Geliefde advokaat, rolprentmaker (69) sterf

Piet de Jager en sy vrou, Luitha. (Foto: Verskaf)

Piet de Jager, die bekende advokaat, rolprentvervaardiger en digter, is Donderdagmiddag ná ʼn kort siekte oorlede.

Sy familie het die nuus aan Maroela Media bevestig. De Jager was 69 jaar oud.

“Pieta, soos die meeste mense hom geken het, is by sy huis in Bronkhorstspruit oorlede ná ʼn kort siekte. Sy vrou, Luitha, en vier van sy kinders, Salmon, Elena, Dawie en Pieter, was almal by hom tydens sy afsterwe,” lui ʼn verklaring wat deur die De Jager-familie uitgereik is.

Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie.

Salmon (Sallas) de Jager is self ʼn bekende rolprentregisseur en musikant. Hy en sy broer, Dawie, is albei lede van die musiekgroep Klopjag, en Dawie is self ʼn bekende in musiekkringe.

“Hy het ʼn geweldige liefde vir die kunste en veral ʼn passie vir Suid-Afrikaanse kunstenaars gehad.”

De Jager was in die laat tagtigs en vroeë negentigs verantwoordelik vir die jaarlikse Afrikaanse musiekfees wat op Bronkhorstspruit plaasgevind het. Hy was ook ʼn stigterslid van die Afrikaanse Musiektrust, wat onder meer verantwoordelik was vir die finansiering van die ikoniese Laurika Rauch-album, Stuur groete aan Mannetjies Roux. Dit was die eerste Afrikaanse album wat deur ʼn sangeres op CD uitgereik is.

De Jager was ook ʼn kunstenaar uit eie reg en ʼn gepubliseerde skrywer. Sy debuutdigbundel getiteld Ouhout is in 2006 deur Protea Boekhuis uitgegee. Hy vertaal ook die Franse skrywer Albert Camus se La Pest in Afrikaans en Die Pes word in 2011 deur Protea Boekhuis uitgegee.

Sy ander groot passie was Afrikaanse rolprente. As een van die stigterslede van Bosbok Ses Films het hy ʼn sleutelrol gespeel in die oplewing van die Afrikaanse rolprentbedryf oor die afgelope dekade. Bosbok Ses Films het onder meer Roepman, Verraaiers en Dominee Tienie vervaardig.

“Piet sal met deernis onthou word vir sy passie vir mense, sy huwelik van amper 50 jaar, sy liefde vir sy kinders en die absolute genot wat hy geput het uit alles wat mooi is, soos sy gesin en familie, sy vriende, sy blomme, sy duiwe, musiek, stories, boeke en reis.

“Sy eerlike empatie met mense van enige agtergrond en sy onwrikbare geloof in waarheid en geregtigheid het van hom ʼn geliefde pa, huweliksmaat, advokaat, vriend, kunstenaar en mens gemaak.”

Hy word oorleef deur sy eggenote, vyf kinders en tien kleinkinders.

ʼn Gedenkdiens sal Sondag 15 Januarie om 11:00 by die NG kerk Nooitgedacht in Bronkhorstspruit plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan van Zyl ·

Piet was my SC in ‘n saak in die Konstitusionele Hof. Hy het rustig agteroor gesit terwyl die teenkant vir lank betoog lewer. Toe dit sy beurt is het hy opgestaan en bloot gesê dat die teenkant nie in die hof hoort nie, dit is nie hy wat so sê nie, dit is “julle” (die regters). “Gaan lees die gesag” is sy laaste sin en met ‘n mag dit die hof behaag het hy gaan sit. Skaars twee minute op sy voete. Ons het die saak gewen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.