George-tragedie: Kontak met 11 vasgekeerdes

Die ineengestorte gebou in George. (Foto: Willie van Tonder / AFP)

Die dodetal staan nou op ses nadat ’n gebou in aanbou Maandagmiddag op George in die Wes-Kaap ineengestort het.

Reddingswerkers was teen Dinsdagoggend in verbinding met 11 van die 48 werkers wat nog onder die puin van die ineengestorte gebou vasgekeer is.

“Vier van hulle is in ’n kelder vasgekeer en ons kommunikeer met hulle,” het Colin Deiner, hoofdirekteur vir rampbestuur, Dinsdagoggend tydens ’n mediakonferensie gesê.

Een van die vasgekeerdes het ’n werkende selfoon by hom en kon sy vrou deur die loop van die aand bel. Daar is intussen met die vasgekeerde werker ooreengekom om slegs op sekere tye sy selfoon te gebruik bloot om batterykrag te bespaar.

Die man kon aandui in watter woonstel hy was toe die gebou ineengestort het. Snuffelhonde is sedertdien na die gebied gestuur waar hy vermoedelik onder die puin vasgekeer is en ’n seismiese akoestiese soektog is van stapel gestuur.

Die werker was ten tyde van die mediakonferensie steeds vasgekeer.

Die ineengestorte gebou in George. (Foto: Willie van Tonder / AFP)

Deiner het vanoggend gesê reddingswerkers se hooffokus is tans om diegene van onder die puin te bevry en dit kan ’n groot deel van die dag duur.

Reddingswerkers sal daarna met ’n proses begin om die verskillende vloere van mekaar af te lig, het Deiner verduidelik. “Die rede daarvoor is dat die moontlikheid bestaan dat mense nog lewe.”

Snuffelhonde word ingespan om oorlewendes onder die puin op te spoor.

Volgens Deiner sal alle werkers vir minstens drie dae as lewend beskou word terwyl daar deur die puin gefynkam word op soek na oorlewendes. “Ons gaan die absolute maksimum tyd gee om te sien hoeveel mense ons kan red.”

Nog reddingspanne gaan intussen ingebring word.

Volgens Deiner sal reddingswerk na verwagting tot die naweek voortduur.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het vanoggend gesê spesialisingenieurs is tans op die toneel  om vas te stel waarom die gebou ineengestort het. Die hooffokus is egter in dié stadium die red van soveel moontlik lewens.

Maroela Media het vroeër berig 75 werkers was op die perseel toe die veelverdieping-woonstelgebou in Victoriastraat gister 14:09 ineengestort het.

Altesame 27 mense is in dié stadium van onder die puin bevry; sommige was tussen 16 en 18 uur lank onder die puin vasgekeer.

Leon van Wyk, burgemeester van George, sê dit is verblydend om te sien hoe die gemeenskap saamstaan en hulp aan reddingswerkers verleen. Talle dra kos en water aan. ’n Plaaslike koffiewinkel het selfs gisteraand laat sy deure oopgemaak om koffie aan reddingswerkers te verskaf.

Pres. Cyril Ramaphosa het intussen ook sy medelye betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

miche ·

Ek ys om te dink wat sou gebeur het as hierdie tragedie in ‘n ander provinsie gebeur het.
Nooddienste se nommers sou seker nog steeds nog net onbeantwoord gelui het…

Pierre ·

en die Presidency moet ook altyd eiers le moet nie verbaas wees as hulle so voor die verkiesing ook daar opdaag en probeer om te grawe vir die kameras nie.

Bolandse Nooi ·

Mr. President, do you even know where George in the Western Cape is???

amapinki ·

Dit is baie hartseer. Bid dat almal wat nog vasgekeer is, gered sal word uit die puin en die families kalmte van gees sal hê tot hulle geliefdes weer veilig is.

ronel ·

Vreemd dat die burgermeester gistermiddag op landwye nuus “geen benul”gehad het wie die maatskappy is wat daardie bou projek bestuur nie.

Chris ·

Chris Noordkus, interessant hoe mense kommentaar kan lewer sonder dat hulle feite tot hul beskikking het, eg miche oor ander provinsies en “bouer kom van KZN” feit is daar kan baie faktore wees, oa. wat van gereelde bou inspeksies ?

Frank ·

Ja nee, Chris. Ek vermoed tussen die Ontwikkelaar en die Bou inspekteur lê die oorsaak. Spaar geweldig baie deur minder staal in die struktuur te gebruik of nie die voorgeskrewe beton sterkte te gebruik nie.

Yvonne ·

Wat ookal die rede vir die tragedie…iemand sal moet pa staan vir dit…hartseer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.