Sewe verdagtes sal Maandag in die Brits-landdroshof verskyn op verskeie roofaanklagtes sowel as poging tot moord.
Sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, het gesê dié sewe is Donderdag [5 Julie] vasgetrek ná hulle ʼn groep mense wat rondom ʼn vuur gesit en kuier het aangeval het naby Brits.
Moleko het gesê die mense het 30 Junie omstreeks 19:00 by die vuur gesit toe die eienaar van ʼn snoepwinkel wat op dieselfde erf geleë is na die binnekant van die snoepwinkel beweeg het.
“’n Groep mans wat bekend is aan hom het die erf betree. Die mans het na bewering skote begin afvuur en het almal rondom die vuur opdrag gegee om op die grond te gaan lê,” het Moleko verduidelik.
Hulle het al die slagoffers deursoek en hulle van kontant en selfone beroof.
“Hulle het na die snoepwinkel beweeg en probeer om gedwonge toegang tot die winkel te kry. As gevolg van die deur wat van binne geblokkeer was, kon hulle nie daarin slaag nie,” het Moleko gesê.
Die verdagtes het skote deur die deur afgevuur en die snoepwinkeleienaar is vermoedelik in sy hande geskiet.
Die verdagtes kon toé daarin slaag om die snoepwinkel te betree en het kruideniersware en kontant gesteel voor hulle van die toneel gevlug het.
Volgens Moleko is hul suksesvol opgespoor en gevolglik deur die polisie in hegtenis geneem. “Die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op ʼn bebloede baadjie en een klapmus.”
Die ondersoek duur voort.
Dit is om van siek te word, elke tweede nuusberig is omtrent n herhaling van wat hier gebeur het. Moord, roof, aanranding, diefstal en verkragting is so alledaags soos asemhaal.