Grootvoete trap vermeende stroper in Kruger

Olifante in die Krugerwildtuin. (Foto: Marianne Styan)

ʼn Stroper is Saterdag in die Krugerwildtuin dood nadat hy en sy makkers hulle in ʼn olifanttrop vasgeloop het.

Die verdagtes het gevlug vir wildbewaarders en ander wetstoepassers van die wildtuin wat op hul spoor was.

“Veldwagters was op ʼn roetine-patrollie toe hulle die spoor van drie mans gevind het wat die wildtuin betree het en het die verdagtes agternagesit. Die bewaarders het drie verdagtes opgemerk en dié het op die vlug geslaan. Bewaarders het bystand van die honde‑ en lugeenheid versoek,” het SANParke Sondag in ʼn verklaring gesê.

Die stropers het in die proses ʼn byl en ʼn sak met voorraad laat val in ʼn poging om vinniger van hul agtervolgers weg te kom.

“Een van die verdagtes is kort daarna in hegtenis geneem. Hy het aan veldwagters gesê dat hulle in ʼn trop olifante vasgehardloop het en dat hy nie seker is of sy makkers daarin kon slaag om te ontsnap nie.

“Bewaarders het toe op die erg-vertrapte verdagte afgekom. Hy het ongelukkig reeds aan sy beserings beswyk,” lui die verklaring. “Die derde verdagte is na bewering in die oog beseer, maar is steeds op vrye voet.”

ʼn Geweer is herwin en die saak is aan die polisie oorhandig.

“Dit is jammer dat ʼn lewe verlore moes gaan, maar ons is trots op die spanwerk tussen ons bewaarders en die onderskeie wetstoepassingsowerhede wat gehelp het om die verdagte vas te trek.”

Die wildtuin doen ʼn beroep op gemeenskappe wat naby die wildtuin woon om inligting te verskaf wat tot die inhegtenisneming van die derde verdagte kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Miskien is daar ‘n sintuig in diere, om hulle te laat besef wanneer hulle met vyand te doen het.

Nico ·

Die vermeende stroper het ‘n duur les geleer en dit is dat daar word nie met olifante gepeuter nie.

Robert ·

Jammer dat ń lewe moes verlore gaan? Wat van die stomme diere wat hulle lewens inboet as gevolg van gierige stropers!!! Ek vra maar net !!

Janee ·

Ons hoop hul geheue is goed en dat die wildtuin sal skoon word!!!

Elize ·

Jammer dat ń lewe moes verlore gaan? Nee wat vir my part kon daardie trop hulle al 3 gewys het waar Dawid die wortels gegrawe het. Love it. Briljante optrede van hierdie verstommende diere.

anko ·

Mooi. Diere kom nou in “opstand”. Dit moes al lankal gebeur het. Laat dit ‘n les wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.