‘Geen bewyse’ van terreurbedreiging

(Argieffoto: Gauteng.net)

Die Suid-Afrikaanse regering het ʼn waarskuwing van die Amerikaanse ambassade in die land oor ʼn moontlike terreuraanval in Sandton in Johannesburg, verwerp en sê geen bewyse hiervoor is tot dusver verskaf nie.

Die Amerikaanse ambassade in Johannesburg het Woensdag die waarskuwing oor ʼn aanval wat glo Saterdag of Sondag kan plaasvind, uitgereik.

Die waarskuwing lui dat inligting ontvang is dat terroriste ʼn aanval op ʼn groot groep mense by ʼn ongespesifiseerde plek in die Sandton-omgewing beplan.

Geen spesifieke besonderhede oor die tyd, metode of teiken is egter bekend nie.

Mondli Gungubele, minister in die presidensie, het aan die SAUK gesê die Suid-Afrikaanse regering het die waarskuwing met die VSA opgevolg en gevra vir bewyse, maar niks is verskaf nie.

“Ek het met my veiligheidseenheid opgevolg. Ek wil uit die staanspoor sê hulle is effens verontrus omdat hulle sê daar is ʼn alarm wat afgaan. Tot nou is dit nie deur enige bewyse gesteun nie,” het Gungubele gesê.

Verskeie kenners het egter reeds gemaan dat die waarskuwing nie ligtelik opgeneem moet word nie.

Die Suid-Afrikaanse staatsveiligheidsdienste het verlede jaar onder skerp kritiek deurgeloop weens sy oënskynlike gebrek aan intelligensie oor die grootskaalse onluste in veral KwaZulu-Natal en Gauteng wat eindelik honderde lewens geëis het en miljarde rande se skade veroorsaak het.

Die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika het op 11 Oktober, ná die moord op ʼn Duitse toeris naby die Numbi-hek van die Krugerwildtuin, ook ʼn waarskuwing aan sy burgers uitgereik om ekstra waaksaam te wees.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die president, het Woensdagaand ook gesê Suid-Afrika neem kennis van die waarskuwing en dat dit “standaard kommunikasie” van die Amerikaanse regering aan sy burgers is.

“Dit is die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte om te verseker dat almal in ons land veilig voel.”

Magwenya sê wetstoepassingsowerhede gaan voort om enige bedreiging vir burgers, die land en Suid-Afrika se soewereiniteit te monitor.

“Bedreigings word deurlopend geassesseer en optrede volg om die veiligheid van almal te verseker. Sou die behoefte ontstaan, sal die Suid-Afrikaanse regering die eerste wees om die publiek oor enige naderende bedreiging in te lig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Pietertjie ·

Terrorisme is relatief, dis moeilik vir een krimineel om ‘n ander uit te snuffel.

Miena ·

Nou ja – die vraag is – Na wie luister mens nou?
Of is dit n geval van “wag en kyk”?

Heinrich ·

Daar is soveel verantwoordelikhede en pligte van die regering in hierdie artikel wat nie tenagekom word nie; dis nie eers snaaks nie!

Jakes ·

Kom nou, is SA in elk geval in staat om n tereuraanval die hoof te bied?

Daniel ·

Veiligheidsmagte waar kom die vandaan daar is dan niks oor nie of die paar wat oor is sal seker fietse gebruik

Nie Verbaas ·

Mondli Gungubele, jy en jou onbevoegdes het soos berig al met die “Zuma” onluste bewys wat julle werklike vermoëns is so verskoon ons as ons geen geloof in jou uitsprake het nie.

Barney ·

Of die bedreiging eg is of nie, ek sou dink die verantwoordelike ding sou wees om dit soos ‘n bomdreigement te hanteer. Neem al die nodige voorsorgmaatreëls en as daar niks gebeur nie verloor jy niks behalwe miskien bietjie tyd en moeite. Maar as daar wel iets gebeur en jy het geen voorsorgmaatreëls getref nie, kan die verlies massief wees.

Rocco ·

Ek luister eerder na die Amerikaners, as na die klomp onbeholpe lot

JohnnyS ·

“Dit is die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte om te verseker dat almal in ons land veilig voel.” – Jammer ek voel nie veilig

Misky ·

Ek dieselfde gedink toe ek daai deel lees. Ek het baie lanklaas veilig gevoel.

ARIZONA ·

Ek het meer geloof in die Amerikaanse intel as in Suid Afrika. Vat maar die verwoestig wat gesaai is toe almal begin plunder het in Julie 2021, en as ek reg kan onthou was die “powers that be” gewaarsku daar kom moeilikheid. Ek bid daar kom niks van die waarskuwing nie maar indien daar wel iets gebeur, hoop ek SA het antwoorde oor hoekom hulle weereens op hulle vingers gesit het,wetende daar kom moeilikheid. SA se mentaliteit is mos daar moet eers iets gebeur dan wil hulle spring en vure doodslaan. Hulle betreur altyd die lewens verlies as die daad klaar gepleeg is.

Andries ·

Die ‘veiligheids-magte’ kan nie eers ons boere beskerm teen die rooi narre nie! Wat nog van ISIS. Dis n baie groot grap

Andries ·

Wees maar paraat om jouself te beskerm as die dag aanbreek, kan nie staatmaak op ons veiligheidsmagte nie

Elma ·

Baie dankie Suid Afrikaanse Veiligheidsmagte. Elke burger, toeris, immigrant voel SUPER “veilig” in hierdie land. Die memo oor watter dreigement ookal gemaak is, lê seker op een of ander “hardwerkende” se lessenaar.

Witbaard ·

Die veiligheidsmagte laat my beslis nie veilig voel nie.

George ·

Ek glo eerder die VSA as SA wat BILJOEN nie kan opspoor nie, waar al ons presidente ex cons is.

Chris dupreez ·

Nou dink julle nou n ander terroriste organisasie gaan vir julle eers bewyse stuur voor hulle die aanval loods. Ai jai jai.

Andries ·

Niks kan geglo word voordat dit nie amptelik ontken is nie.

Johan ·

Toe die hele KZN in anargie ontaard het het ons intelligente Intelligensie Dienste niks daarvan geweet nie. Ook nie ons slim oupa hoof van polisie nie. Die hele provinsie was daarvan bewys want die meeste van hulle was daarby betrokke, maar nie ons briljante regering nie. Ek sal maar daar wegbly as ek julle is..

Harley Davidson ·

Sa se veiligheid magte sal eers ‘n week later weet as daar ‘n terreuraanval binne sy grense was so deurmekaar is die klomp.

A.S ·

Ek glo DEF eerder die VSA as SA, hoekom sal hulle ‘n waarskuwing uit stuur indien daar geen intensies of gevaar is nie?? Wees asb eerder net versigtig en ekstra veilig Johannesburg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.