‘G’n blyplek hier’ vir gestremde seun en sy gidshond

Die 12-jarige Jayden Pieterse en sy geliefde hond, Pepper. (Foto: Verskaf)

Die ma van ʼn outismelyer in Kimberley sit hande in die hare nadat haar man se voormalige werkgewer die gesin sewe dae gegee het om uit die behuising wat die maatskappy voorsien het, te trek.

Rozel Pieterse se man, Jaco, het verlede maand die trekpas by sy werkgewer gekry en het onlangs by ʼn nuwe onderneming aangesluit.

Volgens Rozel is die gesin Dinsdagaand in ʼn brief wat per hand by hul huis afgelewer is, sewe dae gegun om die eenheid te ontruim of regstappe sal volg. Rozel sê vir dié gesin is dit egter makliker gesê as gedaan.

Die egpaar se jongste seun, Jayden, is ʼn nieverbale outismelyer wat oral deur sy gidshond, Pepper, vergesel word. Rozel sê om ʼn troeteldiervriendelike woonplek wat boonop bekostigbaar is op sulke kort kennisgewing te kry, is ʼn opdraande stryd.

Jayden was die eerste kind in die Noord-Kaap wat ʼn outisme-ondersteuningshond ontvang het. Die hond is sy permanente metgesel en is opgelei om “Jayden uit die moeilikheid te hou”. Die 12-jarige Jayden is vreesloos en die swart Labrador is geleer om alarm te maak as Jayden byvoorbeeld skielik die pad wil vat.

“Pepper het ook my lewe verander. Ek is nie meer so gespanne nie en ek weet nou dadelik as Jayden byvoorbeeld deur ʼn venster probeer klim of oor die muur wil klouter.

“As Jayden sommer wil begin hardloop, gaan sit Pepper en my kind is veilig. Waar Jayden gaan, daar gaan Pepper – maar mense het nie altyd vreeslike begrip vir ons situasie nie,” sê Rozel.

Sy sê hulle is boonop al uit sommige winkels op die dorp verwilder wanneer Jayden en Pepper probeer ingaan. Selfs al dra Pepper die baadjie wat aandui dat hy ʼn dienshond is, beweer sommige mense omdat Jayden nie blind is nie, mag sy gidshond nie ʼn winkel binnegaan nie.

Maar danksy Pepper het Jayden die afgelope paar maande selfs sy eerste woorde begin sê.

“Hy praat nog nie in sinne nie, maar vir ons is dit die wonderlikste ding om hom ‘sit’ vir Pepper te hoor sê, en sy lag wanneer hy vir Pepper sy treat gee.

“Jayden word sy eie klein mensie danksy Pepper wat in sy lewe is. Pepper het sy loopkussing geword, sy vriend, sy ondersteuning.”

Danksy Pepper sê Jayden nou al selfs sy eerste woorde. (Foto: Verskaf)

Rozel sê Jayden het veel meer vryheid vandat Pepper deel van hul lewe is. Die twee kyk saam TV – Paw Patrol, Mickey Mouse en prinses Sofia is van hul gunstelinge – en Jayden praat meer noudat hy ʼn permanente maat het.

Vir die gesin is dit dus geen opsie om na ʼn plek te verhuis waar Pepper nie welkom sou wees nie.

Rozel sê hulle het reeds alternatiewe blyplek geïdentifiseer, maar kan nie dadelik daarheen verhuis nie omdat die huidige huurders van die huis self ʼn kennistydperk gegee moet word.

“Ons wil so vinnig as moontlik hier uitkom; hoe vinniger, hoe beter.

“Die sewe-dae-tydperk verstryk Dinsdag, maar dit is hel om so vinnig ʼn ander blyplek te probeer kry. Ek is raadop. Ons het drie seuns en ek probeer net ʼn dak oor ons koppe hou,” sê sy.

ʼn Prokureur by die Pretoriase firma Couzyn, Hertzog & Horak het by navraag aan Maroela Media gesê op sigwaarde is sewe dae ʼn onbillike tydperk om van mense te verwag om hul blyplek te ontruim.

“Jy mag nie die reg in eie hande neem nie en dit sluit in om iemand sonder ʼn hofbevel uit ʼn huis te sit.

“Die feit dat hulle ʼn kind met spesiale behoeftes het, maak dit nog meer uitdagend. Bejaardes, diegene met spesiale behoeftes of gesinne met kinders word verdere grasie gegun,” sê hy.

Dit beteken egter nie dat ʼn huurder nie steeds aanspreeklik bly vir onkoste soos die huurgeld, onderhoud, diensterekening of selfs regskoste nie.

“Dit is beter om eerder so gou as moontlik alternatiewe blyplek te kry,” sê hy.

