Godsdiens in skole: ‘Beheerliggame sal uitspraak bestudeer’

godsdiens in skole

Argieffoto Foto: http://myhoustonmajic.hellobeautiful.com

In die praktyk beteken Woensdag se hofbeslissing oor godsdiensbeoefening in skole dat openbare skole eintlik kan voortgaan soos gewoonlik.

“Skole sal nou byvoorbeeld nie meer op hulle naamborde of webwerwe kan aandui dat hulle byvoorbeeld ʼn Christelike etos onderskryf nie, maar ek reken hulle kan steeds ʼn dominee oornooi om ʼn saalopening waar te neem, mits alternatiewe vir leerders beskikbaar is wat hulself nie met Christelike waardes kan vereenselwig nie – iets waarin die skole nog altyd geslaag het,” het Werner Human, ʼn prokureur verbonde aan Hurter en Spies, gesê.

Die hooggeregshof in Johannesburg het Woensdag, in wat as ʼn waterskeidingsaak beskryf word, beslis dat godsdiens wel in skole beoefen mag word, maar dat ʼn skool nie ʼn enkele godsdiens mag bevorder nie. Dit blyk dat die regter egter nou die onus op skole en gemeenskappe laat rus om te bepaal hoe hulle gaan verseker dat godsdienspraktyke nie diskrimineer of leerders uitsluit nie.

Openbare staatskole en skole wat afhanklik is van staatsfinansiering word deur die hof se beslissing geraak, maar dit het nie ʼn uitwerking op privaat skole nie.

Paul Colditz, voorsitter van die Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê hulle sal die hof se uitspraak bestudeer om te bepaal presies wat die implikasies daarvan vir die skole en hulle beleid is.

Fedsas het ses skole verteenwoordig wat in September 2014 voor die hof gedaag is oor die beweerde ongrondwetlikheid van die skole se godsdiensbeleid en die toepassing daarvan.

“Ek dink dit is belangrik om te noem dat die applikant in hierdie saak, die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie (Ogod), 104 aansoeke ingedien het waarvan net twee wel deur die hof toegestaan is.

“Die eerste is dat ʼn skool geen bepaalde geloof, of een geloof ter uitsluiting van ʼn ander, mag navolg nie. Fedsas het nog altyd aanvaar dat ʼn skool ʼn godsdiens-etos mag hê, maar daardie etos mag nie teen leerders diskrimineer of hulle uitsluit nie, min mense sal hieroor stry.

“Ons sal die tweede beslissing wat bevind het dat ʼn skool nie ʼn bepaalde geloof mag bevorder nie, moet bestudeer om die implikasies vir skole te bepaal, en kyk of dit reeds deur die skole se reëls rakende godsdienspraktyke beoefen word. Aan die hand hiervan sal ons besluit of ons met die hof se beslissing kan saamleef en of die ses skole verder regsadvies hieroor moet inwin,” het Colditz bygevoeg.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, en die vakbond, Solidariteit, wat as vriend van die hof in die saak opgetree het, het albei ook bevestig dat die uitspraak wat gelewer is in fyn besonderhede bestudeer sal moet word om te besluit oor die regspad vorentoe.

Volgens Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder van onderwyssake, word ouerbeheerliggame van openbare skole demokraties verkies. Sou hulle op ʼn bepaalde godsdienstige etos vir ʼn skool besluit, moet dit uitvoerbaar wees sonder om ander leerders uit te sluit. “Soos duisende ouers aan AfriForum bevestig het, is dit dan ook tans die geval by openbare skole. Die mate waarin hierdie reg deur dié uitspraak aangetas word, sal bepaal watter verdere regsaksie die partye in die saak sal onderneem,” het Bloem gesê.

“Soos Solidariteit dit verstaan, het die hof steeds ruimte gegee aan roepingsgedrewe onderwysers om hulself met ʼn Christelike etos by die skool te vereenselwig. Ek dink egter beheerliggame sal nou terug na die tekenbord moet gaan om te bepaal hoe hulle steeds Christelike waardes kan nastreef terwyl hulle verseker leerders met ander godsdiensoortuigings word nie uitgesluit nie,” het Juran van den Heever, woordvoerder vir Solidariteit, gesê.

Teresa Conradie, ʼn verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Charter of Religious Rights and Freedoms (SACRRF) het in ʼn onderhoud met Jacaranda FM gesê wat vir die organisasie uitstaan, is dat die hof die reg en die gesag van beheerliggame erken en bevestig het. “Beheerliggame is steeds die gesagsliggaam wat reëls rakende die beoefening van godsdienspraktyke kan vasstel. Hierdie reëls moet net regverdig wees en voorsiening maak vir vry en vrywillige deelname aan godsdienspraktyke en mag nie leerders uitsluit nie.”

