Gemengde reaksie oor voorgestelde koalisie-pakt

“Die belangrike kwessie is dat ons in 2024 een kans gaan kry om die ANC uit die regering te verwyder.” – Dr. Corné Mulder (Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

“Die belangrike kwessie is dat ons in 2024 een kans gaan kry om die ANC uit die regering te verwyder en elke geleentheid wat in daardie rigting werk, moet verwelkom word,” sê dr. Corné Mulder, VF Plus-LP.

Sy kommentaar kom nadat John Steenhuisen, DA-leier, verlede naweek op die party se federale kongres aangekondig het dat die party ʼn proses van stapel stuur om ʼn sogenaamde “Moonshot”-pakt met enersdenkende politieke partye, burgerregtegroepe en burgerlike organisasies te vorm sodat die ANC ontsetel kan word, die EFF uit regering bly, en ʼn nuwe nasionale opposisiekoalisie-regering daar te stel.

“Die uitnodiging is breed en oop vir die leiers van alle burgerlike organisasies en opposisiepartye wat as ʼn beginselsaak teen die ANC en die EFF gekant is,” het Steenhuisen gesê.

“Die doel van die pakt sal wees om samewerking en ʼn eensgesinde doelwit te vorm tussen al die organisasies wat die ANC wil verslaan en die EFF wil uithou.”

Die DA se voorstel is dat daar ooreengekom word oor die reëls waarbinne verskillende organisasies hul eie identiteit kan behou, maar ook ʼn einde te bring aan die beuselagtige dwarstrekkery en verdeeldheid wat net die ANC baat.

Die doel van die pakt sal wees om samewerking en ʼn eensgesinde doelwit te vorm tussen al die organisasies wat die ANC wil verslaan en die EFF wil uithou.(Argieffoto: Michele Spatari/AFP)

“In sy najaag van hierdie doelwit neem die DA die dapper en ongekende stap om ʼn verenigde ‘Moonshot’-pakt van die opposisie te lei,” het Steenhuisen gesê. Hy het daarna briewe aan partye geskryf waarin hulle genooi word om deel van die ooreenkoms te word.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het reeds aangedui dat die party graag hieraan sal wil deelneem.

Mulder sê die inisiatiewe waarmee die party reeds besig is rakende ʼn breë koalisie, oftewel ʼn “reënboogkoalisie”, is ook nie in opposisie met dié beoogde samewerking nie.

“Dit is aanvullende kwessies. Ek is oortuig daarvan dat ons dit sal kan koördineer in ʼn gesamentlike strategie om by die doelwit uit gekom wat ons graag sal wil bereik.”

Bantu Holomisa, leier van die UDM, sê egter in antwoord op die DA se uitnodiging die party moenie ander partye as “pionne” gebruik nie en kan ook nie kies met wie hy ʼn alliansie wil vorm terwyl ander verwerp word nie.

“Dit is nie te laat vir die DA om sy grootbroer-mentaliteit te heroorweeg nie en die UDM sal voortgaan om met alle rolspelers te beraadslaag rakende koalisievorming,” het Holomisa gesê.

Herman Mashaba, president van ActionSA, het die inisiatief verwelkom en sê die party glo fundamenteel dat die ANC vervang kan word deur ʼn groepering politieke partye wat belangrike gemeenskaplike grond kan vind oor die land se dwingendste kwessies.

Die onbestendigheid in plaaslike regeringskoalisies het egter nie juis vertroue ingeboesem nie, maar kan waarskynlik reggestel word by ʼn voorgestelde nasionale konvensie.

Die DA se voorstel is dat daar ooreengekom word oor die reëls waarbinne verskillende organisasies hul eie identiteit kan behou, maar ook ʼn einde te bring aan die beuselagtige dwarstrekkery en verdeeldheid wat net die ANC baat. (Argieffoto: Rodger Bosch/AFP)

Mashaba sê hy is egter bekommerd dat dit lyk of die DA eensydig wil besluit oor belangrike kwessies tydens só ʼn konvensie wat insluit watter partye dit mag bywoon, waar dit plaasvind, hoe die sekretariaat saamgestel word en selfs wie van elke party dit mag bywoon.

Hy waarsku die plan gaan in die hek duik as een party “onverantwoordelik optree” en aanvoer dat hy eienaarskap van so ʼn plan het. Mashaba sê egter ook te veel is op die spel vir samewerking om te misluk.

Hy sê die projek moet as ʼn multi-laterale een beskou word waaroor geen enkele party ʼn monopolie opeis nie en alle toekomstige openbare kommunikasie moet ook gesamentlik uitgestuur word. Mashaba stel voor dat drie lede van ʼn party, ook die leier, die konvensie bywoon en dat tegniese vergaderings uit aangewese lede van die partye moet bestaan.

ActionSA sal deelneem aan die konvensie, mits daar dus oor dié punte ooreengekom kan word.

Die ACDP het dit op sy beurt duidelik gestel dat hy geen koalisieooreenkomste voor die 2024-verkiesing sal aangaan nie.

“Dit is die ACDP se siening dat daar in enige koalisieooreenkoms onderhandelings oor bepalings en voorwaardes, strukture, vergaderings, strategieë en dies meer is. Geen enkele party kan aanneem dat hy die monopolie daarop het nie,” sê Wayne Thring, adjunkleier van die ACDP.

Die ACDP was nog altyd ontvanklik vir gesprekke met ander politieke partye wat die belang van alle Suid-Afrikaners op die hart dra, dienslewering prioritiseer en misdaad en korrupsie pak, sê hy.

“Enige opposisieparty se ‘Moonshot’-projek wat versuim om inklusief te wees en behoorlik te konsulteer en waar ʼn enkele party hom as bo ander posisioneer, gaan misluk.”

Rise Mzansi sê hy het ook kennis geneem van die DA se plan, maar dat hy nog nie formeel genader is om deel te word van ʼn koalisie nie.

Songezo Zibi, nasionale sameroeper van Rise Mzansi, sê Suid-Afrika se krisis vereis dat alle Suid-Afrikaners verenig agter ʼn gemeenskaplike visie, gedeelde waardes en gelei deur duidelike beginsels wat die basis van enige breër koalisie vorm.

“Ons glo dat geen enkele politieke party, of selfs ʼn versameling daarvan, die vermoë het om Suid-Afrika alleen deur hierdie krisis te stuur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.