Geen mediese parool vir Anni Dewani se moordenaar

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

ʼn Man wat skuldig bevind is aan Anni Dewani se moord, se aansoek om mediese parool is afgekeur.

Mthunzi Mhaga, woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die minister het Xolile Mngeni se aansoek van die hand gewys. Mngeni het die aansoek op 11 Junie ingedien. Die adviesraad oor mediese parool het aanbeveel dat Mngeni op mediese parool vrygelaat moet word, nadat hy in 2011 met ʼn breingewas gediagnoseer is.

Die aansoek is na die paroolraad verwys en die aansoek is afgekeur, aangesien daar nie behoorlike reëlings getref is vir Mngeni se toesig, sorg en behandeling in die gemeenskap waar hy vrygelaat sou word nie. “Die minister het versoek dat die maatskaplike werker dringend ʼn omvattende verslag moet verskaf wat die nasorg van die oortreder aanspreek,” het Mhaga bygevoeg. “Ons is van mening dat die gevangenis waar hy tans aangehou word, oor die nodige hulpbronne beskik om hom van die gepaste mediese bystand te voorsien.”

Mngeni is verlede maand in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad opgeneem.

Mngeni en sy medebeskuldigdes Zola Tongo en Mziwamadoda Qwabe is in 2012 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir Dewani se moord. Mngeni is ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede, en tot vyf jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die vonnisse word gelyktydig uitgedien.

Dewani (28) is op 13 November 2010 tydens haar wittebrood in ʼn beplande kaping in Gugulethu doodgeskiet. Haar liggaam is die volgende dag opgespoor. Haar man Shrien is in April uit Engeland aan Suid-Afrika oorgelewer. Hy ondergaan tans sielkundige waarneming by Valkenberg-hospitaal. Hy word aangekla van sameswering om iemand te ontvoer, roof met verswarende omstandighede, moord, ontvoering en dwarsboming van die gereg. Hy kan in Oktober verhoor word indien ʼn mediese paneel hom bevoeg verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

EMK ·

Reg ook so! Hulle wil nie mediese parool toestaan aan wit mense wat al jare in die tronk sit en aan kanker ly, so hulle beter nie vir hierdie Mngeni parool gee nie! Hulle moet konsekwent wees!

job jobson ·

Laat die rot verrot in die tronk. Shrien, pappa wag vir jou en pappa se humeur is kort en hy raak ongeduldig – tronk gesegde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.