Groot vordering by Tshwane se Pyramid-substasie

(Foto: Twitter/ZonkeZakhe Mahlangu)

Die Tshwane-metro sê hy het reeds aansienlike vordering by die Pyramid-substasie gemaak.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn storm in September groot skade in Hammanskraal en omliggende gebiede veroorsaak het. Die tydelike Pyramid-substasie, wat langs die Rooiwal-kragstasie gebou is, het weens weerlig aan die brand geraak waarna die transformator ook begin brand het.

Volgens Themba Fosi, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste en streeksbedrywighede, het die stad hard gewerk om die omvang van die skade te bepaal en die nodige herstelwerk te onderneem.

“Die herstelwerk het ʼn belangrike mylpaal bereik met verskeie kritieke komponente wat nou voltooiing nader.

Die meeste kabelwerk is reeds afgehandel, toevoerkabels is gekoppel, die installering van die 132 kV-stroombreker is voltooi en die span is tans besig met meerkernkabels en beheerkabel-installasies vir die stroombreker.

Fosi sê die installering van die 132 kV-isolator is ook afgehandel, wat die betroubaarheid en veiligheid van die Rooiwal-kragstasie se infrastruktuur verbeter.

Streng toetse word ook gedoen om te verseker daar word aan alle veiligheidsregulasies en regulatoriese bepalings voldoen.

Groot vordering is ook met die transformator gemaak en tegnici beplan om dit Vrydag aan die kragnetwerk te koppel. Dit sal dan ʼn week lank getoets word, voor dit die volle lading hanteer.

“Die installering van batterye en die gepaardgaande laaier is volledig afgehandel en die omvattende toetsing van hierdie komponente is suksesvol afgehandel.”

Groot werk lê egter nog voor.

“Die Tshwane-metro is daartoe verbind om die Pyramid-substasie te herstel en die hervatting van normale kragtoevoer na die geraakte gebiede te verseker.

“Ons waardeer die geduld van ons inwoners tydens hierdie proses en verseker dat alle pogings aangewend word om die voltooiing van die nodige werk te bespoedig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jeanette ·

JA NEE dit is nou presies vandag die 17de dag sonder krag. Kyk die geduld kon hou maar dit raak ook nou skaars maar die ergste van alles is die petrol wat moet gekoop word vir die generators want water moet gepomp word. Dan is daar die kwessie van gas koop vir kos maak water kook om te bad ens. Het omtrent niks meer vars kos in jou yskaste nie en die bietjie wat jy wel het probeer jy maar koud hou om jou generator so 2ure in die aand te laat loop vir die vrieskas om net effens koud te word. Nee kyk die is geen grap nie, maar ek moet se ons lewens het net te gemaklik geraak en ek mis dit om net ‘n ou knoppie te druk en woeps die ketel kook of maak die kraan oop vir lekker warm water om te bad. Ons moet almal wardeer wat ons het as jy eers sonder dit is dan besef jy hoe kosbaar dit rerig is

Goldy ·

Kan eers van vordering praat as fort knox graad sekuriteit ook ingebou word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.