‘Geen werk, geen betaling’ vir massastakers

(Foto: COSATU Today/Twitter)

Die departement van staatsdiens en administrasie sal optree teen staatsamptenare wat Woensdag aan die massastaking deelneem deur hul betaling te weerhou.

Hoewel die protesoptrede deur die Wet op Arbeidsverhoudinge beskerm word, verbied die departement hierdie amptenare om aan die stakings tydens werksure deel te neem en dienslewering verder te ontwrig.

“Die beginsel van ‘geen werk, geen betaling’ sal geld vir amptenare wat ʼn volle dag, asook deel van ʼn werksdag, misloop weens die stakings. Daarbenewens sal verlof streng bestuur word, en geen verlof sal toegestaan word nie, tensy in uiterste en dwingende situasies,” sê die departement in ʼn verklaring.

Die massastakings wat deur vakbonde, onder meer Saftu en Cosatu, gelei word, sal in ses provinsies geskied. Die stakings hou verband met onder meer sosio-ekonomiese kwessies wat die land tans in die gesig staar.

Die Stad Johannesburg sê hy sal voortgaan met dienslewering, asook die handhawing van die veiligheid van die stad, sy inwoners en besoekers ondanks die massastakings. Hy sê hy verwag dat alle werkers oor die hele stad heen op hul pos sal wees.

Teen Woensdag 08:00 was daar nog nie erge ontwrigtings aangemeld nie, maar sekere stede het voorsorg getref.

Die Johannesburgse metropolisiedepartement (JMPD) en polisie het die situasie reeds van vroeg Woensdagoggend gemonitor en die Tshwane-metropolisie (TMPD) is ook op bystand.

Motoriste in Tshwane is gewaarsku om die volgende strate te vermy: Francis Baard-, Nana Sita-, Vissagie-, Pretorius-, Helen Joseph-, Madiba-, Sisulu-, Du Toit-, Steve Biko- en Hamiltonstraat, asook Nelson Mandelaweg.

Volgens die metropolisie sal vakbondlede vanaf 08:00 by die hoek van Lillian Ngoyi- en Jeff Masemolastraat (Burgerspark) bymekaarkom en van daar af die strate inmarsjeer.

Vakbondlede sal ook na verwagting om 10:00 na die Uniegebou stap.

In Bloemfontein gaan vakbondlede vanaf die Batho-lokasiesaal in Mangaung tot by die kantoor van die premier in die O.R. Tambo-gebou marsjeer.

In Kaapstad sal lede om 08:00 by die Keizersgracht byeenkom en vanaf 10:00 na die departement van minerale hulpbronne en energie, die provinsiale regering en die parlement stap.

Vakbondlede kom ook by die volgende plekke byeen: SABC Park in Polokwane, Broadway in Emalahleni en die Fort Hare-universiteit in die Oos-Kaap. Lede sal vanaf hierdie plekke marsjeer na onderskeidelik die premier se kantoor, Eskompark en die Bhiso-wetgewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

pompies ·

Hahaha Ek het dit vir baie lank gehoor en dit het nooit gebeur dat daar salarisse weerhou is nie, veral nie in die staatsdiens nie. Die hele spul van bo tot onder is in elkgeval aldag heeldag op staking.

Axel ·

No work no pay, maar hulle huil vir werk! Ek word retrench en ek moet vrede maak daarmee. Ai, waarheen gaan ons Suid Afrika?

Drikus ·

Oulike gesprek op Radio, hoekom doen Cosatu nie iets positief, vat ‘n dag af en al sy lede maak Potholes reg nie. Dan help hulle. Of gaan townships toe en maak skoon. Maar nee dis te lekker om af te breek!

George ·

Eenvoudig, daars geen trots nie. Want jy sien, as dit skoon en netjies lyk, kan hulle nie bly teer op hoe sleg hul omstandighede is nie

Kokerboom ·

Iets maak nie sin maar SLEGS vakbonde sal dit verstaan. Jy stap/marsjeer na Uniegebou of staatsgeboue maar al die geboue is leeg want al die werkers staak!!!!???Darem baie intelligente staatsdiensgeboue!!Jy kla en toi toi oor ekonomie maar jy ondermyn dit waaroor jy kla?????

