‘Grootste ramp’ in George se geskiedenis

Dina en haar hanteerder, sers. Nichola Kotze, Woensdag op die toneel. (Foto: Eugene Gunning)

Deur Eugene Gunning

“Beslis die grootste ramp in George se geskiedenis.”

Dít is hoe Leon van Wyk, burgemeester van George, die tragedie op George beskryf wat reeds die lewe van minstens sewe mense geëis het.

Minstens sewe mense is dood toe ʼn vyfverdiepinggebou in aanbou op die dorp Maandagmiddag ineengestort het. ʼn Onafhanklike ingenieursmaatskappy is reeds aangewys om die oorsaak hiervoor te ondersoek, maar die naarstiglike soektog na oorlewendes is in dié stadium die grootste prioriteit.

Teen Woensdag is 29 van die 75 werkers wat tydens die ineenstorting op die perseel was, lewend uit die puin gehaal. Ses van hulle is in ʼn bedenklike toestand en nog 16 is in ʼn kritieke maar stabiele toestand.

Die grootskaalse soektog na diegene wat steeds onder die puin vasgekeer is, duur voort. (Foto: Eugene Gunning/Maroela Media)

Reddingswerkers was Woensdag in ʼn stryd teen tyd gewikkel: hoe meer tyd verloop, hoe skraler raak die kans dat nog oorlewendes in die puin gevind sal word.

By die ingang van die ramptoneel het mense Woensdagoggend saamgekom om te bid. Families van die vermiste konstruksiewerkers het ook daar naby op enige nuus gewag.

Tussendeur die hartseer was daar ook die verhale van die talle onbesonge helde, soos die snuffelhonde en hul hanteerders, wat ʼn reuserol speel om oorlewendes te help opspoor.

Van Wyk het tydens sy besoek aan die toneel aan Maroela Media gesệ die ramp is waarskynlik ook die grootste van sy soort in die Wes-Kaap.

“Dit is ʼn ongelooflike tragedie. Daar word nou na die moeilike deel beweeg. Tot dusver is gepoog om mense wat nog lewe uit te kry. Dit gaan moeiliker raak. Dis nou al 48 uur sedert dit plaasgevind het.”

Talle mense het byeengekom om saam te bid. (Foto: Eugene Gunning/Maroela Media)

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, sệ sover hy weet, is dit die grootste reddingspoging ooit op ʼn bouperseel in die Wes-Kaap.

“Ingenieurs sệ wanneer daar aardbewings is, druk ʼn gebou skeef en ʼn gedeelte bly staan. Hier het die hele gebou ineengestort.”

Volgens Bredell is dit ʼn geweldige groot operasie om die beton te verwyder en ook die werkers te beskerm wat dié gevaarlike taak verrig.

Voeg hierby die trauma van die families wat in spanning wag om te hoor of hulle vandag dalk goeie nuus gaan kry.

Bredell het gesê hy is tevrede met die verloop van die operasie en het, nes Wes-Kaapse premier Alan Winde vroeër, sy dank teenoor almal betrokke te kenne gegee.

“Die gebeure het weer gewys dat Suid-Afrikaners kan saamstaan.”

Nog kundiges, wat spesialiseer in die afbreek van geboue, gaan nou betrek word. In dié stadium is die fokus egter op die soektog na diegene wat steeds vasgekeer is.

Buurmunisipaliteite gaan ook werkers beskikbaar stel om sommige van die huidige groep reddingswerkers af te los.

Onbesonge helde

Sommige van die honde en hanteerders betrokke by die soektog. (Foto: Eugene Gunning/Maroela Media)

Intussen duur die soektog voort en dat die hond ʼn mens se beste vriend is, is sedert Maandag opnuut bewys.

Honde en hul hanteerders van die polisie se honde-eenheid in die Wes- en Oos-Kaap, asook die private maatskappy K9: Search and Rescue Association (Sara) het gehelp om na oorlewendes te soek.

In talle gevalle het hulle ʼn deurslaggewende rol gespeel om te wys waar nog mense vasgekeer is.

Altesaam ses honde is ingespan om te wys waar daar moontlik nog enige teken van lewe is. Onder die honde wat ingespan is, was Echo, Bond en Dina.

Ao. Rocco Malherbe, verbonde aan die George-polisie se honde-eenheid, het gesệ die honde het na oorlewendes gesoek. Daar moet egter ook in gedagte gehou word dat dít ʼn onveilige terrein is.

Dit is ʼn ingewikkelde operasie en een waarvoor hulle op hul voete moet dink namate die omstandighede verander.

Mari-Ann Wilson van Sara bestempel die operasie ook as uitdagend, maar sệ die honde vaar uitstekend.

Lafenis. Daar word op die toneel behoorlik na elke spanlid omgesien – ook na die vierpotiges. (Foto: Eugene Gunning/Maroela Media)

Kans op oorlewing ál skraler

Die soektog na oorlewendes is nou in die derde dag en daar heers toenemend kommer of enigiemand nog lewend uit die puin gehaal gaan word.

Moses Malala, ʼn voorman wat die ineenstorting oorleef het, het aan AFP gesê hy het ʼn harde geluid gehoor voor die gebou eenvoudig meegegee het. Malala het op die dak gewerk en vertel hoe sy voete begin gly het terwyl die gebou aan een kant begin tuimel het. Hy het gesien hoe verskeie van sy kollegas die een ná die ander na benede tuimel. Talle van hulle is steeds onder die bourommel vasgepen.

Malala is beseer, maar het ten minste lewend daarvan afgekom – en hy help intussen waar hy kan met die reddingspoging.

Die volgende paar uur gaan waarskynlik veral kritiek wees: die kans op oorlewing daal beduidend ná 72 uur onder hierdie omstandighede.

Leon van Wyk, burgemeester van George. (Foto: Eugene Gunning/Maroela Media)

Die gebou, wat Maandag omstreeks 14:00 ineengestort het, sou ʼn woonstelblok met 42 eenhede wees. Dinsdagaand was daar ʼn gejuig toe ʼn oorlewende uit die rommel gebring en op ʼn draagbaar gelaai is. Nog ʼn liggaam is uitgebring, toegevou in ʼn kombers.

Geloofsleiers en maatskaplike werkers was die afgelope ruk op die toneel om verslae familielede te vertroos. Mense het ook gesing en gebid terwyl hulle gewag het vir enige nuus oor hul geliefdes.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nettie ·

Mense wat bid vir hul geliefdes en vriende. Wat ‘n mooi foto. Mag God hul gebede verhoor. Ons bid saam met julle en juig saam oor elkeen wat lewend gevind word.

Frank ·

Sal meer hyskrane nie help om die rommel vinniger te verwyder nie? Ek sien net ene.

Johan ·

Dis baie erg, moet vreeslik wees om nie te weet waar jou mense is nie. Om te dink Isra_l is so boos hulle skiet met opset honderde sulke geboue plat met almal binne in.

Rose ·

Hoe bizarre, party neem fotos, daar is selfs n paar wat ”pose”, terwyl daar onder die swaar stink batonstukke werkers is wat veg vir hulle lewe en hoop op redding. Ek hoop geregtigheid geskied. n Lewe is nie goedkoop nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.