Hartenbos se poskantoor ook gesluit

Die poskantoor op Hartenbos. (Foto: Verskaf)

Die poskantoor op Hartenbos in die Wes-Kaap is een van die poskantore in die Mosselbaai-gebied wat ook nou gesluit is. Dit lyk boonop nou of die poskantoor besig is om sy netwerk van poskantore te “rasionaliseer” en te “herbalanseer”, met die gevolg dat ander poskantore dalk ook in die slag kan bly.

Die sluiting van die Hartenbos-tak kom nadat die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) nie verder sy huurooreenkoms met die eienaar van die gebou waaruit die poskantoor bedryf word, kon nakom nie. Die poskantoor versuim glo reeds maande lank om die volle huurbedrag te betaal.

Die eienaar, wat liefs anoniem wil bly, het Maroela Media meegedeel dat die betrokke poskantoor hom byna R380 000 in agterstallige huurgeld geskuld het.

Hoewel ʼn groot gedeelte aan hom oorbetaal is nadat hy regshulp ingewin het, is byna R70 000 steeds uitstaande.

Die poskantoor het verlede jaar reeds ʼn skrywe aan van die verhuurders gestuur waarin hy vra vir ʼn 40%-afslag op sy uitstaande skuld, en onderneem het om dit teen Desember verlede jaar ten volle te vereffen. Maroela Media het hierdie skrywe en verskeie ander onder oë gehad.

Die poskantoor in Hartenbos het in ʼn kennisgewing gesê dat die tak op 26 September permanent gesluit gaan word en dat inwoners van ander naburige poskantore, soos die in Klein- en Groot-Brakrivier, gebruik moet maak.

Die poskantoor op Klein‑Brak het egter ʼn week later sy deure tydelik gesluit omdat hy ook nie sy finansiële verpligtinge aan die eienaar van daardie gebou kon nakom nie. Die sluiting van twee poskantore binne ʼn radius van 10 km van mekaar in so ʼn kort tydperk het reeds ongerief vir die gemeenskap veroorsaak.

Terwyl talle bejaardes nou ver afstande moet reis om van ʼn poskantoor se dienste gebruik te maak, het mense op sosiale media reeds gekla dat hulle nie hengellisensies by die poskantoor sal kan uitneem voor die komende vakansietyd nie.

Die poskantoor het die eienaar van die gebou in Hartenbos reeds in Augustus skriftelik in kennis gestel dat hy, weens ʼn afname in inkomste, nie meer hul huurooreenkoms sal kan nakom nie en dat die kontrak op 30 September beëindig sou word. Die rede vir die afname in inkomste word in die skrywe toegeskryf aan die Covid-19-pandemie en ʼn afname in posvolumes weens tegnologiese vooruitgang.

In nog ʼn skrywe sê die poskantoor dat hy tans besig is met ʼn proses van “rasionalisering en herbalansering van sy netwerk” om by die veranderde aanvraag vir ʼn posdiens aan te pas.

Sapo het in een van sy skrywes ook onderneem om al sy uitstaande huurgeld te betaal sodra die fondse wat deur die regering belowe is, deurkom.

Johan Kruger, woordvoerder van die poskantoor, het Woensdag aan Maroela Media bevestig dat Sapo al geruime tyd finansieel in die knyp is en dat die impak van die Covid-19-pandemie veral hiermee te doen het.

Dit is nog nie duidelik watter ander poskantore deur hierdie gebrek aan inkomste geraak gaan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Waarnemer ·

Vir R380000.00 is ek ook bereid om n plekkie aan die poskantoor te verhuur….vooruit betaalbaar natuurlik.

Manie ·

Maak die poskantoor toe, wie kry per slot van sake deesdae nog fisies posstukke?

Johan ·

Ons in die Oos kaap gaan ook een vandie dae nie hengel lisensies, motor lisensies en tv lisensies kan uit haal by die poskantoor so maak hulle toe

Dup ·

Topverkoper handleiding tans op die rak:”Hoe om ñ land te vernietig in een maklike stap”,deur die gewilde skrywer,ANC.

Hennie ·

Poskantoor takke? Wie gebruik dit nog? Was meer as 2 dekades laas in n poskantoor. Sluit maar.

Delia ·

Ek kry my voertuiglisensies by die poskantoor. Baie efficient. Nogal n blanke man wat daar werk

Adriana ·

Ek skaam my om te sê ek het vir die poskantoor gewerk, wat eens ñ winsgewende maatskappy was tot in die afgrond af gebreek soos di res van die land, dit sal nooit weer tot sy glorie kan herstel word. Dit is so hartseer om te sien dat dit wat ons in ons land opgebou het so verval.

Veronika ·

Sal nie omgee vir 40% afslag op my skuld nie! Vermetelheid! Betaal nie jou skuld en dan soek jy nog afslag ook op jou agterstallige skuld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.