Conradie het gesê sy beskou Ogod se aansoek as net deels suksesvol. “Die aansoeker se versoek was tweeledig. Die aansoeker het die hof versoek om sekere gedeeltes van die skole se beleide oor godsdiensbeoefening ongrondwetlik te verklaar. In die tweede gedeelte was ʼn versoek aan die hof om ʼn interdik in te stel teen die ses skole se onderskeie godsdienspraktyke. Van hierdie 71 praktyke was baie spesifiek tot algemeen uiteengesit.”

Volgens Conradie het die hof nie die aansoeker se aansoek vir die interdik teen hierdie 71 praktyke van die ses skole toegestaan nie. “Die hof het wel duidelikheid verskaf oor openbare skole se godsdiensbeoefening in sover dat hierdie skole nie een spesifieke godsdiens mag bevorder nie.”

“Ogod dink nie daar is iets verkeerd daarmee om kinders van godsdienste te leer nie, maar dit is verkeerd om kinders te leer hoe om godsdienstig te wees. Ons het ook ʼn probleem daarmee dat die staat se infrastruktuur en geld aangewend word om ʼn enkele godsdiens te bevorder. Daarom verwelkom ons die hof se uitspraak,” het Hans Pietersen, stigter van Ogod, in ʼn onderhoud met 702 Talk Radio gesê.

Pietersen het gesê hy het nie ʼn spesifieke probleem met Christenskap of Christelike skole nie. “Dit is maar toevallig dat daar so baie van hulle is – 80% van Suid-Afrika se bevolking dui aan dat hulle Christene is, terwyl sowat 2% Moslems en die ander geloofsrigtings ʼn verdere 5% van die bevolking verteenwoordig. Ons het gevoel dit is Ogod se plig om te verseker dat die speelveld vir alle geloofsrigtings gelyk gemaak word.”

Hy het verder gesê hy glo nie Christenskap of die beoefening daarvan kan bydra tot sosiale kohesie of nasiebou help bevorder nie. “Skole wat sekulêr is, hanteer diversiteit veel beter. Ons organisasie is nie teen godsdienste nie, ons wil net hê alle godsdienste moet ewe welkom by skole wees.”

Agtergrond

Ogod het in September 2014 ses skole per hofaansoek voor die hof gedaag oor die beweerde ongrondwetlikheid van die skole se godsdiensbeleid en die toepassing daarvan. Pietersen het gemeen dit is ongrondwetlik om een godsdiens uit te sonder en dat die Christelike gebruike by die betrokke skole gestaak moet word.

Die skole wat deur Fedsas in die hofsaak verteenwoordig word, is die Laerskool Baanbreker in Boksburg, Laerskool Garsfontein in Pretoria, Hoërskool Linden in Johannesburg, Laerskool Randhart in Alberton, Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn.

Anti-christelike fundamentaliste het al in Oktober 2009 gedreig dat skole met ʼn Christelike etos binnekort voor die hof gedaag sal word. AfriForum het toe reeds sterk standpunt daarteen ingeneem en gesê die organisasie sal skole teen sulke regsaksie steun. AfriForum is ʼn vriend van die hof en ondersteun die skole met regskoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

33 Kommentare

Leendert ·

Dankie Afriforum, dankie Fedsas. En dit is mos nou heel logies dat mens nie ander gelowe kan uitsluit nie, waar daar sodanige in die skole is, en dan moet daar vir hulle alternatiewe wees.

Ouma ·

Meeste gelowe glo in die tien gebooie. As hulle hiervolgense handel, het ons nie probleme nie.

Boerseun ·

Die Israeliete was nooit in Egipte nie en die storie van die Tien Gebooie is ‘n fabel. Dis seker hoekom die kerke dit nie meer elke Sondag opsê nie.

MCH ·

Privaatskole word geensins geraak deur die uitspraak nie. Dis goeie nuus. Mens neem kennis van Pietersen se mening dat hy nie glo dat Chistenskap of die beoefening daarvan nasiebou of sosiale kohesie bevorder nie. Dit is n taaie om te verteer, maar deels tog waar met 80% van die bevolking wat hulself as Christene beskou en ons sit met n rassewrewel soos tans.

Jacobus ·

Voor 1994 toe ek in die weermag was, het ons elke Woensdag Godsdiens beoefen deurdat verskillende dominees na die basis gekom het waar elke geloof en/of kerk se lede dan die betrokke geloof se diens kon bywoon.

Is dit nie dalk ‘n oplossing vir die situasie nie.

