George-boekhouer moet agt jaar sit

(Foto: William Iven/Unsplash.)

’n Boekhouer van George in die Wes-Kaap is tot agt jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat sy aan diefstal van meer as R7,6 miljoen skuldig bevind is.

Volgens Zinzi Hani, woordvoerder vir die Valke, het Gillian Mary Wileman (56) dié geld gesteel toe sy tussen 2016 en 2022 by Ideal Lighting in George werksaam was.

Wileman, wat op 233 aanklagte van bedrog en diefstal tereggestaan het, het Vrydag in die streekhof op dié dorp verskyn waar sy haar lot aangehoor het. Die hof het haar tot 14 jaar tronkstraf gevonnis waarvan ses jaar vir vyf jaar opgeskort is.

Wileman was tydens haar indiensneming onder meer vir die verwerking van banktransaksies en betalings aan krediteure en verskaffers verantwoordelik.

Sy het dus die nodige toegang tot die maatskappy se geld gehad.

“Die Valke se ondersoek het suksesvol aan die hof bewys dat sy dié geld in haar eie bankrekening vir haar eie gewin inbetaal het, in plaas daarvan om die geld van die onderneming aan Ideal Lighting se krediteure te betaal. Dit het tussen 29 Januarie 2016 en 31 Desember 2020 plaasgevind,” het Hani gesê.

Die ondersoek het ook onthul dat Wileman die verskuiwing van die geld doelbewus verbloem het.

Sy het op 25 November verlede jaar vir die eerste keer in die hof verskyn nadat ʼn dagvaarding op haar beteken is.

Genl.maj. Mathipa Makgato, provinsiale hoof van die Valke in die Wes-Kaap, het die vonnis verwelkom en die ondersoekspan vir hul werk geloof.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nico ·

Wonder of die geld alles teruggekry word? Dit wat sy spandeer het is sekerlik weg??

Nozi ·

Wel 8 jaar is nie te sleg nie. As sy daar uitkom het haar miljoene nou lekker rente by gekry en dan gaan sy lekker verder leef in rykdom. Nerens lees ek dat sy verplig is om al die geld terug te betaal nie. Ek wonder nou, hou sy nou maar die geld?

ES ·

Nee wat, die maatskappy het waarskynlik ‘n siviele saak teen haar ook aangangig gemaak. Sy sal al daai geld moet terugbetaal, en as sy nie kan nie, gaan haar bates opgeskryf word. Kan jy dink dat jy op 64 uit die tronk kom en jy het niks nie (nie eers ‘n broodrooster nie) want als is opgeskryf?

Anna84 ·

8jaar vir R7.6 miljoen rand…. en dan loop daar moordenaars, verkragters en korrupte regeringsmanne vry rond?? Dis absoluut lagwekkend, of sal ek eerder sê kommerwekkend. Dit wat die vrou gedoen het, verdien verseker die straf wat haar toekom, maar in vergelyking met ander ernstiger misdaad, is dit verregaande.

ES ·

Daar is soveel mense wat hulle deesdae hieraan skuldig maak. Maatskappye moet eerder ‘n dubbel-goedkeuring stelsel implementeer.

Wie wil op aftree ouderdom tjoekie toe gaan? Nee dankie.

piket ·

Kan nie verstaan dat besigheidseienaars nie self hulle bankrekenige kan veriveer nie.

Piet 6 ·

Wat vir my verbasend is is dat daar geld vir jare by ń besigheid kan wegraak en dat hulle dit nie agterkom nie.

Daniel ·

Dis goeie nuus dat sy gevang is en gevonnis is maar wat van die groot skelms in die regering en by eskom??

Blikkies ·

Hoekom is die Polisie nie ook so fluks met hulle ondersoeke as dit kom by die staatskapers en regering beamptes wat die land so plunder nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.