Groot ANC-binnegeveg oor begroting wink

Tito Mboweni, minister van finansies, tydens die lewering van sy begrotingsrede die afgelope week. (Foto: GCIS)

Die geveg om die hart van die begroting wink net agter die einder met die nasionale werkkomitee van die ANC (die organisasie se twintig mees senior lede) wat Maandag in Johannesburg vergader oor die voorgestelde vermindering in die staatsdiens se salarisrekening.

Sedert die voorgenome vermindering van die salarisrekening (die plan is om dit vanjaar met R37,8 miljard te verminder en met selfs meer oor die volgende twee jaar) aangekondig is, is dit met woede en dreigemente ontvang deur die ANC se jarelange alliansievennoot, Cosatu.

Die vakverbond het oor die afgelope vyftien jaar ʼn grootliks witboordjie-staatsdiensvakbond geword.

Cosatu het hierdie week drie dae lank oor die begroting vergader en dit is duidelik dat voortspruitende druk die nasionale werkkomitee van die ANC se vergadering tot gevolg het.

Indien die nasionale werkkomitee nie die minister van finansies, Tito Mboweni, se salarisvoorstelle steun nie, kan dit die grootste Suid-Afrikaanse begrotingskrisis sedert 1932-’33 (die stryd om die goudstandaard) in die hand werk.

Vanjaar se begroting hang naamlik in so ʼn groot mate van die salarisvoorstel af – en Suid-Afrika het so min fiskale beweegruimte – dat dit die totale begrotingsvoorstelle grootliks sou kelder as hierdie voorstelle afgeskiet word.

In reaksie op Mboweni se argumente dat die staatsdiens ondoeltreffend en oorbetaal is, het Cosatu (tot dusver sonder enige syfers of empiriese feite) aangevoer staatsdienswerkers is oorwerk en word te min betaal.

Die EFF sien kennelik hierin ʼn groeigeleentheid en ʼn politieke gaping. “Alle groeperinge in die politieke linker-spektrum” is genooi om Vrydag aan te sluit by die EFF se opmars na die Eskom-hoofkantoor in Johannesburg om beswaar te maak teen enige afdankings of privatisering by die sukkelende kragvoorsiener.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

DieKriek ·

Ek was n staatsamptenaar voor my aftrede. Gewone mense wat vir die staat werk is onder druk om drie of vier mense se werk te doen. Die salarisse is baie laer as dié in die privaatsektor, so Cosatu mag dalk n punt hê. Daar was ook nie verhogings nie, net klein aanpassings vir inflasie, wat glad nie die werklike lewenskosteverhogings gedek het nie. Oom Tito moet maar sy rekening kleiner maak op die vet katte hoog in die boom, nie op die slawe nie, maar ek is oortuig dit is glad nie wat hy in gedagte het nie.

Michael ·

Hulle wil nie werk ,wil nie afgedank word nie ,wil nie redelik wees ,wil net bakhand staan en apartheid die skuld gee vir alles en dan wonder die geniuse hoekom die ekonomie so power is en swaarkry wat hiermee gepaardgaan hulle voorland is.

Grassie ·

Ek stem saam met jou Michael. En ek het sommeer ‘n nuwe woord by geleer. Ek het gedink jy maak ‘n fout met die meervoud van “genie” tot ek dit nageslaan en die werklike betekenis raakgesien het. Dit is baie beskrywend.

Amatambo ·

Ag, “SJYM, ” seg ek, “AG, SJYM” Arme ministers en andere wat nie verhoging kry nie – ons – die publiek – uit wie se sakke hulle vetkat salarisse kom, moet maar daaraan gewoond raak dat hulle van nou af ook – soos ons gewone burgers -sal maandeliks moet begroot en luukse uitgawes sal moet sny om te kan oorleef. Ek wonder hoeveel van die genoemde ministers binnekort gesien sal word waar hulle op straathoeke staan en bedel soos so baie van hulle onderdane (veral WITTES) wat nie werk MAG kry nie… Foeitog, my hart bloei VLA vir Ramaphosa, Magashule en ander ANC-vetkatte wat daaronder sal moet ly… Verskoon maar my sarkasme, want eintlik voel ek absoluut VERE vir hierdie African National Corruption spul wat werklik g’n flenter vir die gewone mense op straat voel nie…

Naas ·

DieKriek het seker 25 jaar gelede afgetree. Cosatu is sosialisties en mis heeltemal die punt. Vandag se staatsdienswerkers is lui, onbeskof, ten minste 20% oorbetaal en onbevoeg. Daar is ook 30% te veel van hulle. So, ek hoop Tito en Cyril kan vir hulle die vinger wys. Soos ekonome reeds gesê het, al staak hulle – daar is NIE geld om hulle in hulle weelde te hou nie. Die belastingbetaler het (by monde van Tito) gepraat.

Grassie ·

Miskien is ons nou op die drumpel van die groot geveg binne die ANC wat al lankal broei – Ramaphosa en sy kommando versus die Ace/Zuma/ vakbonde faksie, gesteun deur Malema en sy trawante wat orals kwaad stook. Dit lyk of Ramaphosa veld verloor, die ander is besig om die gepeupel teen hom te draai.
As hulle mekaar goed genoeg takel sal hulle ons moontlik vir ‘n verandering ‘n bietjie uitlos. Maar as Ace & kie die oorhand kry sal ons moet begin laer trek.

Anel ·

Ek dnk hulle moet bo begin. Dit is die spul wat in die duurste kantore met die duurste meubels sit en niks doen en astronomiese salarisse kry vir die niks doen nie, wat moet afskaal, afgedank of wat ook al mee gedoen moet word. Hulle vreet die staat se geld. Nie die gewone hard werkende,onderbetaalde werker nie.

Werner ·

Ons kan ons maar regmaak vir n krisis want COSATU gaan groot stakings hou tot hulle van die plan afsien

Snowball ·

Wanneer ‘n mens ‘n ballon net aanhou opblaas, sal hy uiteindelik bars. Wanneer jy aanhoudend onproduktiewe mense aanstel wat meer vat as wat hulle terugsit, sal alles uiteindelik in duie stort, al lieg jou hoe hard daaroor vir jouself.
Soos Yeats sê “things fall apart, the centre cannot hold”

Jr ·

Ja COSATU nou dat hulle julle toekoms wil onder onsekerheid sit is julle bekke groot. Maar so was julle bekke groot toe julle mense se pension wou gevat het om jou kadres se diefstal te finansieer. KRY VIR JULLE. NOU IS DIE SKOEN OP JOU VOET .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.