So word onderwysers nie gebruik vir geloofsonderrig nie, niemand kan die skool blameer in die uitoefening van geloof nie, geen onderwyser kan ‘n spesifieke geloofsoortuiging aan kinders opdring nie en die wat Godsdiens verrigtinge nie wil bywoon nie kan dan besig gehou word met ander skool aktiwiteite.

So sal die kinders wat nie in ander gelowe onderrig wil word nie dan werklik hulle Christenskap kan uitleef.

Dit kan ‘n daaglikes of weeklikse instelling wees, maar dit moet onderhewig wees aan alle ouers se wense en nie net aan die beheerligaam oorgelaat word nie.

Dit sal verhoed dat beheerligame dalk kan besluit om Godsdiens dalk uit die skool te verban as die lede van die beheerligaam dalk sekulêre onderrig of ateïsme wil bevorder.

Jessica ·

Ek verstaan nie. As die regter teen godsdiens is en nie besef wat die impak van sy besluit op ons nageslag het nie, kyk maar net wat se impak het dit op Amerika se skole, hoekom word daar dan nog in die hof gesê so help my God as die hof nie meer glo in die Almagtige God nie? Dit is dan teenstrydig en word daar n bespotting gemaak van godsdiens. Het die mense dan geen vrees vir God meer? Al wat ek weet is dat ek nie in die ou se skoene wil staan wat teen godsdiens besluit het.

Jan ·

Dit blyk dat selfs regters in hierdie land het geen morele waardes meer nie. Mens kan dus nie agterkom wat hul kompas in die lewe is nie, dalk die grondwet?

Willem ·

Die regter interpreteer en pas die wette van die land toe. Dit moet hy doen ongeag van sy godsdiensoortuiging. Die uitspraak is 100% korrek in terme van die grondwet. Nou weet julle hoekom staat en kerk apart moet bly

Johann ·

Pietersen. Die arrogante vermetelheid wat jy selfs in jou moedswillige afkorting van jou organisasie gebruik, gaan jou nog duur te staan kom. Bemagtig die bose self in en deur jou bestaan, en jou lewe nou en hierna sal die vrugte van jou valsheid dra…WEET dit!

Jaco ·

Sies, jy speel die man en nie die bal nie (en ek nou ook, maar my rede is anders).

Daleen ·

My klip in die bos of liewer woud … Skole moet fokus om gelettertheid te bied gekoppel aan waardes (punt) … Waardes hoef nie noodwendig aan n geloof gekoppel te word nie. Ek glo beslis dat daar waardes en normes in ons liewe lewe is wat virseker nagestreef kan word binne skool raamwerk sonder n betrokke geloof… Want vat liefde byvoorbeeld, hoewel dit n sterk konneksie met baie gelowe het, is dit tog n waarde wat een is met ons bestaan (moeilik om te glo maar dit is).. Ek glo ook dat mens se geloof nie beperk moet wees tot n seker instansie nie, selfs nie eens n kerkgebou nie. Mens kan pouse stil onder n boom gaan sit en bid sonder dat enige reëls verbreek word.

Alida ·

Die klippe gaan nou op my reen maar hierdie gaan een helse herrie veroorsaak. Ek is van mening dat Godsdiens by die huis beoefen moet word. Dieselfde geld vir die taal toffie. Maak alles engels dit is n wereldtaal en beoefen jou taal en kultuur uit in jou vrye tyd by die huis. Daar is deesdae so baie rasse in skole en elkeen het sy eie idees. Mens kan nie ander se kulture en godsdiens op almal afdwing nie.

chrisp ·

Gaan se dit vir die Duitsers.Russe,Japanners,Swede,Fraanse ens.
Almal lande en volke wat juis in hulle eie taal meer bygedra het tot die weste(beskawing) as Engelssprekende lande en dit in alle velde ,tegnologie, wetenskap en kuns.

Maar nee ons sal al die bewyse van uitnemendheid in bg velde juis deur moedertaal onderig bloot ignoreer en agteroor buig om PK te wees.

Johannes ·

Alida, hoe kan jy God so verloën? Sy opdrag is duidelik – Ek is die Enigste Ware God wat onverdeelde trou eis.

Jan ·

Baie interresant Alida, die kinders beoefen dit by die huis, en leef dit in die skool uit waar hulle teen mekaar afvryf. Meestal, eintlik in alle geval, is dit mos so dat maatjies soek maatjies by wie hulle aanklank vind, né. En soos mens groter raak. Juis die wat sterk morele oortuigings het, ander beweeg maar so saam met die stroom, en sekere ander feen nie ‘n dêm.

So wat sê ons vir mekaar op die einde van die dag? Maar nee, ons mag dit nie sê nie want dan diskrimineer ons.

Louw Wepener ·

Alida, goeie kommentaar.

