Groot soektog na Pta-ma van drie

Jann en Landi Prinsloo. Die 39-jarige ma word tans vermis.  (Foto: Facebook)

ʼn Groot soektog deur polisieduikers, -honde, ʼn helikopter en verskeie reddingspanne is tans in die omgewing van die Pienaarsrivier, noord van Pretoria, onderweg nadat ʼn ma van drie jong kinders Donderdag verdwyn het.

Landi Prinsloo (39) van Kameeldrift-Oos in Pretoria se voertuig is dieselfde dag op die Molotopad by die K9-hondeskool opgespoor. Haar man, Jann, sê sy vrou se klere, skoene, baadjie, sleutels en selfoon is Vrydag kort na 02:00 langs die Pienaarsrivier gevind nie ver van waar haar voertuig gestaan het nie.

“Soekspanne soek tans in die rivier en die omliggende gebied, maar daar was nog geen teken van Landi nie,” het hy Vrydagoggend aan Maroela Media gesê.

Die egpaar het drie jong kinders van onderskeidelik twee, vier en nege jaar oud.

Jann sê hy weet nie waarom sy vrou sou verdwyn nie. Hy het wel agterkom iets skort toe sy nie haar afsprake Donderdag nagekom het nie.

“Haar laaste boodskap was dat sy op pad was na Montana. Die opsporingstoestel in haar kar het egter aangedui dat sy in ʼn oostelike rigting na Roodeplaat se kant toe gery het. Dit was ongeveer 08:45 Donderdagoggend.”

Jann sê hulle kon Prinsloo se bewegings naspoor vandat sy die oggend by hul huis uitgery het tot waar haar motor eindelik opgespoor is. Dit is met behulp van die paneelbordkamera en opsporingstelsel in haar wit Toyota Prado gedoen, asook deur haar selfoon na te spoor.

Volgens Jann het sy haar voertuig naby die K9-hondeskool parkeer en ʼn rukkie in die voertuig gesit. Daarna het sy spoorloos verdwyn.

Die soektog na Prinsloo duur tans voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Marcello ·

Jare terug, het ‘n vrou met haar hond in George gaan stap, sy het spoorloos verdwyn, maar die hond het teruggekom. Tot vandag toe is sy nooit opgespoor nie. Sy het ook op daardie staduim nog twee laerskool kinders gehad.

Nettie ·

Sterkte aan die familie. Mag julle haar veilig vind. Ons harte en gebede gaan veral uit na die drie klein kindertjies.

Sandra ·

Ek hoop hulle kry die vrou lewend en gesond. Die hele storie klink maar bietjie verdag. Maar ek sal die storie volg.

Cecilia ·

Volgens FB: Update 24/02 9:46
Landi is gevind en is op n beter plek. Dankie vir almal se hulp en ondersteuning. Ons is almal hartseer.

George ·

Dieselfde post se direk daarna dat hulle steeds soek 12:07

Sê maar net ·

So, so hartseer. Baie sterkte aan die familie. Daai arme man en kinders. Mag Jesus julle styf vashou. Ons hoop en bid vir goeie uitkoms…..

daarsdit ·

Klink vir my of sy dit beplan het. Was oppad na Montana, het gejok en in ‘n ander rigting gery. Lank in die kar gesit en toe uitgeklim en verwyn. Ek sien ‘n slang in die gras en hy is groot!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.