Onskuldig tot anders bevind, sê Groblersdal-hof in uitspraak

Willem Petzer, Tewie Wessels en Devon Hofmeyr nadat die hof borgtog aan hulle toegestaan het. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Willem Petzer (27), Tewie Wessels (32), Devon Hofmeyr (30) en Francois van der Merwe (24) mag voortaan glad nie weer ʼn betoging namens twee inwoners van dié dorp bywoon nie, het landdros Agmat Mphago Maandag in sy uitspraak oor die vier se borgtogaansoek beslis.

Die landdros het verwys na die afsonderlike saak van Piet Groenewald (63) en sy stiefseun Stephan Greeff (27) wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn werker aangerand en glo ʼn veiligheidshond op hom losgelaat het.

Ná die aanklagte teen hulle rugbaar geword het, het Petzer, Wessels en Hofmeyr hulself aan die polisie gaan oorgee. Hulle was sedert verlede Maandag in aanhouding.

Van der Merwe, wat saam met Hofmeyr ʼn mededirekteur van die Bittereinders-beweging is, is sedert 24 Januarie in aanhouding.

Die vier en nog sowat 100 ondersteuners het vroeër by die hof opgedaag om te betoog vir die vrylating van Groenewald en Greeff.  Voor dié verrigtinge kon begin, is Van der Merwe in hegtenis omdat hy glo deur ʼn polisieversperring wou beur. Die polisie wou betogers glo nie toelaat voor die hof nie, al het hulle vooraf toestemming gehad.

Ná Petzer, Hofmeyr en Wessels hulself aan die polisie oorgegee het, is hul borgtogaansoek saam met dié van Van der Merwe gevoeg.

Willem Petzer, Devon Hofmeyr en Tewie Wessels in die hof op Groblersdal. Francois van dier Merwe (heel links), die vierde beskuldigde in die saak, staan met sy rug na die kamera. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Die staat het Van der Merwe se aansoek om borgtog teengestaan en aangevoer daar is ʼn kans dat hy weer ʼn oortreding sal begaan. Die staat het ook aangevoer dat hy ʼn gewelddadige persoon is.

Die landdros het egter bevind daar was nie voldoende bewyse om dié bewerings te staaf nie.

Hy het voorts genoem almal is gelyk voor die reg, ongeag hul velkleur, en moet as onskuldig geag word tot anders bewys.

Mphago het veral verwys na Van der Merwe wat in sy eedsverklaring verklaar het dat hy dit as sy persoonlike plig sien om op te staan vir die ongeregtigheid waarmee mense, spesifiek op grond van velkleur, ras, etnisiteit, kultuur en taal, behandel word deur alle sfere van die regering, insluitende die howe, die vervolgingsgesag en polisie.

Landdros Agmat Mphago lewer uitspraak. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

“Ek het alreeds aangedui dat hierdie soort vyandige opmerkings nie hierdie hof aanstaan nie … Ek weet nie waar dit vandaan kom nie. Die applikant het vir die eerste keer op 24 Januarie in die hof verskyn, so daar was geen manier vir hierdie hof om hom op sy velkleur te oordeel nie.

“Die hof moet almal gelyk hanteer, ongeag kleur of ras,” het Mphago gesê.

Hy het verder bevind die staat het ook nie genoeg bewyse ingedien om die bewering – dat Van der Merwe ʼn gewelddadige persoon is – te staaf nie. Mphago het ook daarop gewys dat Van der Merwe, Petzer, Wessels en Hofmeyr tereg staan op dieselfde aanklagtes wat verband hou met openbare geweld en die aanhitsing tot openbare geweld.

Mphago sê ingevolge wetgewing is die vier onskuldig, tot die teendeel bewys word.

Die mans bid Maandag in die hof op Groblersdal nadat borgtog aan hulle toegestaan is. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

“Borgtog moenie gebruik word om iemand te straf nie. Ingevolge die wet is dit almal se reg om as onskuldig geag te word tot anders bewys.”

Borgtog in die bedrag van R5 000 is aan al vier die mans toegestaan.

Daar is egter twee voorwaardes, naamlik dat hulle nie enige hofverrigtinge van Groenewald mag bywoon of aan optogte ten bate van Groenewald mag deelneem nie.

Ná die hofverrigtinge het die vier saam met hul regspan ’n kring gevorm en in die hof gebid en buite die hof het hulle mekaar omhels.

Die mans se regsverteenwoordiger het aangedui dat hulle nie in hierdie stadium wil kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Luister mooi na landdros Agmat en bly uit die moeilikheid.

