Geliefde gesinshond verskeur ma, seun

Die Venter gesin (Foto: Verskaf)

ʼn Gesin van Benoni se lewe is onherroeplik verander toe hul geliefde gesinshond, Zeus, Dinsdag sy eienaar, Linda Venter (37), en haar 11-jarige seun, Breyden, by hul huis in Brentwoodpark aangeval het. Die hond is vermoedelik ʼn kruising tussen ʼn Deense hond en ʼn bulterriër.

Philip Stoneman, ʼn kapelaan vir Trauma Support SA en ook Linda se swaer, het namens die Venter-gesin met Maroela Media oor die voorval gepraat.

Volgens Stoneman het die “onverwagse gru-aanval die gesin verflenterd en verward gelaat”.

“Ek het ʼn oproep van my kleinneef, Brendan onvang. Hy het gesê hy dink sy ma kry ʼn hartaanval en dat sy dringend mediese hulp nodig het.

“Sonder om die werklike omvang van die nood te besef, het ek dadelik paramedici ontbied en my na die toneel gehaas.

“Toe ek oomblikke later terugbel om seker te maak ek verstaan wat aangaan, hoor ek hoe Brendan histeries skree ‘Zeus is besig om my ma aan te val en hy wil haar nie los nie’.”

Stoneman sê Linda was Dinsdagmiddag in die agterplaas besig om wasgoed op te hang terwyl Breyden, soos talle ander dae, met sy rugbybal rondom haar gespeel het.

“Zeus was altyd rondom Breyden wanneer hy met die bal speel; hy het meestal saam agter die bal aangehardloop en gespeel.

“Ons weet steeds nie wat gebeur het nie. Soos ek verstaan, het Zeus skielik vir Breyden aangeval waarna Linda ingespring het om haar seun uit die hond se kake te bevry.

“Dit is toe dat die hond haar gryp en nie los nie,” sê Stoneman.

Linda is linkshandig en het vir Zeus met haar regterarm van haar probeer weghou, terwyl sy haar linkerarm oor haar keel gehou het om te keer dat hy haar nie daar beetkry nie.

“Die hond het haar regterarm heeltemal verbrysel. Dit was skokkend, daar was baie bloed. Ek werk gereeld met soortgelyke voorvalle, maar wanneer dit familie is, is dit ʼn ander saak…  dit was regtig vir my moeilik.”

Stoneman sê hy was sowat ʼn kwartier later op die toneel en kort daarna die nooddienste ook.

“Toe ek ʼn paar minute later op die toneel aankom het ek vir Breyden met sy gesig na onder op die gras aangetref. Linda was in die kombuis op die vloer.

“Ek het dadelik vir Breyden begin behandel terwyl die nooddienste vir Linda, wat in daardie stadium reeds in ʼn kritieke toestand was, vir haar ernstige beserings behandel het,” sê Stoneman.

Daar is op die toneel besluit dat Linda, weens die erns van haar beserings, per helikopter na die Netcare Alberton-hospitaal vervoer moes word.

Stoneman sê noodprotokolle is dadelik ingestel om die helikopter by Laerskool Brentwood Park se sportterrein te laat land. ʼn Ambulans het Linda na die skool gehaas, waar die noodhelikopter se bemanning hulle ingewag het.

Linda is daarna dadelik in ʼn geïnduseerde koma geplaas waarna haar regterarm byna teen haar skouer geamputeer moes word.

Volgens Stoneman het sy ook ernstige wonde aan haar linkerarm en albei haar bene opgedoen.

Breyden word by die Netcare Linmed-hospitaal in Benoni behandel vir onder meer bytwonde aan sy gesig, arm, been en boud. Hy is steeds in die hospitaal en herstel goed.

Breyden en sy Oom, Philip Stoneman (Foto: Facebook/Philip Stoneman)

“Dit is ʼn baie moeilike tyd vir die gesin en veral vir Linda se man, Marius, wat elke dag van die een hospitaal na die ander moet ry om sy vrou en seun te besoek,” sê Stoneman.

Stoneman sê by inspekteurs van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se aankoms het hulle bevind dat Zeus steeds aggressiewe gedrag getoon het en daar is besluit om hom dadelik van kant te maak.

“Die familie verstaan nou nog nie wat moontlik die oorsaak vir die gru-aanval van die geliefde gesinshond kon wees nie.

“Zeus was ʼn liewe hond, hy was deel van die familie. Hy het nog nooit tekens gewys dat hy tot so iets in staat is nie. Ons sou dit nooit verwag nie, dit het ons platgeslaan. Die hond het in die huis geslaap, hy het saam met Brendan op die bed geslaap, dit was regtig die dierbaarste hond ooit.”

