Gesin weer bymekaar na gesinshond ma, seun verskeur

(Foto: Verskaf)

Linda Venter (37) is weer terug by haar gesin in Brentwoodpark, Benoni, nadat sy en haar 11-jarige seun, Breyden, byna ʼn maand gelede deur hulle getroue gesinshond verskeur is.

Maroela Media het vroeër berig Linda was die betrokke Dinsdagmiddag in die agterplaas besig om wasgoed op te hang terwyl Breyden, soos op talle ander dae, met sy rugbybal rondom haar gespeel het.

Zeus, die gesin se hond, het oomblikke later skielik vir Breyden aangeval waarna Linda ingespring het om haar seun uit die hond se kake te bevry. Sy is linkshandig en het vir Zeus met haar regterarm van haar probeer weghou, terwyl sy haar linkerarm oor haar keel gehou het om te keer dat hy haar nie daar beetkry nie.

Die hond, vermoedelik ʼn kruising tussen ʼn Deense hond en ʼn bulterriër, het haar regterarm heeltemal verbrysel en dit moes byna teen haar skouer geamputeer word.

“Linda is egter Woensdag – ná byna ʼn maand en op ʼn paar baie streng voorwaardes – amptelik uit die hospitaal ontslaan,” sê Philip Stoneman, ʼn kapelaan vir Trauma Support SA en ook Linda se swaer.

“Sy is by die huis en herstel met die instruksies dat sy moet voortgaan asof sy nog steeds in die hospitaal is. Dit beteken dat die risiko vir infeksie steeds baie hoog is en dat sy nie mag uitgaan nie.”

Volgens Stoneman het Linda ʼn vakuum op haar regterskouer en moet sy elke vyf dae die dokter gaan sien om die wonde dop te hou.

“Linda gaan ook ʼn rehabilitasiesentrum op ʼn buitepasiëntprogram bywoon; ons wag nog om te hoor wanneer dit sal begin.”

(Foto: Verskaf)

Stoneman vertel dat die hele familie in ekstase is dat Linda weer tuis is, maar dat haar man, Marius, sowel as hul twee seuns, Brendan en Breydan, veral opgewonde is om haar terug te hê.

“Dit was ʼn baie onverwagse tragedie; tog ʼn wonderwerk wat reg voor ons oë plaasgevind het.”

Volgens Stoneman is Breyden Donderdag deur Linda se chirurg ondersoek om ʼn tweede opinie te kry oor ʼn wond aan sy rug wat nie gesond word nie.

“Die dokter wou hom teater toe neem, maar het daarteen besluit. Breyden het ʼn infeksie in sy wond opgedoen en word nou met antibiotika daarvoor behandel.

“Breyden en Linda sal Maandag teruggaan om die dokter te sien, en indien die infeksie genoegsaam opgeklaar het, sal Breyden waarskynlik teater toe gaan sodat die wond skoongemaak en versorg kan word,” sê Stoneman.

“Ons verstaan ​​dat daar ʼn hele paar mense is wat graag sal wil inloer om vir Linda hallo te sê, maar ons vra dat almal die dokters se wense respekteer en haar nog ʼn bietjie tyd gee om te herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

Ons is so jammer oor die skade aan dié dapper vrou! Jou familie is so bly jy is weer tuis. Pas haar mooi op!

OU SAAR ·

Ai, dis nou goeie nuus.
Baie sterkte Linda en Breyden vir die herstelpad vorentoe.
Dink veral aan jou Linda.

Weet iemand al hoekom die hond hulle aangeval het…?

Elma ·

Met honde aanvalle is daar nooit redes nie, die hond kan nie sê nie.

Klara ·

Dis so hardseer,maar so goed om te sien dat die mamma so lief is vir haar kinders . Sy sal letterlik enige iets doen om hulle veilig the hou

Karoo ·

Sterkte aan die Venter Familie, julle Mamma sal leterlik met haar lewe julle beskerm. Ons hoop sy sterk mooi aan en alles van die beste met die pad vorentoe.

Nici ·

Ek reken daai varkhonde en hul kruisings het gesplete persoonlikehede. Mense se altyd hoe liefdevol hul is en dan op ‘n dag verskeur hul ‘n kind. Gebeur konstant. Hul is onbetroubaar.

Francie ·

‘n Hondebyt is altyd ‘n baie traumatiese ervaring, soveel te meer wanneer dit jou eie hond is! Ek hoop regtig die gesin herstel so dat hulle weer die liefde en beskerming van ‘n hond sal ervaar. Onvoorspelbare gedrag is ongelukkig die reël wanneer twee honde van uiteenlopende geaardhede kombineer word. Ek weet daar is mense wat van my sal verskil, maar ‘n lukrake kombinasie bly altyd ‘n groot risiko wat tragiese gevolge kan hê. Honderasse word deur soveel geslagte heen gestandardiseer en hul eienskappe en geaardheid word vasgelê deur geselekteerde kombinasies. Hulle gedrag onder stressituasies is voorspelbaar. Honde van gemengde rasse is onvoorspelbaar en hul gedrag kan aan soveel genetika verbind word dat hulle instinktiewe optrede lewensgevaarlik kan wees. Soos wat ons nou deur ‘n tragiese voorval eerstehands kan bewys.

Bennie ·

Sjoe, ons dink aan julle almal in hierdie gesin. Baie sterkte. Ons bid dat die Here julle sal toevou in Sy liefde en teenwoordigheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.