Grootvlei dae sonder krag; onluste vlam op

Onluste in Grootvlei (Foto: Verskaf)

Onluste het verlede week in Grootvlei in Mpumalanga uitgebreek weens inwoners se ontevredenheid met die gereelde kragonderbrekings wat sedert Desember verlede jaar die dorp ontwrig. Die dorp word sedert meer as ʼn week gelede vir dae aaneen in die duister gelaat.

Betogers het sedert verlede Donderdag alle paaie na Grootvlei versper. Teen Vrydag is munisipale dienste onderbreek en betogers het in groot getalle na die plaaslike munisipale kantore opgeruk, munisipale werkers gedreig en aangeval, asook amptenare en raadslede gyselaar gehou.

Die VF Plus sê inwoners van Grootvlei is soms tot vyf dae lank sonder krag. “Inwoners het nou vir ʼn tweede keer in drie maande vars produkte en elektriese toestelle ter waarde van duisende rande verloor weens die uitgebreide kragonderbrekings en kragstuwings.”

Santie Horn, ’n inwoner van Grootvlei, sê vir haar as weduwee is dit veral snags sleg om sonder krag te wees. “Dis wanneer die meeste misdaad plaasvind. Nou is ek alleen en dan is dit nog pikdonker ook. Nie almal kan kragopwekkers bekostig, met brandstof wat daarmee gepaardgaan nie,” sê Horn.

Inwoners drom saam in optog teen munisipaliteit (Foto: Verskaf)

Volgens Mafunda Makhubu, uitvoerende burgemeester van die Dipaliseng-munisipaliteit in Mpumalanga, gebruik die dorp meer krag as wat Eskom ingevolge sy ooreenkoms aan Grootvlei beskikbaar stel. Balfour en Greylingstad, wat ook onder dié munisipaliteit val, se kragtoevoer is steeds binne die kontraktuele beperkings.

Eskom het Desember verlede jaar die munisipaliteit in kennis gestel dat die kragtoevoer na Grootvlei beperk gaan word. Makhubu sê hulle moes vandeesmaand roterende kragonderbrekings instel om te verseker dat die beperkte kragtoevoer deur almal in die verskillende dele van die dorp gedeel kan word, totdat die situasie weer normaal is. “Kragonderbrekings word vererger deur die toepassing van beurtkrag,” sê Makhubu.

Intussen het onluste Maandag weer opgevlam. Talle inwoners het klagtes ingedien oor die kragonderbrekings wat hul lewe ondraaglik maak.

Die VF Plus sê die kragonderbrekings is deels te wyte aan onwettige kragverbindings in gebiede van die dorp.

Inwoners drom saam in optog teen munisipaliteit (Foto: Verskaf)

“Dit is onaanvaarbaar dat betalende inwoners van die munisipaliteit onder sulke omstandighede gebuk moet gaan. Die VF Plus stel die nodige vrae in die provinsiale wetgewer rakende die skade wat aan inwoners se eiendom aangerig word en die party sal daarop aandring dat inwoners betaal moet word vir hul verliese,” het die VF Plus in ʼn verklaring gesê.

Makhubu sê die munisipaliteit se hande is afgekap, aangesien die kragtoevoer reeds oorskry is. “Die munisipaliteit doen wel alles in sy vermoë om oplossings vir die probleem te vind en wil graag die betogende inwoners aanmoedig om hulle te weerhou van intimidasie en geweld om die saak aan te pak,” het Makhubu gesê.

“Die polisie monitor die situasie en probeer inwoners beskerm én verhoed dat eiendom beskadig word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

gatgogga ·

Santie Horn, moenie jou geld mors op kragopwekkers nie – een van die dae sal jy nie meer diesel kry nie.
Ons keer terug na donker Afrika. Dit beteken geen elektrisitet. Geen vyfde indutriele revolusie. En dus geen agterblywendes nie.

Lambertus ·

Die indruk word geskep dat dit net pensioenarisse wat hier woon maar dit is nie heeltemal korrek nie want self die mense wat op die fotos verskyn is werknemers by Eskom Grootvlei Kragstasie. Allerhandse “redes* word deur die burgemeester aangevoer. Dit is ongelukkig deur sy nalatige bestuur dat die situasie tot hierdie punte gekom het.

J ·

Bevry julle van uitbuiting en teistering deur EKSDOM en die ANC regime. Voorsien julle eie krag en water … werk saam met bure in jou omgewing. Instaleer sonkrag, gasstowe, ens en boor boorgate waarmee blokke en woonbuurte onafhanklik raak van die staat.

Bonus! Sodra gratis water, elektrisiteit en toelaes verdwyn sal die miljoene plakkers ook verdwyn na hulle lande van herkoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.