Hannes Noëth, man van woord en daad

Hannes Noëth.

Daar’s nie kommas of punte in sy sinne nie. Ook nie in sy lewe nie, want Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, is juis geroep om remme los te maak. As boodskapper om mense van ’n hooplose einde na ’n lewe vol eindelose hoop te begelei. Met woord én daad.

“Kom sommer diékant om na my studeerkamer toe,” groetnooi Hannes (47) my toe ons laatmiddag saam-saam by sy huis in Pretoria arriveer. Dis allermins studeerkamer, dink ek en verkyk my aan die meer as 11 000 boeke en bundels wat jou in die buik van die eertydse dubbelmotorhuis van kant tot wal omarm.

Dit ruik soos biblioteek, lyk soos museum en die gemaklike stoele wat plek-plek in gesellige groepies staan, is ’n uitnodiging om jou in die voetspore van De Wet en De la Rey te laat verloor, Totius en Steyn, Kruger en Kestell. As jy Hannes soek, sal jy hom nie voor die televisie nie, maar hiér vind. Of by ’n museum, monument, of mense. Enige plek waar stories is.

Van plaasseun tot predikant

Hannes Noëth.

Nadat hy in Petrusburg matrikuleer, is Hannes Potchefstroom toe om teologie te studeer.

“Ek het van kleintyd af geweet ek wou teologie studeer. Die beginsel van diensbaarheid, om selfopofferend en spontaan te lewe, het my aangegryp. Nie omdat ’n mens moet nie, maar omdat jy wíl.”

Dit is ook in Potchefstroom waar hy sy vrou, Rina, ontmoet het.

“Ek dink met groot dankbaarheid terug aan my bykans 15 jaar in die bediening. My eerste gemeente was in Wolmaransstad tussen delwers, boere en koöperasiemense. Daarna Naboomspruit in die Bosveld en toe Kimberley in die Noord-Kaap. Dit was ongelooflike genadejare. Ek het ’n maklike bediening in moeilike gemeentes gehad. Elke keer moes ek hulle van voor af (op)bou. ’n Volgende rat gee.”

Ofskoon Hannes, die Dopper-dominee, die stadslewe wou vermy en die kaalvoetplaasseun wou bly, beland hy in Pretoria met die opdrag om Christelike onderwysontwikkeling by die Gereformeerde Skool Dirk Postma te stuur.

hannes-noeth-hh

Hannes Noëth.

“Ná vier jaar hier het Flip (Buys) en Dirk (Hermann) my kom haal om die leisels by Helpende Hand op te neem.”

Dit was ’n groot besluit, sê Hannes, wat met ’n meestersgraad in huweliksetiek spog.

“Die kerk laat ’n mens nie toe om predikant te wees én iets anders te doen nie. Ek moes dit neerlê. Tog het ek geglo ’n mens moet kerk en volk verstaan. Die volgende logiese stap in my loopbaan was dus welsyn. En vandag is ek al vier jaar by Helpende Hand.”

Hy glo onwrikbaar dat God sy pad tot by Helpende Hand beskik het.

“My pad van plaasseun tot nou is deel van my getuienis. Ek het gaan swot in die jaar wat dit die droogste ooit op die plaas was. Vir drie, vier jaar aaneen. Daarom het ek ’n sagte plek vir ouens wat nie kan gaan studeer weens die droogte nie. Ek ken dit, ek was daar. Maar ek het ook geleer dit mag jou nie terughou nie.

“Met my bediening op die platteland het ek onbeskryflik ryk én onbeskryflik arm beleef. Jy drink tee in ’n paleis en dan stap jy langsaam na ’n karavaan toe. En dis jóú lidmate, jóú mense. Jy moet vir almal ewe lief wees. Dit kan net God wees wat dié legkaart gepak het om my vir my werk by Helpende Hand voor te berei.”

Volhoubaar vorentoe

By Helpende Hand gekom, het Hannes nie gras onder sy voete laat groei nie.

“Die eerste ding wat ons gedoen het, is om die hart in dít wat ons doen, terug te sit. Die tweede jaar was my boodskap dat ons kragtig te werk moet gaan. Ons is nie skaam nie en ons is nie ’n volk van bedelaars nie. Die derde jaar se tema was ‘Tot hoop’, want dít is wat ons by mense wil skep. En nou, in my vierde jaar, bou ons voort ‘In hart, met krag, tot hoop’.

