Geen beloftes oor “manna uit die hemel” nie

Dr. Mamphela Ramphele van Agang SA beskou die mislukte vennootskap met die DA as 'n bedekte seën.

Dr. Mamphela Ramphele van Agang SA beskou die mislukte vennootskap met die DA as ‘n bedekte seën.

Dr. Mamphela Ramphele, leier van Agang SA, het Vrydag aan verslaggewers gesê die mislukte vennootskap tussen die DA en Agang SA was ʼn bedekte seën, want dit het haar party “sterker, wyser en meer gefokus” gemaak.

Ramphele het Vrydag in Braamfontein by dié party se hoofkantoor met die verslaggewers vergader. “Ek glo in elke geval nie daar is iets soos slegte publisiteit nie, almal weet nou wie Agang is, selfs in die uithoeke van die land,” het sy gesê. “Ek skroom nie om my foute te erken nie, maar nie een van die party se senior lede, soos beweer is, het die party verlaat as gevolg van die mislukte vennootskap nie.”

Sy sê Agang SA is Suid-Afrikaners se party. “Ons gaan stemme werf veral onder vroue en jongmense, en die mense wat gemarginaliseer en vergete voel. Ons gaan die 13 miljoen Suid-Afrikaners, wat nie in die vorige verkiesing gestem het nie, oortuig om vir ons te stem,” het sy bygevoeg.

Volgens Ramphele is die party anders omdat hulle kiesers nie “manna uit die hemel” belowe nie. “Suid-Afrikaners moet hulle moue oprol en self aan die werk spring om die land te bou waarin hulle wil lewe. Agang SA sal hom beywer vir ʼn regering wat sal hou by die basiese beginsels wat landsburgers in staat sal stel om dit te kan doen. Dit is juis Suid-Afrika se afhanklikheid van staatshulp wat ons tot dusver teruggehou het,” het sy gesê.

Agang SA sal ondermeer fokus op die bemagtiging van landsburgers deur op gehalte onderwys en opleiding te konsentreer. Sy is oortuig dat kinders van graad 0 tot op tersiêre vlak gratis onderwys kan ontvang. “Ons weet dat entrepreneurskap een van die boublokke van die Suid-Afrikaanse ekonomie is, en dit kan help met werkskepping, maar slegs wanneer burokratiese rompslomp vir plaaslike en internasionale entrepreneurs verminder word.”

Sy sê die party sal ook poog om ʼn doeltreffende regering te skep wat die privaatsektor sal ondersteun om werksgeleenthede te skep. “ʼn Regering moet sorg vir ʼn veilige, stabiele land met voldoende infrastruktuur wat Suid-Afrika aantreklik maak vir beleggers van oraloor.”

Op die vraag of Ramphele enige voorspelling kan waag oor hoe haar party in die komende verkiesing sal vaar, het sy geantwoord: “Dit sal dom wees om só antwoord tans te waag. Ek kan julle egter verseker dat Agang SA tans hard aan die werk is om ʼn daadwerklike stem vir minderhede soos vroue en jongmense te wees in die parlement.”

Agang SA sal die party se verkiesingsmanifes en lys van kandidate op 8 Maart by die Akani-sentrum in Diepsloot bekend maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anita ·

Hierdie was uit en uit ‘n strik gestel vir die DA en Zille dans daarin. Sy moes beter geweet het, maar aangesien ons soveel verwaarlosing in ons woonbuurte ervaar, en geen huise ontvang vir die afstammelinge van die eerste bewooners in die Kaap, wou Zille die aandag wegneem. Die DA is net soos die ander groot party net praat…praaat..en skandes maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.