Haweloses vermoor: ‘Polisie op regte spoor’

pretoria-jakaranda-stad-sa-tourism-flickr-com

Pretoria. Argieffoto: SA Toerisme/Flickr.com

“ʼn Reeksmoordenaar sal iemand met spesifieke belang vir hom of haar teiken. Reeksmoordenaars kry ʼn drang om dood te maak; dit bou op, hulle pleeg die moord en dan gaan hulle aan met hulle lewe. Later moor hulle weer.”

Só het dr. Gerard Labuschagne, ondersoekende forensiese sielkundige, Maandag in ʼn onderhoud met Martin Bester op Jacaranda FM gesê oor die vlaag moorde wat die afgelope weke onder haweloses in Pretoria plaasgevind het.

ʼn Spesiale taakmag is sedertdien op die been gebring om dié moorde te ondersoek nadat daar bespiegel word dat die moorde moontlik die werk van ʼn reeksmoordenaar kan wees. Vyf liggame is binne net ʼn paar weke in die omgewing naby Muckleneuk, in die Pretoriase middestad, gevind.

Al vyf slagoffers was mans, middeljarig, haweloos en is deur die nag vermoor. Die eerste slagoffer se liggaam is op 25 Mei in Sunnyside gevind. Die tweede en derde slagoffers se liggame is sowat twee weke later aangetref, en die ander twee liggame is verlede week gevind.

Hoewel daar verskeie definisies van ʼn reeksmoordenaar is, meen Labuschagne indien ’n persoon twee afsonderlike moorde gepleeg het, kan hy of sy reeds dan as ʼn reeksmoordenaar bestempel word.

Hy verduidelik dat daar egter verskillende soorte reeksmoordenaars is. Sommige van dié moorde word gedryf deur seksuele redes soos in die geval van die destydse reeksmoordenaar Moses Sitole. Ander moorde aan die hand van ʼn reeksmoordenaar word weer gedryf deur mag, wraaksug of finansiële gewin.

Labuschagne het in die onderhoud vertel dat ʼn skielike vlaag moorde in ʼn kort tyd nie ongewoon is nie en dat daar vasgestel behoort te word of daar voorheen moorde in die gebied, in dié geval Muckleneuk, gepleeg is wat net nooit met die onlangse reeks moorde verbind is nie.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, het vanoggend aan Maroela Media gesê die taakmag werk sedert verlede week onverpoos om meer inligting rakende die moorde te bekom.

Volgens Labuschagne is die polisie op die regte spoor.

Labuschagne is veral vertroud met die taakmag aangesien sommige lede vantevore saam met hom in sy eenheid van forensiese sielkunde gewerk het.

Hy meen dat hulle baie ervaring met reeksmoordenaars het en reeds honderde sake van dié aard hanteer het. “Solank hulle betrokke is, voel ek dat die situasie reg hanteer sal word mits ander hooggeplaastes in die polisie nie inmeng en speurder probeer speel nie,” het hy gesê.

Niemand is nog in hegtenis geneem vir die moorde nie, het Peters gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Suzette ·

Jinne, dit klink soos ‘n kortverhaal wat ek destyds in ‘n tydskrif gelees het en die skuldige was ‘n polisieman. Hierdie is net die harde werklikheid.

Leon Botha ·

Dit kan weer die werk wees van jeugdiges wat met die moorde begin het en nou kan die belhamel nie ophou nie. Hy sal noodwendig ‘n slim psigopaat wees en weet hoe om sy een of twee vriende in te sleep. Eenvan hullesal waarskynlik uitkom met die waarheid. Hy is nog versigtig en val sy slagoffer aan terwyl hy geen teenstand kan bied nie. Later sal hy meer waaghalsig raak. Ek wonder maar net!!!!

Michelle ·

Ongeag die omstandighede van die straat mense elke persoon is geregtig op ‘n lewe. Nie een kan oordeel nie kry die siek psigopaat van die straat af en sluit hom toe vir sy dade.

Se net ·

Ek wil nie snaaks wees maar ek het n sterk vermoede dat die persoon of persone wat dit doen of n senior skolier is of n student. Dit is n speletjie,,,, my opinie.

JOHANNES ·

Ek wil n ongemaklike vraag vra weet iemand wat die ras van die slagoffers is?

charmaine ·

Kan die taakmag of iets soortelyks dan ook behulpsaam wees met plaasmoorde nie? Daar is meer plaasmoorde as enige ander tipe moord.

Attie. ·

Ek ken ‘n dame wat alleen boer en ek daag enigeen uit om haar aan te val. So glo ek vas dat plaasaanvalle kan halveer indien elke boer ‘n paar veiigheidsmaatreels instel. Elektriese en elektroniese hulpmiddels sowel wapens en honde is ‘n noodsaaklikheid in ons tye. Motorhekke verhoed dat jy moet uitklim in die donker om ‘n hek oop te maak. As jy in Muckleneuk of op ‘n plaas of hoewe woon, bly tog in jou huis na sononder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.