“My sterk eienskappe is nie noodwendig fyn detail of mikrobestuur nie. Wel strategiese denke. Ek dink ek kan die groter prentjie sien. Soos op die plaas. Jy kon op die stoep staan en die hele plaas sien. Die hele 1 800 ha met een verkykerblik sien. Dit het my denke oor verdraagsaamheid en geduld gevorm.

“Helpende Hand is nie ’n organisasie wat hom moet bewys of korporatief oorleef nie. Ja, ons werf, maar gaan nie elke tweede mens voorkeer en vra om aan te sluit nie. Dít wat ons doen – ons hart – moet sigbaar wees. As mense dit nie kan sien nie, moet ons introspeksie doen. Helpende Hand is ’n bediening, nie ’n bedryf nie. Dis ’n hart wat jy in ’n gemeenskap indra.”

Hannes vertel soos ’n trotse pa van die geseënde groei wat Helpende Hand die afgelope tyd beleef het.

“Ons het tans ’n personeel van 95 mense. Ons het die skenkingswinkels uitgebou tot ’n kragtige sake-eenheid met 87 Ons Winkels. Dít wat die winkels inbring, is gelykstaande aan 23 000 ondersteuners! En boonop het ons meer as 200 werkgeleenthede só geskep. Helpende Hand spog met 20 maatskaplike werkers en ’n Studiefondssentrum wat R250 miljoen sterk staan.

“As my vrou en kinders my nie briek nie, sal ek my gedaan werk aan my roeping. Daarom praat ek nie ligtelik daaroor nie. Ek glo die Here het my geroep om juis te midde van die koronaviruspandemie by Helpende Hand te wees. Ons het in die moeilikste tyd tot 41 000 ondersteuners gegroei omdat ons hart in ons werk is.”

Hannes Noëth.

Volgens Hannes is hy allergies vir net kospakkies uitdeel.

“Daarom is ons fokus op gemeenskapsontwikkeling, want ons mense moet sáám vorentoe beweeg. In die Covid-jaar het Helpende Hand R18 miljoen se kospakkies versprei, maar in dieselfde tyd ook R31 miljoen se rentevrye studielenings gegee.

“Dit is maklik om vyf vragmotors vol kos af te laai, maar dit help nie om mense se konteks te verstaan of verander nie. Gestruktureerde gemeenskapsontwikkeling is die wagwoord. Strukture en volhoubaarheid. Anders mors jy mense se geld. As ek moet kies tussen R20 000 se kos en om ’n maatskaplike werker aan te stel, kies ek laasgenoemde, want soveel meer mense kan gehelp word.”

Gesinsman

Hannes Noëth en sy gesin.

By die werk gee hy die pas aan, maar by die huis is Hannes net pa. “My gesin herinner my gereeld daaraan om ook rustig te raak, want my roeping het nie remme nie. Die Here het hulle waarlik as wagters vir my gegee.”

Henning (23) is die oudste en doen tans sy honneursgraad in meganiese ingenieurswese. “Ek is baie trots op hom, want hy het in die vier jaar van sy studies nog nie een keer vir sakgeld of boekegeld gevra nie. Hy het dit alles self verdien deur huise op te pas of musiek te maak.

Marli (21) is besig met haar finalejaargraadstudie in geleentheidsbeplanning, Hanri (17) is in matriek en laatlam Esna (10) is in Laerskool Kameelfontein waar ma Rina skoolhou.

“Ons gesin geniet dit om te gaan stap. Clarens of Hartbeespoort. Of om die langpad te vat Kaap toe. My drie dogters geniet dit ook baie as ek vir elkeen R200 gee en dan besoek ons op ’n Saterdag sommer al ses Ons Winkels in Pretoria. En as my vrou my nie keer nie, sal ek elke dag van die week braai. Aansit by ’n tafel as gesin is prioriteit. Ek glo dit is die gom wat ’n familie saambind. Televisiekyk is vir my ’n beproewing, maar ek sal by my mense sit. Met ’n boek. Of Facebook.”

Gee en geduld

Hannes Noëth.

“Die belangrikste ding op my CV is dat ek ’n kaalvoetplaasseun is. Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie aan my grootwordjare dink nie. Ons het vandat ek in standerd twee (graad 4) was, tussen Petrusburg en Koffiefontein in die Bo-Karoo op die familieplaas Twyfelhoek, 40 km buite Petrusburg, geboer. Ons het hard gewerk, aartappels uitgespit, koeie gemelk. Daar was skape en groente. As ek vandag terugdink aan daardie dissipline, besef ek dat ek dit nog elke dag toepas.”

Hannes het ’n baie goeie verhouding met sy broer, Danie (42), hoof van die kinderhuis in Reddersburg.

