Groblersdal-betoging: Oudburgemeester ook in hof

Francois van der Merwe, Dries Olivier, Groblersdal, Limpopo, Bittereinders, betoging, Pieter Groenewald, Stephan Greeff, openbare geweld, aanhitsing

Francois van der Merwe (link)s saam met Andries Diederick Olivier in Groblersdal. (Foto: Bittereinders / Facebook)

ʼn Inwoner van Groblersdal in Limpopo is Woensdag in hegtenis geneem vir sy aandeel in ʼn betoging in dié dorp vroeër in die jaar.

Andries Diederick Olivier (76) – ʼn voormalige burgemeester van die plattelandse dorp – het volgens die staat openbare geweld aangehits tydens ʼn betoging op Woensdag 24 Januarie.

Volgens die staat sou hy en sy medebeskuldigdes tesame met sowat 100 ondersteuners die dag voor die hof betoog het vir die vrylating van Piet Groenewald en sy stiefseun, Stephan Greeff, wat van die aanranding op ʼn werker aangekla word.

Voor die hofverrigtinge kon begin, is Van der Merwe voor die hof in hegtenis geneem omdat hy glo deur ʼn polisieversperring wou beur. Die polisie wou die betogers glo nie toelaat voor die hof nie, al het hulle vooraf toestemming vir die betoging gehad.

Landdros Agmat Phago het reeds op 19 Februarie Van der Merwe, Wessels, Petzer en Hofmeyr se borgtogaansoek toegestaan. Hy het toe beveel dat nie een van die vier weer ʼn betoging namens Groenewald of Greeff, asook geen hofverskyning van hulle mag bywoon nie.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, het bevestig Olivier het Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van openbare geweld, aanhitsing om openbare geweld te pleeg, aanranding en die versuim om te voldoen aan spesifieke regulasies van die Wet op die Reëling van Byeenkomste.

Die klagte teen hom sal saamgevoeg word met dié van die twee aktiviste Tewie Wessels en Willem Petzer, en twee lede van die Bittereinders-beweging Francois van der Merwe en Devon Hofmeyr. Hofmeyr het intussen bedank uit dié beweging om ʼn politieke loopbaan na te streef.

Wessels, Petzer, Van der Merwe en Hofmeyr het hulle op 12 Februarie aan die polisie oorgegee.

Olivier het destyds nie saam met hulle aangemeld nie ná hy ʼn siekbrief by die Groblersdal-polisiekantoor ingedien het.

Maroela Media verneem hy het wel Woensdag by die polisiestasie aangemeld, waarna hy voor die hof gedaag is en op borgtog van R5 000 vrygelaat is.

Olivier se saak is tot 4 April uitgestel wanneer hy saam met sy medebeskuldigdes sal verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pampoen ·

Die eensydigheid van optrede is duidelik. Ander betogings word net gemonitor. Koop sentrums word totaal en al geplunder en die polisie staan en toekyk. Ons mag nie boe-of-ba sê nie of ons word toegesluit. Een wit man maak ‘n onwettige konneksie met krag en word tronk toe gestuur (en reg so), maar hordes ander doen dit openlik en sê dan blatant hulle moet dit doen om te oorleef en hulle kom daarmee weg?

Renier ·

Hoeveel arrestasies is gemaak by die hof geweld van Joshlin se ma se verhoor? of enige ander protes aksie wat tans buite enige howe plaasvind? tjoep stil is hulle nou…

Misky ·

Wie het hierdie arme oom van 76 jarige ouderdom aangerand dat so belaglike klag bygevoeg is tot die klagstaat?

piet ·

Renier – Net die wat die polisie bestorm en gestamp het, het probleme en word aangekla. Die ander bitterpille het hulself binne perke gedra en is nie gearresteer nie.

Jacobus ·

Omgekeerde rassisme teen enige wit persoon wat net regverdigheid wil he.

Gaitsigubib ·

Renier van Piet se hoek af kon jy mooi sien hoe geweldadig Oom Andries was. Blykbaar is hy so vrot van die karate a.g.v al die yster in sy heupe wat hom meer “flexible” maak. Ek weet jy glo my nie, maar gaan vra maar vir die ouens wat mooi kon sien. Jy kan mos sien hoe gevaarlik lyk hy?

Gaitsigubib ·

Danie, ek stem saam met jou dat dit belaglik geraak het in hierdie anargistiese piesangrepubliek land. Waar ek verskil is dat slegs die ANC blameer moet word. Jy kan self sien hoe sommige kommentators geen probleem het om Oom Andries in die tronk te gooi nie. Die media spreek ook nie juis sy skok uit dat bejaardes so behandel word nie. Waansin het nou ons nuwe realiteit geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.