Gemeenskap treur oor geliefde dokter

Dr. Alphonso Raats (82). (Foto: Verskaf)

“My vriend, jy was ʼn regte gentleman – die crème de la crème. Nie net ék sal jou ernstig mis nie, maar ook almal in ons dorp.”

Só sê dr. Pieter Henning wat saam met die gemeenskap van Potchefstroom steeds oor die dood van die geliefde en gerespekteerde dr. Alphonso Raats treur.

Raats, wat ongeveer 52 jaar lank as algemene praktisyn in Potchefstroom gewerk het, is verlede jaar op 9 Desember in die ouderdom van 82 jaar dood.

Sy saggeaardheid en invloedryke tyd as dokter op dié dorp laat talle gebroke oor sy afsterwe.

“Hy was baie geliefd onder jonk en oud en het altyd tyd – baie tyd – saam met sy pasiënte deurgebring. Elke afspraak het ʼn algemene geselsie oor gesinsake ingesluit en dit is gevolg deur ʼn deeglike, professionele mediese ondersoek,” sê Henning.

Raats het die afgelope 25 jaar pasiënte by die Netcare Medicross behandel. Dié besonderse dokter het selfs tot twee weke voor sy dood nog pasiënte behandel.

“Hy het energiek en aktief gebly terwyl hy voortgegaan het om die talle pasiënte te versorg wat op sy kliniese kennis en goeie mediese raad staatgemaak het. Sy deernis en toewyding tot pasiëntesorg is hoog op prys gestel binne die praktyk en gemeenskap wat hy gedien het,” sê Henning.

“Sy saggeaarde, vriendelike oë was altyd gevul met empatie vir familie, vriende en pasiënte. Hy het altyd geglo wat jy ook al doen, moet regverdig teenoor al die betrokkenes wees.”

Henning vertel ook dat hy en Raats 25 jaar lank saam gedraf het en talle marathonne saam voltooi het.

“Saam het ons duisende myle gehardloop en ʼn aantal Comrades-marathonne voltooi. Selfs wat hardloop betref, was hy eerder besorg oor die welstand van die ander drawwers.”

Salome Liebenberg, bestuurder van Netcare Medicross, sê die pasiënte en personeel by hierdie hospitaal mis Raats vreeslik.

“Hy was ʼn ware professionele en ongelooflike mens wat oor die jare deel geword het van die struktuur van die hospitaal en die gemeenskap,” sê sy.

“Afgesien daarvan dat dr. Raats op ʼn kliniese vlak ʼn groot bydrae gelewer het, het hy ook ʼn aktiewe rol gespeel om prosesse by die hospitaal tot voordeel van die pasiënte te verbeter.

“Ons sal sy lag en positiewe uitkyk op die lewe baie mis.”

Raats word oorleef deur sy vrou, Yvonne, sy seun, Alphonso Raats (jr.), sy dogter, Hermanie, en vier kleinkinders.

  • ʼn Gedenkdiens vir Raats word Saterdag 15 Januarie om 10:00 by Anderland in Potchefstroom gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johanna ·

Wat n uitsonderlike lewens getuienis vir iemand wat omgegee het vir ander. Mag die Here ons almal genadig wees om soos die Dokter Raats te wees.
Rus in Vrede dokter Raats. U was n engel vir God op hierdie aarde.

Adrian ·

Dr Raads van ons eerste dokter toe ons in 1969 in Potchefstroom kom bly he, hy was ons dokter tot dat ons na Australië verhuis het
Adriaan van Adrina

Marcello ·

Ek het 2006 met hom gekommunikeer, toe my dogter op NWU was, en haar oordrom gebars het, ek bly in die Suid-Kaap , en was bekommerd oor haar, hy het begrip getoon oor my bekommernis veral oor die afstand, maar my gerus gestel, dit het my laat besef hy was ‘n omgee mens.

Sterkte aan die familie en vriende. RIV.

Trotse Boervrou ·

Dr Henning, hoe waar is hierdie pragtige getuigskrif nie. Die trane loop sommer weer. Ek wil ook elke mooi woord wat in die woordeboek bestaan opdra aan dr Raats. Wat ‘n pragtige, hartlike, omgee mens was hy nie. Hy gaan geweldig baie gemis word deur ons almal. Dit was ‘n reuse voorreg om hom te geken het.

Leon ·

Ons huis dokter ons het vêr gery na hom toe. Hy was my vrou se dokter van geboorte af. Hy was waarlik ‘n voortreflike mens, en het het tot op die laaste besoek in Desember uitstekende diens gegee. Sterkte vir sy familie, en dankie dat julle hom met ons gedeel het al die jare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.