“Ons werkpaaie kruis gereeld. Hy het vir ’n rukkie geboer, maar die ekonomiese lewensvatbaarheid van die plaas het sake bemoeilik. Toe my pa-hulle alleen op die plaas was, het die veiligheidsrisiko weer te hoog geword. Eindelik het ons die plaas verkoop en my ouers, Henning (74) en Drien (70), woon nou in ’n tehuis vir bejaardes in Reddersburg.

Hannes saam met sy ouers en broer.

“My ouers is absolute gemeenskapsmense. Kerk, boer, uitdeel… dit was hul lewe. Ons was nooit só vermoënd dat ons geld vir die wêreld kon gee nie, maar ons het altyd groente gehad. Ons het grootgeword met die wete dat daar altyd kos is. Dit het beslis ’n impak op my gehad.

“Daar was altyd groente om uit te deel, te verdeel. As daar ekstra was, het ons dit by die ouetehuis uitgedeel. As jy koshuis toe gaan, vat jy sommer vir al die koshuiskinders saam. As die dominee kom, gee jy vir hom ’n sakkie aartappels. Dís die hartklop van plattelandse gasvryheid.

“As my ma beskuit gebak het, het ons nooit meer as een pakkie gehou nie. Alles is uitgedeel. Ek het grootgeword met die gedagte van gee. Iemand het eenkeer gesê as ’n mens met uitdeel in die hemel kon kom, sou my ma dit beslis maak. Dan het ek weer ’n pa wat van geduld aanmekaar gesit is. Ek kan nie dink dat een mens só geduldig kan wees nie. Daardie voorbeeld van gee en geduld is absoluut in my menswees geëts.”

Bewaring en bewussyn

“Ek versamel al vandat ek sewe jaar oud is – boeke, biografieë, digbundels. Ek is ook erg oor my Groot Trek-prente. Die ossewa is vir my baie simbolies van wie ons mense is. Soms stukkend en gebroke, maar altyd vorentoe.”

Selfs drie groot borsbeelde van Louis le Grange, genl. JP Gouws en John Vorster wat eens op die ashoop was, is blink gerestoureer en hou wag oor boeke wat uit tot so ver terug as 1720 dateer.

“Sommige mense sal dalk aanstoot neem deur my versameling, maar dis mý mense. Dis wie ek is. Deel van my roeping is bewaring. Dink net deur hoeveel geslagte is van dié boeke oorgedra!

“Ek het onlangs ’n oom wat oorlede is se hele boedel gaan haal. Vir sommige is dit net papiere, maar vir my is dit verskriklik waardevol. Tussen sy goed was die begrafnisbrief van Generaal de Wet. Ek het die koerantberig waarin sy dood aangekondig word en nou ook die begrafnisbrief. Skielik het jy ’n versameling wat iets oordra van wie De Wet was.

“As ek wil herlaai, kom ek na my studeerkamer toe. Hier gooi ek my petrol in. Ek kom weg van mense, deur na (hierdie) mense toe te kom. Al haal ek net ’n boek van die rak af, blaas die stof af en sê: Sjoe, dis ’n mooi boek.

“Ek het ’n baie sterk lewensfilosofie dat jy geen toekoms het as jy nie ’n historiese bewussyn het nie: ’n sterk identiteit, ’n liefde vir die eie. Ek glo nie aan iets soos neutrale grondgebied nie. Ek is ’n Afrikaner. Ek is seker van wie ek is, wie my mense is. Ek ken hul swakhede en gebrokenheid. En juis dáárom is ek vir hulle lief.

“’n Groot leemte vandag is dat mense só ingestel is op wie hulle nie mág wees en nie wíl wees uit die verlede nie. Hulle maak die heeltyd verskoning, is onseker en wonder: mag ek wees, mag ek bestaan? Maar ons moet onthou, dis juis in die gebrokenheid van die wêreld wat ’n mens deur God geroep word. Ons vertrekpunt is nooit volmaaktheid nie.”

Broodnodige balans

Hannes Noëth.

“Suid-Afrika het Covid binnegegaan met 18 miljoen welsynstoelaes en 2020 afgesluit met 20 miljoen mense wat van regeringstoelaes afhanklik is. Aan die ander kant is daar net 4 miljoen belastingbetalers. Dit gaan ons versmoor as ons nie struktureel anders begin dink en doen nie.

