Sewe verdagtes onder wie ʼn polisieman wat in Desember in hegtenis geneem is in verband met die 93 moorde by die berugte Glebelands-hostel in uMlazi in KwaZulu-Natal, het Maandag in die streekhof in Durban verskyn vir hul formele borgtogaansoeke.
Mxolisi Kaunda, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het vroeër aan Maroela Media gesê dié verdagtes se inhegtenisnemings is ʼn belangrike stap in die rigting om misdaad by die hostel ʼn nekslag toe te dien. Volgens Kaunda was die talle ongelisensieerde vuurwapens ʼn teken van “hoe gevaarlik die verdagtes is”.
Soveel as 17 aanklagte van onder meer moord, poging tot moord en sameswering tot moord staar sers. Bhekukwazi Louis Mdweshu (27), Ncomecile Matlala Ntshangase (34), Khayelihle Mbuthuma (32), Eugene Wonderboy Hlope (45), Mbuyiselwa Mahliphiza Mkhize (28), Vukani Mcobothi (25) en Mondli Talente Mthethwa (28) in die gesig.
Dié misdade is glo almal tussen 19 Augustus 2014 en 26 Maart 2016 gepleeg.
Volgens die klagstaat het die verdagtes en ander persone saamgesweer om ʼn sindikaat te vorm met die doel om inwoners van die Glebelands-hostel te vermoor om sodoende beheer oor die hostel te neem en hul geld te steel.
Die slagoffers was in die meeste gevalle inwoners wat gedreig het om die verdagtes se planne aan die polisie bekend te maak of daarmee ingemeng het.
Luidens die klagstaat sal die verdagtes saam verhoor word omdat al sewe verdagtes by die moorde betrokke was deur “bystand te lewer ondanks die feit of hulle die aanvallers was of nie”.
Die verhoor is tot Dinsdag uitgestel. Die borgtogaansoek sal na verwagting drie dae duur.
Kry vir julle. Hoop hulle sit baaaaaie jaaare!
Geen borg moet eers oorweeg word nie.