Gemeenskap moet deel word van voorkoming van hipertensie, diabetes

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Mufid Majnun/Unsplash)

Mense wat aan hipertensie (hoë bloeddruk) en diabetes ly, het ʼn groter kans om hartsiektes – wat jaarliks meer as 17,7 miljoen sterftes veroorsaak – op te doen.

Om die risikofaktore en voorkoming hiervan te takel moet beleid en opvoedkundige programme ook op die onderliggende sosio-ekonomiese, omgewing-, gedrag- of kulturele omstandighede fokus waarin mense lewe en werk.

Dít volgens ʼn ondersoek deur navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Die navorsingsverslag het onlangs in die vaktydskrif BMC Health Services Research verskyn.

Dit vorm deel van ʼn groter navorsingsprojek – Medewerking vir bewysgebaseerde Gesondheidsorg en Openbare Gesondheid in Afrika (CEBHA+)  ̶   oor ingrypings op bevolkingsvlak om hipertensie en diabetes in toom te hou.

Die navorsers het onderhoude gevoer met kundige besluitnemers soos bestuurders, direkteure en beleidmakers wat deel was van die beplanning en ontwikkeling van beleid, programme of ondersteunende ruimtes vir die voorkoming en bestuur van hierdie siektes.

Die navorsers het as deel van hulle studie die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se globale strategie vir dieet, fisieke aktiwiteit en gesondheid as ʼn raamwerk gebruik en het op drie kategorieë gefokus: ondersteunende beleid, ondersteunende programme en ondersteunende omgewings.

Ondersteunende beleid is fiskale, wetgewende en regulerende maatreëls wat risikofaktore vir hipertensie en diabetes kan teiken.

Ondersteunende programme kan op nasionale, distrik- of gemeenskapsvlak aangebied word wat mense bereik waar hulle woon, studeer of werk.

ʼn Ondersteunende omgewing verwys na aktiwiteite wat die skep van omstandighede beïnvloed waarin gesonde keuses die makliker opsie vir mense is.

In die aanloop tot Wêreldhipertensiedag wat Woensdag gevier word, sê die navorsers dat hulle navorsing wys wat sommige van die belangrikste instaatstellers en uitdagings vir die beplanning en ontwikkeling van geteikende intervensies op bevolkingsvlak is om die risikofaktore vir hipertensie en diabetes te verminder.

Instaatstellers

“Die besluitnemers met wie ons gepraat het, het skakeling en medewerking tussen belanghebbendes, die kontekstualisering van beleid en programme, voortgesette monitering en evaluasie en organiese groei as van die belangrikste instaatstellers vir beleidsvorming beklemtoon,” sê die navorsers.

“Hulle het ook die waarde van vennootskappe tussen gemeenskappe, bedrywe, die akademie en toepaslike regeringsdepartemente genoem.”

Volgens die navorsers het die besluitnemers daarop gewys dat dit belangrik is dat beleid op die behoeftes van die gemeenskap moet reageer en ʼn openbaregesondheidstelselbenadering gevolg moet word.

Dit omdat dit noodsaaklik is vir die beplanning van ingyrping en die skep van ondersteunende omgewings sodat ʼn balans gevind word tussen die ekonomiese en voedingsbehoeftes van mense wat ʼn hoër risiko vir hipertensie en diabetes het.

“Deelnemers het ook die behoefte aan die monitering en evaluasie van beleid en programme beklemtoon ten einde byvoorbeeld positiewe verandering, inligting oor verbruikersperspektiewe en verdere inligting wat toekomstige beleidsformulering sal rig, vas te vang,” sê hulle.

“Nog ʼn instaatsteller was beplanningsprogramme wat organies kan ontwikkel uit kleiner inisiatiewe wat positiewe resultate in evaluasie toon.”

Sleuteluitdagings

Die navorsers sê verskeie uitdagings bemoeilik die proses. Dit sluit in ʼn gebrek aan tyd, hulpbronne en finansiering, ʼn gebrek aan konsultasie met belanghebbendes, regulasies en wedywerende prioriteite, en ondoeltreffende monitering en evaluasie.