“Balans is broodnodig tussen vis gee en iemand leer visvang. As jy net vis gee, sal jy bankrot word. Maar jy kan ook nie net op visvang fokus nie. Wat help dit jy gee ’n studentelening, maar die student kan nie eet nie. Ons doen die een, maar laat die ander nie na nie. Ja, ons gee kos en bedryfsprojekte soos Josef Silo’s, want die werklikheid is dat daar 85 wit plakkerskampe is. Ons ontwikkel egter ook volhoubare, langtermyn-inisiatiewe, soos die aanstel van meer maatskaplike werkers.

“Gestel ek het R200 000. Gee ek 200 kospakkies van R1 000 elk vir ’n maand of lei ek 20 versorgers op? ’n Mens skep vir 20 mense werk met dieselfde R200 000 en in die proses word bejaardes én gestremdes versorg. Dís holistiese hulp.

Hannes Noëth.

“Ons moenie droogmaak met die geld wat ons gee nie. In Gauteng is 6 000 verkeersligte. Gemiddeld R300 word daagliks by elke verkeerslig deur motorruite uitgedeel. Dis R1,8 miljoen per dag! Wat beteken dit vir armoede? Dink wat ons in Gauteng kan vermag as ons elke maand R52 miljoen het? Hoeveel ouetehuise en kinderhuise kan ons nie bou en onderhou nie.

“Die rehabilitasiekoers van ouens by robotte is slegs sowat 3%, maar ons hou hulle aan die gang met R1,8 miljoen per dag. Mense voel beter binne hulself as hulle R1 of R5 gee. Tog weet hulle nie waarvoor die geld gaan nie. By Helpende Hand gaan 71c van elke R1 direk vir armoedeverligting en 29c om strukture te bou wat volhoubaarheid in die hand werk.”

Daarom is Hannes se droom, sy visie, sy hoop ’n maatskaplike departement vir die Afrikaner.

“Noem dit ’n departement van gemeenskapsontwikkeling. Ons moet die kwesbare groepe saam met ons vorentoe vat, die gestremdes en bejaardes. Ons kan hulle nie agterlaat nie. Die nasionale tak vir gehoorgestremdes wat ons op die been gebring het, het geweldige reaksie ontlok.

Hannes Noëth.

“Die oomblik toe ons tolke begin gebruik tydens aanbiedings en mediakonferensies in die Solidariteit Beweging, het ons ’n gemeenskap ingesluit wat ons nie besef het uitgesluit was nie. Die reaksie van die dowe gemeenskap is iets wat my die meeste in die vier jaar by Helpende Hand aangeraak het. Dis ’n voorbeeld van iets kleins wat ’n enorme impak het. Een van die wesenseienskappe van die mens is om te behoort. Ons moet mense saam vorentoe neem, saam behoort aan mekaar.

“Ek sien die hoop en krag van ons mense. Ons is nie gedaan nie. Ons is nie klaar nie. ’n Dominee van Bethulie skryf oor die ma wat in die tent in die konsentrasiekamp sit met haar sterwende baba, die agtste kind wat sy verloor. Maar sy trou weer en kry weer kinders. Dít is die krag van my mense. Covid het ons weer aan die kortstondigheid van die lewe kom herinner. Nietighede uitgelig. Ek sal sekerlik die laaste ou wees wat die ligte in Suid-Afrika afsit, want ek sal tot die einde glo my mense het die krag om weer op te staan.”

Kestell en korona

As hy een boek uit sy versameling moet kies wat hy oor en oor lees?

“Enigiets oor Kestell.” Dr. John Daniël Kestell was ’n predikant, Bybelvertaler, skrywer en kultuurleier wat geweldig baie gedoen het vir die verarmdes en haweloses. “Dis eintlik baie interessant hoe my pad geloop het, want as jy Kestell se werk lees, kan ’n mens nie anders as om by Helpende Hand uit te kom nie.

“Kestell se beginsels van help mekaar, dra mekaar, versorg mekaar, is ’n wesenlike deel van Helpende Hand en die hele Solidariteit Beweging se DNS. Al sy skrywes fokus sterk daarop dat ’n volk homself moet red, dit wil sê gemeenskappe moet na hulself omsien. Hy’t geglo in die krag van gemeenskappe. En hy het geglo: ‘Elkeen van my volk, is my volk, of ek van hom hou of nie. Of hy nou ryker of armer is as ek.

“Vir Kestell was die volk ’n verbondseenheid. Sy bedoeling agter alles was: jy is nie alleen nie, jy is nie geïsoleer nie. Dit help nie jy gaan vorentoe en jou mense bly agter nie. Die grootste organisasies en werk wat gedoen word om armoede uit te wis, is vandag nog in Kestell se fondasies geanker.

