Grassny eers opgeskort in Kaapstad vir die blomme

(Foto: Stad Kaapstad)

Die Kaapstad-munisipaliteit se departement van parke en ontspanning het bevestig dat hy eers teen die einde van November 2022 met sy grassny-skedule by parke en openbare ruimtes gaan begin om lenteblomme en die verskeidenheid inheemse plante kans te gee om te bloei.

Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê dit is ʼn jaarlikse verskynsel om die plantspesies te beskerm en te bewaar en seker te maak dat hulle die jaarlikse groeisiklus tussen Augustus en November kan voltooi.

“Huidige weerpatrone wys dat die blomme vroeër vanjaar sal begin bloei. Sommige het reeds hul kleure begin wys,” sê Van der Ross.

Grassny is opgeskort in openbare ruimtes, parke, groen stroke en dié gebiede wat uitgeken is as grond waar belangrike plantegroei voorkom.

“Die doel is om die ekologiese prosesse te beskerm wat die groei van fynbos-plantegroei bevorder. Sommige gebiede word ook as bewaringsdeurgange beskou en verbind oop ruimtes, natuurreservate en nasionale parke. Dit verseker ʼn gesonde netwerk van omgewings wat met mekaar verbind word. Dié gebiede sal velde van kleur wees sodra die blomme begin bloei met ʼn verskeidenheid van lenteblomme wat inwoners kan geniet. Blomme speel ook ʼn belangrike rol in die bestuiwingsproses.”

Van der Ross sê die geleentheid om klein blommetjies te sien en hulle toe te laat om volwassenheid te bereik en onverhinderd saad te skiet, beteken dat die gras langer moet groei waar hulle aangetref word. “Dit lyk dalk soos ʼn onnet stuk gras wat nie gesny is nie, maar dit is eintlik ʼn gesonde omgewingsbestuur-instrument wat die blomme onverhinderd laat groei sodat hulle nog vir talle generasies kan bly voortbestaan.”

Sy nooi die gemeenskap om saam met die munisipaliteit die skouspel van geel, oranje en wit madeliefies te geniet en by hulle aan te sluit vir dié belangrike en opwindende ekologiese reis.

Die roetine grassny-bedrywighede sal hervat sodra die blomme voldoende saad vervaardig het.

ʼn Omvattende lys van die gebiede wat slegs gedeeltelik gesny sal word of waar grassny in sy geheel tot November opgeskort word, is hier beskikbaar.

Inwoners kan aansoek doen dat hul parke of groen ruimtes ook by die lys ingesluit word deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected] met die ligging, bewyse van die blomme en ondersteuning van die bure.

(Foto: Stad Kaapstad)

(Foto: Stad Kaapstad)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Sjoe, hoe skaam kry ek nou vir ons munisipaliteit se part. Ongelooflik heerlik om in sulke omgewings te woon! Maar moenie vir een oomblik dink die munisipale amptenare in vuil stede en dorpe sal skouer aan die wiel sit nie, nee. Inwoners wat die meeste skreeu en klaag oor die smerige rommel, stort dit self en verwag hul naaste moet dit gaan opruim. Maar almal wil eendag in ‘n pragtige skoon Hemelse Paradys beland. Hoekom?

Harley Davidson ·

Die weskaap is so geseën met ‘regte leiers en bevoegde mense in beheer, dink net as die weskaap kan wegbreek van sa en ‘n onafhanklike land word in Afrika.

Nommer 7 ·

Dan is daar ook parke waar die “vrystaat” gras meter hoog staan en saad skiet om volgende seisoen te ontkiem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.