Geen besoeke aan tronke weens Covid-19

Argieffoto (Foto: Ichigo121212/Pixabay)

Die departement van korrektiewe dienste het Maandag aangekondig dat besoektye by die land se 243 korrektiewe sentrums opgeskort word. Dit volg ná afloop van pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die land terugskuif na vlak 3 van die afsonderingsregulasies.

Sechaba Mphahlele, woordvoerder van die departement, sê dié besluit is geneem om gevangenes en korrektiewe beamptes te beskerm sodat hulle nie die koronavirus opdoen nie.

Die departement het Sondag altesaam 256 nuwe gevalle van Covid-19 in korrektiewe sentrums aangemeld. Van dié gevalle is 224 korrektiewe beamptes en 33 gevangenes.

Dit bring die getal positiewe Covid-19-gevalle by korrektiewe dienste tot dusver op 12 202, onder wie 7 711 beamptes en 4 491 gevangenes, te staan.

Altesaam 180 beamptes en 78 gevangenes by sentrums landwyd het reeds aan Covid-19 omgekom.

“Die departement het beperkings ingestel en voldoen streng aan alle regulasies om die verspreiding van die koronavirus te bekamp,” sê Mphahlele.

Gevangenes se regsverteenwoordigers kan steeds kliënte onder streng voorwaardes besoek. Hulle moet ook vooraf reëlings vir besoeke tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kanjynoumeer ·

Moontlik sal hulle nou eers besef wat die woord “tronk” beteken”.

Anel ·

Wat ek nie verstaan nie, net soos by hospitale, die werkers, meeste uit “town ships” kan kom en gaan soos hulle wil. Maar familie word vehoed. Nou val die virus net familie aan? Vra maar net, want ek verstaan nie doel nie.

Hennie ·

Dis reg, beskerm ons arme ou misdadegertjies, shame man, wie wil nou hê hulle moet ‘n saai lewe ly? Hulle is so kosbaar vir die samelewing…”het nog niemand gesê nie!”

Elinette ·

My liewe land, julle kan maar besoeke opskort soveel julle wil – dis nie die gevangenes se besoekers wat die virus in die tronke inbring nie; dit is die personeel!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.