Residensiële uitsettings word ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond hanteer – maar die regskenner benadruk dat ʼn uitsetting steeds net ingevolge ʼn hofbevel gedoen mag word.

“Daar sal dus omstandighede wees waaronder jy ʼn uitsettingsbevel kan bekom.”

Hy sê ook ʼn verhuurder kan byvoorbeeld nie onder die dekmantel van onderhoud ʼn huis se deure afhaal wanneer ʼn huurder nie teen ʼn gegewe tyd uitgetrek het, of summier met die polisie opdaag nie.

“Almal het die reg op toegang tot behuising; dit beteken egter nie iemand moet jou leefstyl finansier nie – maar jy mag slegs iemand uit residensiële behuising sit met toestemming van die hof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

annie ·

Hierdie is ‘n tipiese voorbeeld van hoe ons wit mense mekaar deesdae behandel. Daar is duisende sulke gevalle, mense. En die een na die ander verhaal is tragies verby. Ouers wat hul kinders vermorsel en kinders wat hul ouers vernietig. Die naaste moet nou ly oor eie frustrasies wat oorborrel. Geldskaarste haal die slegste uit ons. Almal pos mekaar na erger om self beter te voel. Ons sal aalmoese en groot geld uitdeel aan vreemdes maar jou naaste se ellendes ignoreer. Soos hierbo. Straf gaan nie uitbly vir diesulkes wat een van die basiese Goddelike opdragte oortree nie.

Mariana ·

7dae onbillik en onmenslik, veral is Rozel se omstandighede. Gee hulle ten minste kans om ander verblyf te kry of tot die wat hulle wel kan kry ontruim is.

Mariana ·

Nee Tipper daar is nie rassisme of apartheid betrokke nie.

Olga ·

Mense, jy as huurder het ook regte. Moenie bang wees. Sy kennis is teen die wet!
Kry so gou moontlik nuwe plek om te bly, net omdat ek kan dink julle wil in elk geval nie daar wees maar …

The Consumer Protection Act (CPA), which regulates residential lease agreements states that such a notice period can not be less than 20 working days.

In a recent Western Cape High Court case of Luanga v Perthpark Properties Ltd 2019 (3) SA 214 (WCC), it was ruled that Section 5(5) of the CPA requires that the notice period runs from the first day of the month and terminates on the last day of that month, even if the notice is given during the previous month.

Ek hoop hulle kry ‘n fantastiese plek, alle voorspoed vir julle gesin.

Rian ·

Publiseer die voormalige werkgewer se naam en besigheid, sodat die mense hom kan boikot.

Vrijburger ·

Ek stem, maar gee ook eers die werkgewer geleentheid om sy kant van die saak te stel en al die feite op die tafel te sit.

Louisepretorius ·

werkgewer het geen menslikheid.sy naam van sy besigheid sodat hy gerapporteer kan word. is dit nie dertig dae vir uitsetting

Irma ·

In sekere gevalle kan huurders tot 3 maande kennis gegee word om die wooneenheid te ontruim wat vir my ‘n meer aanvaarbare tydperk is.

Chantel ·

Dit maak my sommer naar dat mense so harteloos kan wees. Sterkte vir julle

Toy ·

7 Dae is onbillik, hulle moet tenminste 2 maande gegun word om ‘n ander blyplek te kry. Die winkeleienaars is nou regtig ongevoelig, daardie honde is beter oplei en het beter maniere as baie mense,

agnes ·

Die vraag is waarom? Daar moet seker n rede wees waarom hy so gou afgedank en uit die woonplek gesit word?

Anoniem ·

Sterkte aan die familie. Ja, dit is nie gemaklik as jy ‘n kind met gestremdhede het nie. Die breë publiek het nie altyd begrip rondom die situasie nie.

TO ·

Skrynende skande. Maar jy mag ook mos nie uitgesit word tydens covid inperking nie. Ek het ook diere, en my diere is skoner en het beter maniere as sommige mense wat ek ken. Ek is ook baie seker as die huurder kennis gegee het sou die verhuurder verwag het dit moet ‘n kalender maand wees.

Eloise ·

My sussie word ook gedurig weggewys met haar gidshond uit winkels uit al dra haar gidshond ook haar baadjie. My sussie is n parapleeg en die gidshond, Emma, haal vir haar goed van die winkelrakke af wat sy nie kan bykom nie.
My jongste seuntjie is 5 met down syndrome en ons labrador lei ons op ons eie omkoste en met behulp van die beste veearts in die land, op om sy gidshond te wees. Voor Nella, ons labrador deel van ons gesin geword het, het hy skaars gepraat of kos geëet. Hy is tas sensitief en sal ook sommer net wegloop. Net gisteraand het Nella ons kom wakker maak toe my seuntjie naar was. Mense moet meer ingelig word oor die rol van gidshonde, dienshonde en terapie honde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.