Geen stem vir dowes: Strafregstelsel faal slagoffers

Betogers buite die Bishop Lavis-landdroshof. (Foto: Mary-Anne Gontsana)

Dowe Suid-Afrikaners trek aan die kortste ent in die soeke na geregtigheid in die land se howe.

Dié gemeenskap sê hulle word onregverdig deur die strafregstelsel behandel omdat geakkrediteerde gebaretaaltolke ʼn skaarste in hofsittings is.

Die omvang van die probleem is onlangs blootgelê deur ʼn dowe verkragtingslagoffer wat ʼn jaar lank gesukkel het om ʼn vaardige gebaretaaltolk te kry sodat haar saak aangehoor kan word.

Die 45-jarige slagoffer het eindelik Action Society se hulp ingeroep en ʼn jaar ná haar verkragting gaan die beskuldigdes eindelik in die hof verskyn.

Marie Smalberger, direkteur van die Eden Language Academy, sê die akademie het onlangs ʼn tender ingedien deur die Wes-Kaapse departement van justisie om hoftolke op te lei om ook gebaretaaltolke te word.

“Die nasionale tesourie het egter die inisiatief uitgestel, wat die noodsaaklike opleiding belemmer,” sê sy.

“Daar is ʼn opmerklike skaarsheid van gebaretaaltolke in die howe, anders as tolke van ander tale. Dit is ironies dat buitelanders gebruik kan maak van tolke in Suid-Afrikaanse howe, maar hierdie noodsaaklike diens ontbreek vir dowe burgers.”

Chrispin Phiri, woordvoerder van die departement van justisie en korrektiewe dienste, het vroeër gesê dit is nie algemeen om gebaretaaltolke in die hof te hê nie, aangesien daar nie ʼn groot aantal sake is wat so ʼn diens vereis nie.

“Waar die diens benodig word, kan ʼn spesiale reëling getref word. Dit is nie ʼn kwessie van tekorte nie, maar eerder ʼn bevoegdheid om die diens te bekom.”

Smalberger sê dit is hoog tyd dat die regering die taalbehoeftes van die meer as 2,5 miljoen dowe burgers prioritiseer.

“Die sistemiese mislukkings binne die departement van justisie skend nie net die regte van dowes nie, maar belemmer ook toegang tot geregtigheid vir ʼn kwesbare deel van die bevolking.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MJLS ·

Dis ‘n skande aan die “regering” se kant. Gebaretaal is dan nou onlangs ook erken as ‘n amptelike taal van SA.

Rooi rissie ·

Sê sommer die regering faal alle gestremde mense. Doofheid word geklassifiseer as gestremdheid.Wanneer gaan ons almal saam staan om hierdie huidige ANC regering uit die kussings te lig en hulle aan die pen te ry? Hoeveel geliefdes moet ons nog verloor agv die ANC regering se onbekwaamheid?

Karoo ·

Verdomde skande…. “buitelanders” wat net ons land instroom het beter “diens” van die staat as mense van ons eie wat gebare taal gebruik. Hierdie vrou wil mans agter tralies sit, hoe kan ons toelaat dat dit gebeur!!!!!!

Nico ·

Die dowes en blindes het nie daarvoor gevra nie, aanvaar hulle en behandel die mense met respek, of hulle wit, swart, Indiers of bruin mense is, dit is ‘n skande soos die regering hierdie mense behandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.