‘Grensverskuiwende’ uitspraak oor ouerskapverlof se gevolge ‘verreikend’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Grensverskuiwend.

Só is die Johannesburgse hooggeregshof se uitspraak oor ouerskapverlof Donderdag bestempel.

Die regsfirma Webber Wentzel sê die saak van Werner en Ika van Wyk en ander teen die minister van arbeid en indiensneming het nie net die wetlike interpretasie van kraamverlof uitgedaag nie, maar ook breër samelewingsnorme en verwagtinge oor ouerskaprolle.

“Hierdie saak het intense debat en uiteenlopende menings oor die meriete daarvan ontketen en sal ʼn noemenswaardige uitwerking in die werkplek hê,” sê Deon Visagie, Joani van Vuuren, Jamie Jacobs en Nkosinathi Thema in ʼn gesamentlike mening van Webber Wentzel.

Maroela Media het vroeër berig sekere gedeeltes van die Wet op Basiese Indiensneming en die Wet op Werkloosheidsversekering is Woensdag ongrondwetlik verklaar omdat – wanneer dit kom by sogenaamde kraamverlof – wetgewing onbillik diskrimineer teen ma’s en pa’s, surrogaatouers en diegene wat kinders aanneem.

Regter Roland Sutherland het die ongeldigheidsverklaring vir twee jaar opgeskort om die parlement die geleentheid te gee om die “defekte reg te stel”.

Alle ouers is intussen geregtig op vier maande ouerskapverlof, en indien hulle tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) bydra, ook op alle WVF-voordele.

“Hierdie grensverskuiwende besluit het die potensiaal om die ouerskap-verloflandskap in Suid-Afrika te transformeer,” sê Webber Wentzel.

Die Konstitusionele Hof moet egter nog die uitspraak bekragtig.

Webber Wentzel sê dit skep nietemin ʼn nuwe presedent vir ouerskapregte en gelykheid in die werkplek.

“Die Van Wyk-saak verteenwoordig ʼn belangrike stap in die rigting van die bereiking van geslagsgelykheid en gedeelde ouerlike verantwoordelikheid. Hierdie hofbeslissing het ʼn presedent geskep wat die weg kan baan vir ʼn meer inklusiewe en ondersteunende werkomgewing vir alle ouers in Suid-Afrika, wat uiteindelik tot voordeel van gesinne, werknemers en werkgewers sal wees.”

Die firma sê werkgewers behoort egter kennis te neem van die bedryf- en koste-implikasies van die uitspraak, veral as hulle betaalde kraamverlof aanbied.

“Daar sal van werkgewers verwag word om die betaalde ouerskapverlof aan alle individuele werknemers of werknemers wat saam ʼn ouerpaar vorm te verskaf. Soos die regslandskap ontwikkel om hierdie uitgebreide definisie van ouerskapverlof te akkommodeer, is dit noodsaaklik vir werkgewers om hul beleid en praktyk te hersien om nakoming van die nuwe wetlike raamwerk te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

JohanR ·

Sal iemand nie ses maande swanger wees, by ‘n firma begin werk en siedaar na drie maande daar werk, is dit vier maande verlof? Die ding kan soos die kinder toelae misbruik word.

Oosieoos ·

Al wat a bangkrot land nodig het. Die meeste wil nie werk nie en alles verniet kry nou nog dit ook. Dankbaar ek het nie a besigheid nie

Bulkalf ·

Nou is die helfde van die werksmag op verlof, aldus die wat werk het bygese.

Alexander ·

Stel LGBTQ+ mense aan, want in die algemeen gaan ons NOOIT kraamverlof benodig nie :)

Johann ·

Gaan seker saam met ‘n grant gaan. Ek bedoel daars klaar een vir elke moontlik “people friendly” situasie.

Marius ·

Dis ‘n mooi beginsel maar die effek op ‘n onderneming is erg. In SA moet ons ook opweeg of ons hierdie regte kan bekostig (die staat en die ekonomie) en dit is moeilik uitvoerbaar al is dit ‘n mooi idee.

Goldy ·

Die probleem met verligtes is hulle kan nie net een stap verder dink nie. Dit gaan eenvoudig teen mense tel wat vir werk aansoek doen wat kindkry ouderdom is, dan maak dit dinge net nog moeiliker vir jongmense.

Lettie ·

En sou die pa drie vrouens hê en 3 swangerskappe. Wat sal dít bereken. Jaar swangerskap verlof? A-nee-a!

annie ·

Daar kan of sal nie bepaal kan word watter werkers wanneer weg sal móét wees op kraamverlof nie wat kan veroorsaak dat daar oorvleueling is en die werksmag te min is. Gaan tydelike werkers aangestel word en seker gemaak word dat die tydelike werker nie ook op verlof moet gaan nie. Dit kan gebeur dat ‘n spesifieke egpaar klokslag vier maande van die werk wegbly en die werkgewer sal verlief moet neem. Maar dit is waar dat ons die 100 milj kerf sal moet haal voor die volgende sensusopname anders word rassisme weer gebore.

Frank ·

jacob Zuma sou grootste deel van sy termyn met kraamverlof by die huis gewees het. Werknemers gaan bloot ophou om kraamverlof aan te bied en / of jongmense aan te stel.

Annamarie ·

Ek dink jy bly nog steeds ‘n ouer of jy getroud, geskei of nooit getrou het nie.

ES ·

Dit werk presies dieselfde annie, jy is nie slegs ‘n ouer net as jy getroud is nie, daar is baie ouers wat ongetroud is.

Helena Elizabeth ·

En hoe weet ‘n maatskappy dat die kind waarvoor die man kraamverlof wel sy kind is?

Althes ·

Ons land is reeds oorbevolk, hierdie gaan ñ aansporing wees om onproduktief te wees. Daar is hoeveel weggooibabas of babas om kindertoelae te kry.

ES ·

Gaan lees die hofbeslissing baie mooi – Altwee ouers kry in totaal 4 maande. So as die ma 3 maande vat, kan die pa slegs die verskil van 1 maand kry om totaal 4 maande te maak. Elke ouer kry nie 4 maande nie. Die ouers kan besluit hoe wil hulle die 4 maande tussen hulle wil opdeel. Ek dink dit is regverdig, want pa’s kry gewoonlik net 5 – 10 dae verlof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.