Johan ·

Wel gedaan landdros Mphago… Sal dit nie wonderlik wees as àlmal oral gelyk & objektief hanteer en behandel word nie. Kan egter nie help om te wonder waarom hierdie borgaansoek so lank moes sloer nie. Nietemin, die landdros het hom goed uitgedruk.

lollapot ·

As ALMAL gelyk was voor die reg? Dan was daar nie n saak teen Petzer en Kie nie! Dankie vir die mooi broodjies landros, maar ons is op n dieet! Jy het van die begin af, saam met jou trawante vir tyd gespeel, tyd om dit so ongemaklik moontlik vir hierdie jong manne te maak! En hulle so lank as moontlik in die tronk te hou. Die ondersoek beampte is, of onnisel, rassisties of hy eet uit luis liebenberg se kosblik!

Casper ·

Piet Groenewald was al hoorheen skuldig bevind aan moord en het gevlug.Wie sê hy sal nie weer vlug,alhoewel ek dit sterk betwyfel.Ek weet nie of hierdie 2 manne skuldig is aan die misdryf waarvoor hulle aangekla is nie.Ek dink die getuie het mooi geleer by die getuie in die Coligny en Middelburg sake.Hiedie saak teen die 2 is polities gemotiveerd,vra maar vir hoedman en Lamola.

Nettie ·

Baie dankie, landros Mphago.
Goed om te hoor almal is gelyk.

En ons dank aan ons Hemelse Vader. Laat geregtigheid geskied.
Dis ‘n riem onder die hart dat hulle dadelik hul dank ook aan ons Vader gegee het.

Karoo ·

Die wiel het gedraai… al jare la k terug, ons moet ander maniere vind en so uit die “moeilikheid” bly.

Maverick ·

Gee die landros n bells asb. Mag die res by hom kom leer oor reg en verkeerd. En dat velkleur nie tersake is nie

Boatsie ·

Ai ai ai, sedert 1994 het ons gesien die potlode wat nie baie skerp is nie, raak al hoe meer by die dag.
Lyk my die regsbank ly ook nou daaronder.

Gaitsigubib ·

Reg so landros Agmat, maak maar eers n finale beslissing dan sal die publiek sommer besluit of kleur geen rol gespeel het nie. Daarvoor is een van jou toesprake werklik nie nodig nie.

JACF ·

Saam met jul dankbaar dat jul borg toegestaan is.
Vertrou die verhoor sal regverdig plaasvind en dan kan jul voortgaan met goeie werk.
Vergeet en ignoreer alle negatiewe opmerkings rondom jul poging, daar is duisende van ons wat waardering vir jul optredes het.
Dankie daarvoor!!

Michael ·

Dit is duidelik dat die reg stelsel ook besig is om te faal,die 4 is nie regverdig behandel nie en hulle mense regte is geskend, ek hoop siviele eise is die volgende stap.

ES ·

@lollapot die regter het nie vir tyd gespeel nie. Duidelik het jy geen idee hoe hofprosedure werk nie. Die hof kan slegs besluite neem gebaseer op wat voor die hof uiteengesit word. Die regter kan nie net besluit hulle lyk onskuldig so hulle moet borg toegestaan word nie. Daar is ‘n proses, en die hof moet onpartydig wees. Die staat het bewerings gemaak wat hulle nie kon staaf met bewyse nie, en die hof het die besluit gemaak gebaseer daarop en borg toegestaan.

Miena ·

@ES – net f.y.i. duidelik weet jy nie watter Regs-beampte dien in watter Hof nie…(komende van n ex-Klerk van die Hof) die saak is in die Laerhof aagehoor dus was n Landdros teenwoordig. Slegs wanneer n Regter ter banke is, is tydens n saak in die Hoërhof.

Gaitsigubib ·

ES hy het vir tyd gespeel. Waarom sal jy iemand wat n generator gratis wil inspan vertel word dat dit nie nodig is nie? Almal weet dat die hof moet onpartydig wees, maar om te glo dat hy altyd is, is dagdromery. Jy word mos nie altyd toegesluit vir enige petty misdaad nie, maar moet steeds in die hof verskyn. Jy is n pokereur so jy weet dit mos? Die EFF kry VIP behandeling, jy kan mos sien hoe skiet JM skote die wereld vol wanneer hy gil dat boere vermoor moet word dan gebeur daar niks nie. Kan jy dit sien?

Elma ·

Soos die boek Animal Farm wat ons jare gelede op skool moes lees. “All animals are equal, some are just more equal than others”.

Jannie ·

Agbare landros, net toe ek alle hoop verloor het in die regeringsamptenare, toe wys jy my verkeerd.
Mag jy geseënd wees!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.