.

Dít volg ná ʼn eenparige stem om artikel 6 van die Grondwet te wysig om Suid-Afrikaanse Gebaretaal by die amptelike landstale in te sluit.

Pres. Cyril Ramaphosa moet die wysigingswetsontwerp bekragtig, waarna dit nog een van die land se amptelike tale sal wees.

“Dis ’n belangrike mylpaal wat die regte van dowe persone se toegang tot gehalte-inligting en dienste herbevestig,” het die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) Woensdag gesê.

“Die uitsluiting van die dowe gemeenskap in ons samelewing het ’n negatiewe uitwerking gehad op hul vermoë om aktiewe deelnemers in hul gemeenskappe te wees. Daarom, terwyl ons hierdie groot mylpaal in die geskiedenis van ons land vier, moet ons ook fokus op die doeltreffende instelling en insluiting van Suid-Afrikaanse Gebaretaal in ons taalbeleide en -praktyke deur die aanvaarding van kruis-sektorale beleide en programme om aan die behoeftes van die dowe gemeenskap te voldoen.”

PanSAT sê die Suid-Afrikaanse Gebaretaalhandves (SAGT-handves) verskaf ’n bloudruk wat nie net met die bevordering van die dowe gemeenskap se toegang tot gehalte-inligting help nie, maar wat ook die doeltreffende beskerming van dié gemeenskap se linguistiese regte verseker op ’n wyse wat billik en hoflik is.

“Dit is ’n waterskeidingsoomblik vir die dowe gemeenskap. As PanSAT verwelkom ons hierdie groot stap in die bevestiging van dowes se linguistiese regte en ons doen ʼn beroep op staatsdepartemente en die breë samelewing om te verseker dat dit nie bloot net ’n stuk wetgewing is wat opsy geskuif word nie,” het Lance Schultz, PanSAT se uitvoerende hoof, gesê.

“Ons moet verseker dat daar voldoende hulpbronne aan die implementering daarvan toegewys word, om te verseker dat ons die dowe gemeenskap se toegang tot gehalte-inligting en dienste verbeter.

Hy sê ook dat die erkenning van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as ’n amptelike taal bydra tot die bewusmaking dat Suid-Afrikaanse Gebaretaal ’n “volwaardige taal is met sy eie afsonderlike grammatikale strukture en leksikon wat onafhanklik van enige ander taal en inheems aan Suid-Afrika is”. Volgens Schultz is dit ook ʼn belangrike element van Suid-Afrika se linguistiese en kulturele erfenis.

Maak dit ‘meer as net ’n gebaar’

Die Vryheidsfront Plus sê hoewel die erkenning van gebaretaal beslis ʼn stap in die regte rigting is om dowes te bemagtig, moet dié nuwe wetgewing meer as “net ʼn gebaar” wees.

“Dit is belangrik om werklike uitvoering te gee aan die amptelike status van die taal en dit nie, soos die ander landstale, ondergeskik aan Engels te stel nie,” het Heloïse Denner, die VF Plus se woordvoerder oor kuns en kultuur, gesê.

“Om bloot ’n taal in die Grondwet te erken, is ’n leë gebaar. In praktyk ervaar Suid-Afrikaners dat daar eintlik net een amptelike taal is. Hierdie ervaring begin reeds op junior skoolvlak waar moedertaal-onderrig ondergeskik gestel word aan Engels, tot op universiteitsvlak waar Afrikaans selfs aktief ondermyn word in die naam van inklusiwiteit.”

Denner sê ná bykans 30 jaar van demokrasie is geen vordering gemaak om al die amptelike tale meer toeganklik te maak op skoolvlak nie.

“By die Universiteit Stellenbosch (US) is Afrikaanse studente die afgelope jare selfs deur medestudente verbied om hul eie taal in private gesprekke te gebruik.

“Elke Suid-Afrikaner moet die geleentheid gegun word om op skool en elke openbare platform die taal te praat wat hulle ken en lief het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

sterk soos n beer ·

dit sal vir gehoorgestremdes ook help om met horendes te kan kommunikeer.. dit sal goed wees as horendes gebaretaal kan aanleer onthou hoe ouer ons word hoe dower word ons

Chris ·

Goeie idee want ek verstaan of glo in elk geval niks wat uit sy mond kom nie. Gebaretaal sal na verwagting in elk geval gou in gebrabbel taal verander. Enige taal sal help om ons net te laat verstaan of die mense die waarheid praat of nie.

Dr Pieter ·

Dit is ‘n wonderlike stap vorentoe.

Ons dowes het egter ‘n ander (net so groot, of selfs groter?) probleem. Bykans ALLE sake word deesdae per selfoon gedoen, van banksake, tot vliegtuigbesprekings, en selfs koerierdienste. As jy doof is, kan jy nie ‘n selfoon gebruik nie.

Ek het ‘n voltydse stryd met besighede wat nie kan verstaan dat ek hulle nie kan bel nie. Die kroonjuweel van antwoorde toe ek per epos laat weet ek kan nie bel nie want ek is doof? “Geen probleem nie, ons sal jou bel.”

Ons het baie groter bewustheid nodig van die uitdagings wat dowe mense elke dag moet oorkom. Ons gestremdheid nie sigbaar is nie. Omdat ek nie met ‘n monotoon praat nie en daar nie sigbare tekens is nie, is daar GEEN tegemoetkoming of hulp nie. Ek liplees, maar mense kyk nie vir ons nie. As ek sê ek kan nie hoor nie, draai hulle dikwels weg of praat met die persoon langs my asof ek nie bestaan nie.

Wit Leeu ·

Wat ‘n klompe snert ! Sort eerder die land uit jou gemors !

TruthDealer ·

Ag nee man, dis nou nie mooi nie. Hierdie is darem een goeie ding wat die ANC doen en dit het geen verbintenis met hoe hulle alles anders opvoeter nie. Gun dowe mense darem n bietjie makliker lewe.

annie ·

Hoe baie mense in ons land is werklik doof? Diegene wat die landsekonomie moet groei moet nie dmv welsynsaksies teruggehou word nie.

Valhz ·

Ek het die voorreg gehad om ‘n boekie, geskryf deur ‘n dowe vrou, se taalversorging te hanteer. Dit het ‘n hele nuwe wêreld vir my oopgemaak. Hierdie vrou, tesame met haar twee pragtige dogters en vele ander het ‘n reuse bydrae gelewer on Gebaretaal as 12e amptelike landstaal erken te kry. Ek is verheug our dié nuus.

Nico ·

Daar kan ook leuens vertel word aan die gestremdes wat nie deur gewone mens verstaan word nie. Dit sê ek alle respek teenoor die gehoor gestremdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.