Haassiekte versprei al wyer

Een van Leonné Lotz se sieklike hase kort voordat hy skielik gevrek het. (Foto: Verskaf)

Dit wil voorkom of hemorragiese haassiekte (konynbloedingsiekte) (RHS) al verder deur die land versprei, met gevalle wat nou in Gauteng en moontlik ook in die Oos-Kaap opgemerk word.

Dié hoogs aansteeklike en dodelike virus is onlangs vir die eerste keer in sekere Karoogebiede in die Wes- en Noord-Kaap aangemeld, met talle voorvalle van vrektes onder wilde konyne en hase.

Ondersoeke is gevolglik deur staats- en private veeartse en die departement van bosbou, visserye en omgewing onderneem – wat hemorragiese haassiekte aangedui het. Die probleem is egter dat daar geen entstof vir dié virus in Suid-Afrika beskikbaar is nie.

Leonné Lotz (15) boer al die afgelope agt jaar met hase in Middelburg in die Oos-kaap. Dié jong boer sê sy het sedert Sondag al 13 van haar 43 hase verloor. Sy teel hoofsaaklik met die hase om hulle later as troeteldiere te verkoop en sê dat sy baie van die diere met die hand grootgemaak het.

“Dit is vir my baie erg. Ek huil my elke keer kapot as nog een vrek. Party van hulle het ek self met ʼn botteltjie grootgemaak,” het sy aan Maroela Media gesê.

Hoewel sy nog nie diagnostiese toetse op die hase laat doen het nie, het ʼn plaaslike veearts glo gesê dit is waarskynlik hemorragiese haassiekte aangesien die hase al die simptome van die virus het.

Leonné Lotz (15) by een van haar hase. (Foto: Verskaf)

Leonné sê het Sondag skielik twee hase dood in hul hokke aangetref, hoewel hulle nie vooraf juis siek gelyk het nie. Daar het bloed by die hase se neuse uitgeloop en hul agterstewes was bevuil.

Tussen Maandag en Dinsdag is nog hase onder dieselfde omstandighede dood.

“Daar is nou van hulle wat siek is. As ek hulle optel, voel hulle baie lam. Hulle beweeg nie en wil nie eet nie.

“Dit lyk of die ouer hase meer vatbaar is.”

Leonné hou die siek hase nou eenkant en het spesiale middels gekoop om die hokke mee skoon te maak en te ontsmet. Teen Woensdag was daar nog nie weer ʼn haas dood nie.

Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het aan Maroela Media bevestig dat uitbrekings van die virus ook onder kommersiële en troetelhaastelers in Gauteng aangemeld is. Dit is onduidelik hoeveel gevalle landwyd al aangeteken is.

Oordrag en simptome

Ngcobo sê die virus, wat wilde én mak hase besmet, kan in drie genetiese groepe verdeel word naamlik RHDV, RHDVa en RHDV2.

“Dié groepe het almal ʼn hoë siektekoers van amper 100% en wisselende sterftekoerse van tussen 5% en 70%.

“Die virus versprei deur direkte kontak met besmette hase en hase se uitskeiding of bloed. Dit kan ook deur indirekte kontak met besmette karkasse, kos, water en enige ander besmette materiaal soos lusern, hooi of beddegoed oorgedra word. Die virus kan tot drie maande op besmette materiaal oorleef. Die besmette dier kan die virus vir tot 60 dae dra.”

Ngcobo sê mense en ander diere kan egter nie met die virus besmet word nie.

Mense kan wel die virus deur hul klere en skoene versprei. Insekte, voëls, vlooie, knaagdiere en ander wilde diere kan dit moontlik ook oordra.

Leonné Lotz teel al agt jaar met hase. (Foto: Verskaf)

“In gevalle van akute infeksie kan koors ontwikkel en vrektes vind gewoonlik plaas 12 tot 36 uur ná die aanvang van koors, anoreksie, lusteloosheid, moeilike asemhaling, bloederige en skuimende neusafskeiding, stuiptrekkings, rooierige verkleuring van oë en binne die mond en laastens vinnige dood.

