Geliefde oud-apteker van Parys sterf

Coen de Jager was ‘n geliefde inwoner van Parys. Hy is dood in die ouderdom van 97. (Foto: Verskaf)

Talle boodskappe van medelye het ingestroom na die dood van Coen de Jager, ʼn jarelange inwoner en geliefde voormalige apteker van Parys in die Vrystaat.

De Jager was ook ʼn bekende gesig in Parkrun-kringe en het in 2015 die SA rekord vir mansveterane tussen die ouderdomme van 90 en 94 met ʼn tyd van 50:42 verbeter het. Hy is bestempel as ʼn inspirasie vir atlete, talle van hulle dekades jonger as hy.

De Jager is Saterdag in die ouderdom van 97 dood nadat sy gesondheid die afgelope paar maande begin versleg het.

Sy seun, Saal, ook ʼn bekende sakeman op die dorp, sê De Jager sr. het tot onlangs nog bestuur, gelees en gedigte geskryf en het tot en met sy dood op sy eie gebly. Hy het gesê ʼn “aftreeoord is vir ou mense”, skerts De Jager jr.

“Hy het tot vier maande gelede nog ʼn paar keer per week self tot by my werk gery om te kom kuier. Dan gesels ons en gaan hy weer huis toe.”

De Jager sê sy pa was jare lank ʼn vegetariër – hy het veral rou groente en vrugte geëet – en het nie gerook of gedrink nie. Hy het ywerig duiwe gevlieg en kon vlot Sotho praat. “Daarom het hy ook ʼn geweldige groot kliëntebasis gehad. Sy apteek was destyds een van die grootstes.”

Coen de Jager saam met sy seun Saal, kleinseun Coenraad en agterkleindogter Leila tydens ‘n Parkrun-byeenkoms. (Foto: Verskaf)

Niemand het ook daar uitgestap sonder om die medisyne te kry wat hulle nodig gehad het nie – of hulle nou kon betaal daarvoor of nie.

De Jager sr. het as jong man aanvanklik teologie op Stellenbosch gaan studeer, maar in sy derde jaar besluit sy roeping lê elders en het hom op Potchefstroom as apteker bekwaam. Hy het eers as apteker op Swartruggens gewerk, waarna die gesin hulle in 1964 op Parys gevestig het.

“Hy was ʼn baie geliefde man op die dorp.”

De Jager sr. se vrou, Leila, is sowat drie jaar gelede oorlede. Sy was 89.

“Ek is trots dat hy my pa was. Hy het so baie mense op Parys se lewens geraak,” sê De Jager.

  • ʼn Gedenkdiens word Vrydag op 11:00 vanuit die NG Kerk-Wes op Parys gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Di ·

Hy het duidelik ‘n vol lewe gelei. RIV en strekte aan al sy vriende en familie. Seker dat hy baie gemis gaan word.

Pieter ·

Dis nou seker nie belangrik nie, maar die somme maak nie sin nie. As hy in 2015 93 was, dan moet hy in 2021 mos 99 wees. Hoe kry die berig dit as 97?
Des nie teen staande klink die Oom na ‘n formidabele mens.
Sterkte aan sy familie en vriende

Toy ·

Baie sterkte aan die familie, dit is ‘n seen om jou ouers so lank te kon he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.