Groot dele van Pta-middestad sonder water

(Foto: Jimmy Chang/Unsplash)

Ambassades, ouetehuise, staatsdepartemente, hotelle, hospitale, skole en duisende inwoners van die Pretoriase middestad sit Vrydagoggend steeds sonder water nadat die Salvokop-reservoir Donderdagaand afgeskakel is.

Lindelo Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, het gesê dit raak die buurte Sunnyside, Salvokop, Arcadia, Clydesdale, asook die suidelike dele van die middestad.

ʼn Pyp, wat verlede jaar ook probleme gegee het, het Donderdag gebars en duisende kiloliters drinkwater het daaruit gestroom. Om die waterverliese te beperk en sodat herstelwerk behoorlik gedoen kan word, is die reservoir gisteraand om 22:00 uit diens gestel.

Mashigo sê die stad stuur 100 watertenkwaens na die geraakte gebiede om water aan inwoners te verskaf.

“Omdat dit ʼn grootmaat-pypleiding is, gaan dit groot herstelwerk vereis wat na verwagting tussen vier en sewe dae kan duur.

“Die stad is deeglik bewus en bekommerd oor die gebarste pyp wat inwoners en die sakegemeenskap in ʼn penarie laat en Tshwane bly verbind daartoe om die wateronderbreking spoedig op te los,” het Mashigo gesê.

Hy het ʼn beroep op inwoners gedoen om water spaarsaam te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.