ʼn Man, vrou en ʼn seun is Maandagoggend in ʼn botsing in Lenasia, Gauteng, dood.
Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, het gesê die gesin se motor het teen ʼn vragmotor op die Golden Highway naby Wimbledonweg gebots. “Die man, vrou en ʼn vyf- of sesjarige seun is op die toneel dood verklaar. Dit wil voorkom of hulle ʼn gesin is,” het hy gesê.
Hul liggame moes deur die brandweer uit die motor se wrak gesny word.
Die vragmotorbestuurder moes vir skok en geringe beserings behandel word. “Hy is na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het Mulaudzi bygevoeg.
Die metropolisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.