Die departement van korrektiewe dienste (DKD) sê hy is bewus van video’s wat op sosiale media versprei word waarin gesien word hoe drie gevangenes ʼn beampte aanrand en hoe ʼn gevangene met ʼn vuurwapen en mes rondloop.
“Die DKD kan onomwonde sê dat dit nie eg is nie en niks met die werklikheid te doen het nie,” sê Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement.
Nxumalo sê die video’s is ʼn oortreding van die Wet op Korrektiewe Dienste wat bepaal dat enige ongemagtigde persoon wat die departement se uniform dra of gebruik, wat die skild of wapen van die departement gebruik of voorgee dat hulle só ʼn beampte is, skuldig is aan ʼn misdryf.
“Die departement het nooit toestemming gegee vir die vervaardiging van hierdie video’s nie en daarom is begin met ʼn regsproses om diegene verantwoordelik daarvoor aanspreeklik te hou.”
Nxumalo sê daar is stelsels vir kunstenaars om die DKD te nader vir die gebruik van sy uniform of eiendom. Die versoeke word intern oorweeg en kan net deur die nasionale kommissaris goedgekeur word. Dit moet ook in die belang van geregtigheid en die rehabilitasie van gevangenes wees.
“Die video’s wat tans die ronde doen, is ʼn aanval op die DKD en ondermyn die gesag van die staat. Ons beskou dit in ʼn baie ernstige lig omdat dit ernstige gevolge vir ons amptenare en gevangenes kan hê.”
Nxumalo sê die persoon verantwoordelik vir die maak van die video’s is reeds geïdentifiseer en die DKD gaan die saak aan die polisie oorhandig.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
4 Kommentare
Gaan probeer wol oor iemand anders se oe trek.
Natuurlik is dit eg.Het hulle bewapen om net gou n roof of plaasaanval te trek
Ek het daai video gesien en waar daar n rookie is brand die vuur. Daai lyk vir my soos die ware ding.