Grootste padda in eeu ontdek

Hierdie nuwe brulpaddaspesie is in verskeie Afrika-lande ontdek (Foto: verskaf)

ʼn Nuwe Afrika-brulpaddaspesie, die grootste in meer as ʼn 100 jaar, is in verskeie Afrika-lande ontdek. Die nuwe spesie, genaamd Pyxicephalus beytelli, is deur Suid-Afrikaanse navorsers in die noordooste van Namibië, die suide van Angola, die suidweste van Zambië en die noordweste van Botswana ontdek.

Die grootste een wat al gevind is, is 21 cm lank en weeg ʼn allemintige een kilogram.

Professor Louis du Preez van die Noordwes-Universiteit (NWU) en sy span navorsers het dié nuwe spesie ontdek. Dit is die vierde brulpaddaspesie wat al ooit in Suider-Afrika geïdentifiseer is.

Die nuwe spesie is soortgelyk aan alle ander brulpaddaspesies wat eksterne struktuur, interne anatomie en algemene gedrag betref.

Twee van die belangrikste onderskeidende kenmerke van Pyxicephalus beytelli is egter sy heldergeel en lemmetjiegroen kleur, blou kolle en ʼn wit vertebrale streep wat langs sy liggaam afloop. Dan is daar sy prominente en ietwat vreesaanjaende tande, wat teruggekrom is en twee groot benige uitsteeksels op die onderkaak.

Die Pyxicephalus beytelli se vreesaanjaende tande (Foto: verskaf)

“Hul tande staan regtig uit en ons sien daarna uit om meer oor hul voedingsgewoontes te wete te kom. Ek kan jou verseker dat hierdie padda ʼn groot byt het,” sê Du Preez.

Du Preez en ʼn oudstudent, Marleen Byron, het die brulpadda 12 jaar gelede vir die eerste keer in die Okavango teëgekom en dadelik besef “daar is iets anders aan hierdie padda”. Du Preez is in 2021 deur die Namibiese Natuurstigting genader om ʼn opname van amfibieë en reptiele in die Khaudum Nasionale Park te doen. “Toe ek weer die brulpadda sien, het ek geweet dit is die een wat ek ʼn dekade vantevore gesien het.”

ʼn Deeglike en moeisame proses het begin, waartydens die monsters wat ingesamel is noukeurig ondersoek en vergelyk is met bestaande spesies.

“Paddas het ongeveer 350 miljoen jaar gelede op die toneel verskyn en van daar af gediversifiseer. Vandag is hulle die mees bedreigde groep gewerwelde diere in die wêreld.”

Volgens Du Preez is die rede hiervoor die vernietiging van hul natuurlike habitat. “Hoe meer ons van ʼn spesie weet, soos waar hulle voorkom en hoe ver hulle rondbeweeg, hoe beter kan ons dit beskerm.

“Ons besef gewoonlik eers wat ons verloor het nadat ʼn spesie reeds uitgesterf het. Daar is nog baie om oor hierdie nuwe spesie te wete te kom, en dit sal pret wees om uit te vind,” voeg Du Preez by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Josua ·

Enige wetenskaplike wat vir my kom vertel iets op aarde is ouer as 8000 jaar lag ek af en luister nie eens na daardie persoon nie want dan is hy of sy nie in my oë n wetenskaplike nie maar n sensasie soeker, In 1986 to ons by die ou Universiteid van die noorde in Pietersburg wag gestaan, het ons van die paddas gevang boshoed bo op hulle gesit en gekyk hoe ver hulle kan spring, hulle was veral aktief in die nag en was baie lief om rysmiere te vang, ek dink nie die is n nuwe spesie nie net n ou spesie wat dit reg gekry het op nie uit te sterf nie en weer nuwe asem gekry het. Hulle maak ook n geluit soortgelyk aan n kat wat in n geveg betrokke is veral as jy te naby aan hulle kom. Ek weet daar is nog ander spesies soortgelyk maar die een lyk presies soos die wat ons gevang het en van hulle was net so groot dalk nie heeltemak n Kg nie maar baie naby daaraan.

Frank ·

So Joshua jy se God het ‘n towerstaffie geswaai en siedaar, dinge wat miljoene jare vat om te ontstaan is sommer net oornag daar? Dalk bietjie in die Bybel gaan lees waar daar staan 1 dag is vir God soos 1000 jaar en 1000 jaar soos een dag, sowel as dat ‘n mens tog nie ‘n boom plant nie maar wel ‘n saadjie. so wat maak die skepping anders as ‘n “saaitjie” wat ontwikkel het oor miljoene jare, of beperk jy God ook tot JOU menslike tyd? Jou dag, jou jare, jou 8000 jaar? Selfs met 1 dag soos 1000 jaar, is jou 8000 jaar alreeds vir God soos 2 940 000 jaar en buitendien is dit eerder om aan te toon God is ONGEBONDE deur “ons of natuurlike” tyd.

Philip ·

Josua. Jy kry nie eers die woorde universiteit of geluid gespel nie maar jy maak wetenskaplike bevindings as snert af…

Vrijburger ·

Mmmm onthou ek die heerlike paddaboudjies wat in Louisiana aan ons voorgelê is en wonder ek by myselwers hoe hierdie groen outjie se groot boude sal proe as dit in Cajun speserye gaar gemaak is. LOL.

Leeubekkie ·

Mooi brulpadda dié. Ag en kyk die ou tandjies :-)
Baie mense oorsee weet nie wat is ‘n brulpadda nie.

Treurwilger ·

“Paddas het ongeveer 350 miljoen jaar gelede op die toneel verskyn”.
Hoe weet ons bv. dit vir ‘n feit?
Sou graag meer wil lees oor hóé wetenskaplikes sulke goed te wete kom.
Sonder enige disrespek teenoor betrokkenes verstaan en deel ek Joshua se skeptisisme.

Philip ·

Treurwilger daar is hope inligting oor hoe dinge dateer en ouderdomme bepaal word. Paleontologie is bv ‘n baie interessante en belangrike studierigting. Om iets te betwyfel of ‘n spot daarvan te maak sonder enige kennis van die onderwerp is belaglik.

sterk soos n beer ·

350 miljoen????????????oh my word. ek glo nie n woord daarvan nie. die aarde is 6000 jaar oud.

Brakanjan ·

Oulik! Die kleur, tande, alles lyk soos die plastiek paddas wat ons as kinders mee gespeel het.

Danie ·

8000 jaar?
6000 jaar?
Een van die redes hoekom die wereld vir ons lag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.