“Gevalle van subakute infeksie toon soortgelyke tekens aan akute infeksie, maar ligter. Gevalle van chroniese, aanhoudende infeksies is gewoonlik asimptomaties, maar tekens van ʼn gelerige voorkoms van slymvliese in die oë en mond, gewigsverlies en lusteloosheid word opgemerk. Hierdie diere vrek dikwels een tot twee weke later.”

Ngcobo benadruk dat die voorkoms van hemorragiese haassiekte – veral in die Karoo –  ʼn bron van groot kommer is, aangesien die inheemse Red Rock-konyn, die bedreigde oewerkonyn en ander haasspesies hoogs vatbaar is vir hierdie siekte.

Beskerm jou hase só

Diagnostiese toetse word gewoonlik by die Onderstepoort-dierelaboratorium uitgevoer om hemorragiese haassiekte te bevestig.

Haaseienaars word aangeraai om hul hase veilig te isoleer en kontak met ander hase of konyne te vermy. Dit is ingevolge die Wet op Dieresiektes die verantwoordelikheid van die eienaar om die verspreiding van die siekte te voorkom.

Die volgende word deur die departement aanbeveel:

  • Voorkom dat troeteldiere, mak of wilde hase terreine of hokke binnegaan waar hase aangehou word.
  • Alle besoekers of hanteerders moet beskermende toerusting en kleredrag dra, wat elke keer ontsmet en skoongemaak moet word.
  • Was elke keer jou hande met warm water en seep.
  • Isoleer en plaas nuwe hase of konyne vir 14 dae in kwarantyn en monitor hulle deurgaans.
  • Alle hokke wat geskuif word, moet skoongemaak en ontsmet word voordat die hase of konyne weer daarin geplaas word.

Die volgende ontsmettingsmiddels kan gebruik word:

  • 10% natriumhidroksied, 1%-2% formalien, sitroensuur, 1% oplossing kaliumperoksimonosulfaat en 20% huishoudelike bleikmiddel. Kontaktyd vir behoorlike ontsmetting is vyf minute, maar tien minute vir kaliumperoksimonosulfaat. Spoel oppervlakke af met vars water na behandeling met bleikmiddeloplossings.
  • Dra nitril-, silikon- of rubberhandskoene, beskermende klere en oogbeskerming wanneer bleikmiddel of bleikmiddeloplossings gemeng en gebruik word en werk in ’n goed geventileerde plek.
  • Die RHS-virus is bestand teen chloroform.
  • Telers wat lewende konyne en hase koop, moet hul biosekerheidspraktyke hersien en stappe doen om beskermingsmaatreëls te versterk, gegewe die hoër risikoprofiel sedert RHS in Suid-Afrika geïdentifiseer is.
  • Voer of voedsel (lusern, hooi of beddegoed) moet nie verkry word uit gebiede waar RHS‑uitbrekings onlangs voorgekom het nie.
  • As jou hase siek lyk of skielik vrek, kontak jou veearts.

Ngcobo sê die siekte sal hoofsaaklik met entstof beheer moet word, maar dat dit nog nie in die land beskikbaar is nie. Hy sê daar is wel entstowwe internasionaal beskikbaar wat ook goeie immuniteit bied vir hase en konyne wat nie voorheen besmet was nie.

Slegs wettig ingevoerde en goedgekeurde entstowwe mag gebruik word.

Vir meer inligting, besoek https://www.sahpra.org.za/key-contacts/ en https://www.dalrrd.gov.za/Branches/Agricultural-Production-Health-Food-Safety/Agriculture-Inputs-Control.

Eienaars word aangemoedig om enige haasvrektes by hul naaste veearts aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nie Verbaas ·

Wel dit kan nie so erg wees as ons die ANC virus nou al vir jare oorleef nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.