Hartbeespoort-verdrinking: Jong man gly toe hy met trappies afklim

Callie Erasmus by sy ouers Callie en Sunette en sy broer, Hanré.

ʼn Vriend van Callie Erasmus, die jong man wat Saterdag in die vroeë oggendure verdrink het, het met sy selfoonflitslig vir Erasmus in die stikdonker tonnel gelig, terwyl hy met trappies in die skag afgeklim het. Die volgende oomblik was Erasmus skoonveld.

Die tragiese ongeluk het plaasgevind nadat die 20-jarige Callie en vier vriende omstreeks 01:00 oor ʼn heining tot in die damgebied van die Hartbeespoortdam geklim het. Die vyf is hegte vriende en is glo reeds sedert hul laerskooldae bevriend.

Die ongeluk het gebeur aan die einde van die tonnel vanuit die rigting Schoemansville.

Erasmus se voet het vermoedelik gegly en hy het in die skag afgetuimel. Die vriend het dadelik besef daar is moeilikheid en het hom met die trappies opgehaas na die ander drie vriende. “Hy’s weg,” het hy gesê.

Aanvanklik het hulle gedink hy maak ʼn grap, maar hulle het gou besef hulle moet hulp kry en is na die ouerhuis van een van die mans, wie se pa ʼn polisieduiker is.

Erasmus se ma, Sunette, sê daar is nie woorde om te beskryf hoe seer en leeg hul harte is nie. “Calla laat so ʼn groot leemte in ons almal se lewe. Hy het voluit gelewe en 200% gegee in alles wat hy gedoen het. Sy pa was sy held, en sy broer, nefies en vriende sy hele lewe.”

ʼn Ingeligte sê Erasmus is weens die sterk suigkrag dadelik aan die onderkant ingesuig toe hy by die skag afval. “Die suigkrag is so sterk omdat dit water moet deurtrek. Hy het nie ʼn kans gehad nie. Hy het dadelik verdrink.”

Die Krokodilrivier by Hartbeespoortdam. (Foto: Lynn Greyling/Pixabay)

Sy liggaam is met die besproeiingskanaal langs gespoel, onderdeur die sluise, tot aan die ander kant van die waterval. Dit is later in ʼn poel aan die onderkant van die waterval in die Krokodilrivier gevind.

Die bron sê die jong mans het ʼn staalrooster op die platform van die skag afgelig voordat hulle met die skag af is. “Dié rooster word nie met slotte gesluit nie, want niemand is veronderstel om daar te wees nie.” Die ingeligte sê die hekke word wel met groot slotte gesluit en ʼn dubbele duiwelsvurk-heining omhein die skag. Slegs personeel van die departement van water en sanitasie mag ingaan en die terrein is nie toeganklik vir lede van die publiek nie.

“Drie meter in die skag af is jy reeds onder water. Aan die onderpunt van die skag is jy omtrent al tien meter onder die watervlak. Ons personeel gaan nooit sonder harnasse daar af nie,” sê die bron.

Die kanale is die verantwoordelikheid van dié departement. Beamptes maak die kanale oop wanneer besproeiing nodig is.

Erasmus se gesin en die gemeenskap van Hartbeespoort is in rou gedompel. Sy broer het Vrydag verjaar.

Erasmus het in 2021 aan Hoërskool Wagpos matriek behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Aai ·

Tragies ‘n aand uit om fun te he het omkeerbaar uitgedraai Sterkte aan familie en vriende

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.