Linda is nie meer onder verdowing nie en kon Maandagaand vir die eerste keer oor die voorval praat.

“Sy praat nog baie onduidelik, maar sy het verduidelik dat sy ingespring het om te keer dat Zeus nie haar seun doodbyt nie.”

Nou lê ʼn lang pad na herstel voor, “maar Linda se positiewe houding sal haar deur alles dra”, sê Stoneman.

Die familie het ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur om die finansiële las op die Venter-gesin te probeer verlig.

“Mense se ondersteuning sal die gesin help om verdere mediese uitgawes, rehabilitasie en prosteses te dek, asook die voorsienbare verlies aan inkomste vir Linda,” sê Stoneman.

Message of support from Morne Steyn. ( I just became a Blue Bulls supporter).????https://www.backabuddy.co.za/linda-venter-5694114255913642754

Posted by Philip Stoneman on Saturday, September 2, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

amapinki ·

Skrikwekkend en baie hartseer. Sterkte aan Linda & Breyden en die hele familie. Seëninge in Here Jesus. <3

Kuver ·

Dis n kruis tussen n deense hond en n bulterrier, versyaan dit mooi

E ·

Gaan die DBV die hond darm toets vir hondsdolheid of daai bakterie wat maak dat rotte die katte begin aanval?

anna2023 ·

Mnr Stoneman begin deur te noem dat Breyden gebel het dat sy ma besig is om ‘n hart aanval te kry – hoe pas dit in met die res van die feite?

Karoo ·

Ek dink hy het nie in die oomblik geweet wat aangaan nie. Omdat sy in paniek was het hy onmiddelik gebel. Hy het dalk dit net aangeneem.

anna2023 ·

Maar die kind is eerste aangeval en die ma het toe gaan help. dit maak nie sin nie.

Miskruier ·

Twee weke gelede koop ek n goedkoop soort hondekos vir n huurder. Die aand vra hy ek moet kom kyk want een van die drie honde tree snaaks op. Die jong hond se oē staan stokstyf, kwyl baie en hardloop waansinnig rond. Hy laat hond alleen buite, n uur later is hond weer reg. Die tweede dag dieselfde. Ek sê toe haal die hond van die nuwe kos af. Geen probleem verder nie.

Alida ·

Ek hoop owerhede het daaraan gedink om die hond vir moontlike hondsdolheid te toets.

Nettie ·

Dis verskriklik!!! Hierdie gesin het NIKS verkeerds gedoen nie. Nie die hond sleg behandel of geterg of treiter of mishandel of eers buite laat slaap nie! Hy was deel van die gesin. Hoe bitterlik hartseer.

Mamma, jy’s ‘n ster!! Jy’t jou kind se lewe gered en hom beskerm. Dankie aan ons Vader dat julle albei vandag nog leef. Sterkte aan die hele gesin. Mag julle gou genees en die trauma verwerk en aanpas by julle “nuwe normaal”. Ons bid vir julle.

TrueMan ·

Waarom is daar nie n foto van die hond?? Ek het n vermoede dit is NIE n bullterrier kruising nie

Delia ·

Dalk het hierdie hond iewers pyn gehad. N goeie liefdevolle gesinshond val nie sommer aan nie.

Bolandse Nooi ·

Hemel, dis hartseer. My eerste gedagte gaan daaraan dat die hond waarskynlik instinktief opgetree het ná ‘n “trigger”. Ons dink maar ons verstaan ons troeteldiere, maar ons vergeet gou dat hulle eintlik maar net makgemaakte, wilde diere is wat ander instinkte as ons het. Dit is vir my net altyd hartseer hoe diere wat buite die mens se verwagting optree, dikwels die spit afbyt en dan geëlimineer word (uitgesit word).

EMB ·

Sommige honde raak so aggressief as hul Bravecto vir bosluisvoorkoming pille gegee word. Binne ‘n jaar daarna begin die probleme soos aggressiewe aanvalle op enige persoon of dier in die nabyheid. Dit word gewoonlik voorafgegaan deur ‘n epileptiese aanval. Moenie jou hond laat uitsit om die brein te stuur vir ontleding vir hondsdolheid nie, stop die Bravecto! En laat die Vet jou hond op anti-epilepsie middel plaas as hy of sy epileptiese aanvalle kry. Ons het ons pragtige, nie-aggressiewe bulterrier verloor deur ‘n veearts wat gese het die hond moet uitgesit word en die brein staatspatoloog toe gestuur word.
Daar is op facebook ook baie mense wat getuig van Bravecto wat newe-effekte op party honde het. Tog word dit nie van die mark afgehaal nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.