Geskiedkundige wen vir Jeppe se oorlede spanmaat

Jeppe het die wedstryd aan Kaiden Bowie (inlas) opgedra. (Foto: Facebook/Jeppe High School for Boys)

Vir die seuns van Jeppe High School for Boys het dit nie Maandag soseer oor wen gegaan nie, dit was eerder om hulde aan hul oorlede spanmaat, Kaiden Bowie (16), te bring.

Terwyl die son Maandagmiddag oor die rugbyveld van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gesak het, het ʼn klomp geharde rugbyseuns spontaan op hul knieë afgesak, kop geboë, ná die eerste oorwinning in 134 jaar teen Grey Kollege.

Oor die telbord by die jaarlikse Noord-Suid-toernooi het ʼn reënboog gehang: 22–19 vir Jeppe.

“Dit was vir Kaiden,” het ʼn spanmaat, Ndimphiwe Mjiji (17), ná afloop van dié geskiedkundige gebeurtenis gesê.

Die nuus oor Kaiden se onverwagse afsterwe vroeër die maand het die Jeppe-gemeenskap geruk.

Maroela Media het vroeër berig oor Kaiden se afsterwe langs die rugbyveld ná die span se wedstryd teen Hoërskool Die Anker van Brakpan.

Die seuns het Maandag voor ʼn skare van duisende mense op die veld en met ʼn hand op die bors die wedstryd aan Kaiden opgedra.

Dale Jackson, skoolhoof van Jeppe, het Dinsdag in ʼn plasing op sosiale media gesê die skool het ʼn ongelooflik moeilike paar weke agter die rug.

“Rugby het die vermoë om mense saam te bring en drome in ʼn werklikheid te omskep. Gisteraand se wedstryd, toe ons seuns vir Kaiden gespeel het, het dit weereens bewys. Sy reënboog het aan die einde van die wedstryd uit die hemel neergedaal in ʼn visueel poëtiese herinnering aan hom.”

‘n Reënboog skuil agter die telbord na afloop van Jeppe en Grey se kragmeting. (Foto: Facebook/Dale Jackson)

Hoewel die telling belangrik is, is dit belangriker om uit die sport te leer, skryf hy.

Bobby Joubert, rugbydirekteur van Grey, sê die kameraadskap tussen die seuns ná afloop van die wedstryd was merkwaardig.

“Wat ʼn ongelooflike en spesiale wen was dit vir Jeppe gewees! Dit is nie lekker om terug te reis na Bloemfontein met die wete dat ons ʼn wedstryd verloor het nie, maar dit was ʼn welverdiende oorwinning vir dié spesiale groep seuns gewees.”

Ndimphiwe het saam met Kaiden aan die provinsiale skole-proewe vir die Leeus deelgeneem waar hulle mekaar beter leer ken het.

“Kaiden was ʼn stillerige seun gewees, maar hy het altyd met ʼn glimlag op sy gesig rondgeloop. Hy het ʼn unieke persoonlikheid gehad en was geliefd onder die seuns gewees.”

Ndimphiwe het aan Maroela Media gesê dat die afgelope paar weke egter sy tol op die span geëis het.

“Van die spelers het ʼn pad saam met Kaiden gestap. Ons was almal baie emosioneel oor sy dood gewees, maar ons het gister op die veld gedraf en vir ons spanmaat gespeel.

“Dit is altyd ʼn eer om vir ʼn skool se eerste span te speel en Kaiden se afsterwe laat ʼn leemte in die span.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.