Die besluitnemers het onder meer aangedui dat ʼn gebrek aan tyd beteken dat die nasionale strategiese plan vir die voorkoming en beheer van nieoordraagbare siektes sonder veel eksterne insette ontwikkel is.

“Hulle wys daarop dat beleidsformuleringsprosesse onder verdenking geplaas word. Die suksesvolle inwerkingstelling en aanvaarding deur belanghebbendes word ook in gevaar gestel indien daar nie met die belangrikste belanghebbendes, veral gemeenskappe, gekonsulteer word en hulle deelname nie verkry word nie,” sê die navorsers.

“Hulle sê ook mededingende belange tussen die regering- en privaatsektor het ʼn nadelige invloed op beleid en programme wat gemik is op die vermindering van risikofaktore vir hipertensie en diabetes. Mededingende prioriteite het onetiese borgskappe tot gevolg gehad – soos bedrywe wat ʼn ongesonde dieet deur borgskappe van regeringsgeleenthede bevorder en dan teenstrydige boodskappe aan die publiek uitstuur.”

Volgens beleidmakers het mededingende belange en die gebrek aan aanvangsdata en elektroniese moniteringstelsels dit moeilik gemaak om die uitwerking van intervensies te meet en om beleid te verfyn en te verbeter.

Die navorsers sê ook dat die haalbaarheid en volhoubaarheid van programme slegs verseker kan word wanneer die hulpbronne verskaf word en omgewings in staat gestel word om ʼn gesonde leefstyl in gemeenskappe te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christine ·

Kyk maar net na die goeie werk wat Prof. Tim Noakes doen om gemeenskappe te help om hulle bloeddruk en bloedsuiker te beheer! Vir 20 jaar al probeer ek my man inspireer om sy koolhidrate te verlaag, maar hy het liewer al meer en meer diabetes medisyne gebruik. Nou het hy lewerkanker en die dokters kan niks vir hom doen nie. Nou het hy sy dieet verander om laag te wees in koolhidrate en binne EEN WEEK het sy bloedsuiker verander van 15 na 4.8 . Dit is absoluut noodsaaklik dat mense geleer moet word dat hulle hulle dieet MOET verander en nie net meer pille moet sluk nie.

annie ·

In hierdie oorvol land met ‘n briljante regering en almal wat links en regs uitwyk en eerder vreemder as normale gedrag toon, is die kanse nul op vooruitgang en beter gedrag. Nou wil die ANC die gratis gesondheidsdienste uitrol. Wat is lekkerder as ‘n sak vol pille voor jy die kitskoseetplek gaan leegkoop?

domheks ·

@Christine – gee asseblief meer besonderhede oor die dieet. Baie dankie!

S ·

Gesond eet – nie geprosesseerde “kos” nie en gebalanseerd te eet (groente, vrugte, protiëne, gesonde vette en gesonde veselryke koolhidrate), genoeg water drink (nie gas- of ander koeldrank nie) en oefen, stap, net aktief te wees is die oplossing vir baie gesondheidsprobleme. Sluit aan by jou naaste Parkrun, loop, stap, kruip as jy moet. Eet om jou liggaam te voed / te “nourish” en beweeg! Jou liggaam is wonderlik en verdien dit. Jy gaan fisies en geestelik beter voel en beter funksioneer.

Eclectus ·

In 2015 het ek 26 kg verloor en my hipertensie en suiker medikasie gestaak deur banting. Ek het in 2018 weer getrou en 20 kg opgetel en het weer albei medikasies begin gebruik want die lewe is mos lekker. Nou’t ek ‘n ernstiger suiker probleem. My dokter wou nou my suiker medikasie verhoog en ek het haar oortuig ek kan alles omkeer met ‘n ander lewenstyl. Ek was 9 jaar in die army, ek ken dissipline. Ek is nou in week 5 met keto en onderbreekde vas en my suiker het geval van 13,6 tot 5 in 4 weke. Ek het dit vinnig gewoond geraak, word nie honger nie, slaap beter ens. Kyk gerus Dr. Eric Berg op YouTube.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.