Geraamte dalk dié van vermiste meisie

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

’n Geraamte wat Sondagoggend in ’n beboste gebied buite Witrivier in Mpumalanga gevind is, is dalk dié van ’n vermiste tienermeisie (15) wat in Desember verlede jaar spoorloos verdwyn het.

’n 24-jarige man is intussen in hegtenis geneem en sal Woensdag in die Masoyi- periodieke hof op aanklagte van moord en regsverydeling verskyn.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die geraamte is omstreeks 10:00 by die Nkanini Trust naby Masoyi deur kinders van ’n inisiasieskool ontdek toe hulle vir stokke in die bosse gesoek het.

Die polisie en ander toepaslike rolspelers is na die toneel ontbied en daar is bevestig dat die geraamte wel menslike oorskot is. Kledingstukke wat vermoedelik aan die slagoffer behoort, is ook op die toneel gevind.

“’n Nadoodse ondersoek is geopen, maar later na ’n moordondersoek verander nadat speurders ondersoek ingestel het,” het Mohlala in ’n verklaring gesê.

“Die polisie het leidrade opgevolg en agtergekom dat ’n jong meisie in Desember verlede jaar vermis geraak het. Haar ouers het haar aan die begin van Januarie vanjaar as vermis aangemeld.”

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die geraamte moontlik dié van die vermiste meisie is. Mohlala sê familie is ook oortuig dat dit die tiener is, aangesien hulle die rok herken het wat op die toneel gevind is.

Die polisie was Maandag nog besig met hul ondersoek toe ’n vrou by die polisiestasie ingestorm en aangevoer het dat gemeenskapslede haar wil vermoor, omdat hulle oortuig is dat sy die 24-jarige verdagte in die meisie se verdwyning en moord beskerm.

“Die polisie kon die gemeenskap se gemoedere laat bedaar en hulle oorreed om die ondersoek in die polisie se hande te laat.

“Die ondersoekspan het kritieke inligting van ’n lid van die gemeenskapspolisiëringsforum ontvang oor waar die verdagte hom bevind. Die inligting het eindelik tot die verdagte se inhegtenisneming in Malelane gelei.”

Mohlala sê die verdagte het vermoedelik probeer vlug toe hy deur die polisie aangekeer is. Nog aanklagte teen hom kan moontlik volg namate die ondersoek ontvou.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het die moord ten sterkste veroordeel.

“Dit is ’n skande dat ’n soortgelyke voorval in dieselfde polisiëringsgebied van Masoyi plaasgevind het, waar Bontle Mashiyane (6) onlangs wreed vermoor is.

“Ons het nooit verwag dat die gemeenskap in ’n kort tyd nog so ’n gruweldaad sal ervaar nie. Dit is ’n morele kwessie en ons doen ’n beroep op geloofsgebaseerde organisasies en tradisionele leiers om met ons hande te vat om die misdaadplaag te beveg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miena ·

Morele kwessie se voet man!! Geen so n persoon wat sulke dade kan verrig het enige moraal nie. Klaar. Punt. End van die prent.

Swerwer ·

Genade, nou dat daar op die oorskot van die liggaam afgekom het, is daar blitsvinnig ‘n arrestasie uitgevoer en die gemeenskap weet nou sommer van alles. Nou waarom maande wag en nie dadelik na die Wonderlike SAP gegaan en hul mede wete daar gaan voorlê nie.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.