“Kestell was baie onderskat en misken omdat hy in ’n tyd van groot geeste geleef het. Steyn en De la Rey het Kestell se raad gevra. Selfs met die uitgee van sy oorlogsvertellings het hy teruggestaan dat De Wet se Boer en Brit eerste gedruk word, want hy het geweet die eerste boek gaan beter verkoop. Hy het ’n geweldige groot rol in die Anglo-Boereoorlog gespeel. Hoewel hy nooit ’n wapen opgeneem het nie, het hy barmhartigheid gelééf.

“As hy midde-in die koronaviruspandemie geleef het, sou hy gesê het: ‘Wat help dit jy kom deur Covid, maar jou mense nie?’ En: ‘As ons nie saam hierdeur kom nie, moet ons nie hierdeur kom nie.’ Kestell is beslis ’n mentor vir my.”

Hannes Noëth.

Hannes is ook baie lief vir gedigte en lees minstens een per dag.

“Totius se werk is aangrypend. Totius en Kestell was, interessant genoeg, ook groot vriende. Dus, as jy die een lees, lees jy ook die ander. Dit is so mooi beskik in ons volk se geskiedenis dat Totius met die 1933-Bybelvertaling die eindredakteur van die Ou Testament en Kestell van die Nuwe Testament is. God het twee baie besonderse mense saamgevoeg om die pad te stap tot by die Afrikaanse Bybel wat ons vandag ken.”

Ons gesels oor sy liefde vir berading en skryf, die talle boeke wat al uit sy eie pen verskyn het, die 500 “Twyfelhoekie”-rubrieke wat hy oor die afgelope 10 jaar vir die Noordkaap Bulletin geskryf het. Dis lankal donker toe ek met ’n propvol emosionele tenk huis toe ry.

Hannes Noëth is ’n boek wat jy weer en weer wíl lees. Vir jou kinders wil voorlees. Hy’s geskiedenis én ensiklopedie. Hy bring woord én eietydse waarheid. Wysheid én hoop. Hy is ’n kleinood wat langs Kruger en Kestell hoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willem ·

Wat n grap!!!!!Tydens inperking het ek en my vrou om hulp gevra vir kospakkie.Hy en sy helpende hand clowns het hulle agterente aan ons afgesmeer sowel as aan my dogter en verloofde en hul kind.Agterna het hul nogal vermetelheid om skenkings te vra en of ons wil aansluit by Solidariteit.Nee wat ek meng nie met snobbe nie want Solidariteit is net vir wittes met geld!!!!!!

Blikke ·

Ja ou Willem, en wat doen jy om n verskil te maak of wil jy net aan die ontvangkant wees. Help niks om jou stert in n krul te ruk nie….vat vas man en dinge sal uitwerk.

Elize ·

Super trots en oneindig dankbaar vir Helpende Hand se voorloper. Ons leier wat doen en nie net praat nie, n persoon wat die leiding neem en saam werk al beteken dit om vuil te word van aartappels af laai , beslis nie iemand wat net praat nie.

Lorette ·

Kan nie glo jy is al 4 jr weg vanaf Kimberley nie, MAAR ek hoop jy het water daar in PTA, want ons Kimberlite dood van die dors, veral hulle wat dit dit die minste kan bekostig om te koop!

Yvonne ·

Willem ek is so jammer dat jy so n negatiewe ondervinding gehad het…ek vertrou dat met die Heer se genade jy kan aanbeweeg….met deernis gese

Klipkop ·

Wat ‘n voorreg om hierdie man te ken, wat soos ‘n rots van hoop vas bly staan …… omdat hyself op die Rots van die Woord geanker is. Dankie Hannes. Mag die genade oor jou groot wees en mag die HERE jou bekragtig, sodat daar deur jou insiatiewe nog duisende maatskaplike werkers mag wees, wat aan tienduisende, en as dit nodig is selfs die honderdduisende, mag hoop en selfbemagtiging gee vir ‘n toekoms.

Voorwaarts!!!

Klipkop ·

Willem ek is jammer om dit te hoor. Rig jou wapens na die anderkant en maak vrede, want baie meer mense kry seer omdat jy kwaad is. Wanneer ons benadeel is, is dit logies dat dit woede ontketen. Helpende maak foute en ek dink hulle sal dit self erken. Wie van ons gaan immers ‘n dag deur sonder foute? Laat ons dan nie die fout maak om soveel ander te benadeel net omdat ons self benadeel is nie. Sterkte vir jou Willem. Ek hoop jy en daardie Helpende Hand kan iewers in die toekoms blad skud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.