Gedenkdiens vir drie wat in Windhoek-vliegongeluk sterf

(Foto: Facebook/Kanaal 7)

Die Namibiese lugredery Westair Aviation het vandeesweek ʼn gedenkdiens vir die drie werknemers gehou wat Vrydag in ʼn vliegongeluk in Windhoek dood is.

Maroela Media het vroeër berig die vliegtuig, ʼn Westair AF406, het op ʼn instandhoudingstoetsvlug met twee vlieëniers en ʼn werktuigkundige aan boord van die Eros-lughawe vertrek voordat dit kort ná opstyging in Rieckmannstraat in Pioneers Park neergestort en aan die brand geslaan het.

Die twee vlieëniers, Rozanne De Beer-Olivier (33) en Ruan van Schalkwyk (24), asook die werktuigkundige, Andre-Armand Lubbe (25) is vermoedelik op slag dood.

“Ons het drie uiters geliefde lede van ons span in hierdie tragiese voorval verloor,” lui ʼn verklaring van die lugredery na afloop van Woensdag se gedenkdiens.

“Vrydag se gebeure het ons almal platgeslaan. Ons betuig ons innige meegevoel met almal wat deur hierdie tragiese verlies geraak is. Rozanne, Ruan en Armand sal baie gemis word.”

(Foto: Facebook/Kanaal 7)

Die lugredery sê hy is dankbaar vir die publiek se volgehoue ​​ondersteuning en boodskappe van meegevoel.

“Hierdie uitdrukkings van simpatie was ʼn bron van vertroosting in hierdie moeilike tyd en ons verbind ons daartoe om hierdie sentimente aan die families van die oorledenes oor te dra.”

Westair het verder sy waardering aan al die nooddienspersoneel “wat spoedig en professioneel” op die voorval gereageer het te kenne gegee.

“Die toewyding en kundigheid waarmee nooddienste die ongelukstoneel hanteer het, was van onskatbare waarde gedurende hierdie kritieke oomblikke. Ons is baie dankbaar vir hul volgehoue pogings en die deernis wat hulle in hierdie uitdagende omstandighede aan die dag gelê het.”

Westair het alle betrokkenes verseker dat hy verbind is tot enige bystand en ondersteuning in alle ondersoeke in samewerking met lugvaartveiligheidskundiges en die relevante owerhede.

“Ons sal verseker dat alle nodige stappe gedoen word om die oorsaak van die voorval te bepaal en te voorkom dat so iets weer gebeur.”

(Foto: Facebook/Kanaal 7)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JOHN ·

Ai tog, so hartseer. Mag die Here julle bystaan in oomblik van hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.