Jan, dis OK as maatjies oor geloof praat. Maar as die juffrou my kind vertel sy gaan hel toe is dit ‘n ander ding.

Johannes, hoe is dit god verloen? Jy kan mos stilletjies bid?

Pine ·

Ek wonder of mens mag wonder aan watter geloof Pietersen behoort. Self attiese glo aan iets.

SJ ·

Nee Pine, ateiste glo juis in niks bonatuurlik nie, dis die hele punt. Geen God, gode, feetjies of voorvader geeste vir ons nie.

Louw Wepener ·

Waaraan “glo” ateiste? Ek kan jou belowe dis nie aan heilige spoke wat uit joodse mites ontstaan het nie

Trisa Hugo ·

Ek word tóg of ek ek na dieselfde hofuitspraak as die joernalis geluister het…

Pik ·

Wat gebeur as ek my kind na n moslem skool toe stuur en hy wil sy ham broodtjie pouse eet? Dit maak nie vir my sin nie laat almal leef in vrede hoekom krap waar nie nodig nie n skool kan nie 20 gelowe he nie sit jou kind dan in die regte skool

brt ·

Solank die staat betaal, al is dit met jou belastingrande, sal jy buig . . . Moslemskole is privaat en is uitgesluit van die bepalings van hierdie uitspraak.

brt ·

Wat gebeur in die praktyk as ‘n Moslem ouer daarop aandring dat saalopening voortaan om die beurt van volgende volgende Maandag af deur sy Imaam gedoen moet word, en die daaropvolgende Maandag deur die geestelike voorganger van die Hindu geloof en so aan?

PJ ·

Stem.. dan eerder niks.
Leer jou kinders van God by die huis en laat die skool nie die kinders verwar nie.
Laat hulle maar fokus op skoolwerk.

Johannes ·

Hierdie uitspraak beteken dus dat geen openbare skool net God en Jesus Christus as enigste Ware God mag erken en dien nie, maar nou erkenning moet gee aan afgode. Dus moet afgodery binne hierdie skole toegelaat en gelyk gestel word aan Christenskap.

Watter verskriklike (vuur) toets gaan hierdie nie vir WARE Christene wees nie! Gaan ons as WARE BELYDENDE Christene opstaan en God se Wil nakom, of gaan ons ‘n humanistiese staat en regstelsel se wil nakom? Is ons bereid om vervolging in die gesig te staar?

Hierdie is net die begin en herinner my baie aan Daniel se tyd – buig voor ons as regering se afgode of word vervolg!

Wat het ons gedoen om hierdie land aan godeloses oor te gee?! God help ons!

Jan ·

Al wat gaan gebeur is dat daardie mense wat ‘n sterk geloofoortuiging het, maak nie saak van watter geloof nie, maar by wie dit saakmaak, gaan in die toekoms toenemend na privaat skole migreer.

Amen.

John ·

?… en ons kan aangaan soos altyd? Met sulke uiteenlopende uitsprake soos hierbo nogal in Afrikaans? Ja, selfs IS het kennis geneem van die uitspraak en pics gepos wat die hare laat rys. Christene sal hul luiheid moet los. ‘n Nuwe tydvak word betree en ons kinders staan midde in die stryd. Lees asb Nehemia 9.

Louw Wepener ·

Respekteer die hofsaak! Ek kan julle belowe, as julle aangaan soos julle tans aangaan in die skole sal ons julle vasvat. Daar is mense wat anders as julle glo en dink en dit moet gerespekteer word. Julle het nie alleenreg om te maak soos julle wil in ons Afrikaanse publieke skole nie.

Len ·

Louw Wepener – Weet jy dat dit in SA teen die wet is om nader as 2m van n vrou/man in publike te sit as daardie persoon slegs swemdrag aanhet. Dis ook teen die wet om met n beer te stoei in SA. ( ja jy lees reg )
Hoe gaan jy / ogod verseker dat 25000 skole daagliks geen Christelike aktiwiteit aanbeid nie? Gaan daar polisie in elke klas geplaas word? Hierdie uitspraak is net n formaliteit, dit gaan stofgaader soos al die ander derduisende wette wat nie prakties uitvoerbaar is nie.

Louw Wepener ·

Len,

Alle wette / regulasies is nie op dieselfde vlak nie – as dit belangrik is word dit afgedwing. En neem aan jy is gelukkig die wet teen diefstal en moord word afgedwing? Die ouers sal self die skool polisieer – ouers soos ek wat moeg is vir julle indoktrinasie van ons kinders

Koos ·

Weet jy hoeveel ouers is nie gelowig nie, Len? Dit gaan maklik wees! Soos Bob Dylan gesing het “The times are a-changing”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.