Gewapende rooftog op Oos-Kaapse plaas

plaashek-pexels

(Argieffoto: Pexels)

Die polisie in die Oos-Kaap het ʼn soektog van stapel gestuur na drie verdagtes ná ʼn gewapende roof Saterdagmiddag op ʼn plaas in Gonubie in Oos-Londen.

“Volgens inligting is ʼn 39-jarige vrou die middag omstreeks 14:00 op die plaas oorval deur drie verdagtes,” het brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, gesê. “Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen op haar gerig toe sy by die plaashek wou uitry. Sy is aangesê om na die plaashuis en kantoor terug te keer.”

Hulle het geëis dat sy vir hulle die kluis wys en het haar met die vuurwapen geslaan. “In die kantoor het hulle ʼn jaggeweer, twee skootrekenaars, ʼn handsak, twee selfone en ʼn beursie met ʼn onbekende bedrag kontant gebuit.”

Die verdagtes het met die vrou se voertuig, ʼn wit Prado, van die plaas gevlug. Geen skote is tydens die voorval gevuur nie en niemand het ernstige beserings opgedoen nie.

“Die voertuig is later sowat 3 km van die plaas verlate langs die pad gevind.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Genl.maj. Zithulele Dladla, waarnemende polisiekommissaris, het die plaasaanval veroordeel en doen ʼn beroep op lede van die gemeenskap om met die ondersoekbeamptes saam te werk sodat die verdagtes so vinnig as moontlik aangekeer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Massiewe werkloosheid + Ingewortelde kultuur van wetteloosheid + Bloedige geskiedenis = Misdaad

Kokerboom ·

Ek stem. Die ANC het sy mense en land op groot skaal gefaal!!!i

Kokerboom ·

Hierdie tydbom van sosiale anargie tik skrikwekkend vinnig!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.