Gesinslede in ‘verdagte’ posisie aangetref ná brand

Staatsaanklaer Gerrie Nel. Foto: Antoine de Ras / Independent Newspapers Ltd – Pool (SAPA)

ʼn Brand-en-ontploffingsdeskundige het vandeesweek gedurende die geregtelike doodsondersoek (GDO) na die dood van Suraya Deedat en haar vier kinders gesê hy vind die posisie waarin die gesinslede se lyke gevind is, verdag.

Volgens Danny Joubert het Suraya op haar rug gelê in ’n posisie wat daarop dui dat sy op haar knieë was en agteroor geval het. Al vier kinders was langs haar op hul rûe in die middel van die sitkamervloer.

Joubert het vandeesweek in die Johannesburgse landdroshof getuig dat dit nie die tipiese posisie van mense is wat probeer het om van ’n brand te ontsnap nie, omdat hulle nie naby enige uitgangspunte was nie. Hy het ook getuig dat hy in sy hele loopbaan nog nooit gesien het dat ’n ma se liggaam nié bo-oor dié van haar kinders gevind is in ’n poging om hulle teen die brand te beskerm nie.

Suraya en haar kinders het in Julie 2011 in hul huis in Ormonde, Johannesburg, doodgebrand. Naeem Deedat, Suraya se man, was die enigste oorlewende. Hy kon daarin slaag om deur die badkamervenster te ontsnap. Niemand is nog vir hul dood aanspreeklik gehou nie.

Volgens Joubert is Naeem se weergawe hoogs onwaarskynlik dat die brand binne sekondes van ’n beheerde brand na ’n onbeheerste vlammehel verander het, tensy daar van ’n brandversneller gebruik gemaak is.

Hassima Deedat, Naeem se suster, het ook vandeesweek in die hof getuig. Volgens Hassima het Suraya en Naeem ’n liefdevolle verhouding gehad.

Sy kon egter onder kruisverhoor deur adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, geen verduideliking gee oor waarom Naeem na bewering een van die kinders se arm uitgehaak of ’n swanger Suraya na bewering in ’n bababedjie ingestamp het nie. Nel verteenwoordig Suraya se familie in die ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig bystanders het gehoor hoe Naeem op Suraya Deedat skree, enkele ure voordat sy en die kinders doodgebrand het.

“Dit is belangrik dat AfriForum by sake soos hierdie betrokke raak, aangesien ons nie kan toelaat dat selektiewe vervolging die norm word in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel nie. Hierdie familie verdien geregtigheid vir wat met Suraya en haar kinders gebeur het. As die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie in hierdie geval in die belang van geregtigheid wil optree nie, is dit in belang van elke liewe mens in die land dat AfriForum dit wel doen,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se private vervolgingseenheid.

Die saak sal op 16 April voortgesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Baie edel van gerrie nel om hierdie mense te verteenwoordig, maar lawyers for human rights kon dit ook gedoen het. Afriforum moet ophou met hierdie “nonracial window dressing”. Die owerhede sien in elk geval deur dit EN dié hofsake is duur. Wend eerder bronne aan vir sake wat Afriforum se lede en ook ons eie mense se lewens raak. Goed soos plaasaanvalle, plaasmoorde, negatiewe gevolge van regstellende aksie en BEE. Môre oormôre is al die geld op omdat dit op sulke sensasiewekkende maar tog ook periferale sake uitgegee is en dan is daar niks oor om ons eie mense te help nie.

Oujongvrou ·

Jaco, daar woon miljoene ander mense ook in hierdie land, nie net wit nie. Dis houdings soos joune wat maak dat ons almal as rassiste gesien word. Hierdie vrou en haar 4 kindertjies is wreed vermoor en jy pleit net vir plaasmoorde. Is plaasmense se lewe meer werd as ander. Ek glo nie. Welgedaan Afriforum, help waar dit nodig is.

Sonia ·

Dankie Afriforum vir dié wonderlike hulp wat julle verleen wanneer die regering hulle plig versuim. Ons hoop maar Jaco kry nie eendag julle hulp soortgelyk nodig nie

Miskruier ·

Dit is ons eie mense, hul praat miskien nie Afrikaans maar hul is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.