Lourens ·

Hulle is nie eers daagliks op kantoor nie en daar word geen register gehou nie. Amptenare kan vir 2 weke nie opdaag vir werk nie, en dit word nie eers agtergekom nie.
Hierdie is, weereens, bloot ‘n leë dreigement waaraan nooit uitvoering gegee sal word nie. En die rede daarvoor is omdat daar hoegenaamd geen dissipline en werksetiek in die staatsdiens oor is nie.

koos ·

Wat ek nie om’t lewe kan verstaan nie, nou staak hulle, môre stem hulle maar net weer vir die entiteit waaroor hulle gestaak het. Net in Afrika. Cry the beloved country.

marius ·

Daar moet iemand in die kantore le en slaap teen wie daar betoog kan word .

Suzette ·

SPREEK DIE AANWAS AAN!!! – dan kan daar dalk meer werk beskikbaar raak, genoeg kos om monde te voed – as almal saamwerk en ophou afbreek en brand.

George ·

en daan oor more staak hulle weer want hul het nie pay gekry nie

Vonkprop ·

Ag asseblief. Ek het al hierdie fliek gesien. Môre staak hulle weer omdat hulle nie betaal is nie en brand af totdat hulle hulle sin kry. Dan moet ons weer vir die skade betaal, want die publiek hou mos van gee en gee en gee. Hierdie is net leë dreigemente om die publiek te paai.

Witbaard ·

Leë woorde, die regering is te bang vir die stakers. Daar sal geen geld of verlof afgetrek word nie

Pietertjie ·

Hoe onnosel moet ‘n mens wees om betoog teen dít waarvoor jy gestem het??

Johan ·

Is die National Shutdown aan die gang? Is dit veilig om ons huise te verlaat? Vra namens ‘n vriend.

Nierkie ·

Ek weet die publiek het nie veel genade vir ‘n staats-amptenaar nie, veral as dit by salaris verhogings kom. Ons moet mos tevrede wees met ‘n R271 (voor belasting) per maand verhoging, nadat ons vir 3 jaar geen verhogings gekry het nie. Wat moet ek vir my familie sê hoekom daar geld vir absoluut niks is nie? 30 Jaar se getroue diens maar kan nie eers die maand deurkom nie. Ons sit nie almal en slaap in die parlement nie, van ons (die meeste?) werk actually ons alies af elke dag om ons werk met trots te doen. En ek kan julle belowe dat staker beslis nie vir die dag betaal gaan word nie en dit het ook ‘n negatiewe effek op hulle diens rekord en pensioen eendag. Ons verdien ook ‘n lewe mense – al gun julle ons niks.

Jakes ·

Eintlik is hierdie protes n siek grap. Hoeveel werkers werk in elk geval by die werk? Baie min van hulle verdien hul salaris by die werk. Die grootste probleem in SA is die geweldige bevolkingsaanwas. Die uitdrukking ‘ small things amuse small minds ‘ is hier van toepassing.

Hettie ·

Ja Nee, daar bestaan nie so iets nie. Steek een of twee winkels aan die brand en gooi klippe en siedaar , al die salarisse word betaal met verhoging vir die ongerief !!

Wondermaarnet ·

En julle dink dit gaan tevrede wees? Nee, dit gaan dan éérs afbreek en afbrand. Daar is nie pille vir domgeit nie.

Chantel ·

Ag what ever, word al jare gesê dit gaan gebeur, maar dit doen nie.

Kobus ·

Aan die vakbond vriende. Julle staak want julle is in diens maar slegs ‘n klein persentasie van julle lede is produktief. Julle staak want julle is ongelukkig met die regering…die regering waarvoor julle gestem en onlangs weer julle ondersteuning aan die ANC belowe het. Hoe dink julle? Julle huil oor lewenskoste. Hoeveel ANC kaders was sedert die vorige verkiesing by julle plakkershutte met ‘n kospakkie, T-hemp en sakke vol beloftes? So, hulle staan op platvorms en skreeu hoe hulle vir armes omgee. Julle staak met ” geen werk, geen salaris” maar julle vakbondleiers kry maandeliks julle bydraes en eet hulle vannand ‘n heerlike bord kos terwyl julle volgelinge verstik aan ‘n stikkie brood of mieliepap. Ai ai ai, ek is jammer vir julle

Hennie ·

Weet hierdie stakers dat die ANC COSATU alliansie verantwoordelik is vir die gemors waarin SA nou verkeer? Swape!

Magda G ·

Daar is soveel wat bid vir werk maar ander kan maar toi toi oor onnodige strooi. Plaas dat hulle werk en verbeter waar nodig. Die vrouens is ALTYD aan die vorpunt met plakkate en hulle is die wat die meeste kla

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.