Heelwat minder misdaad in Kaapstad weens afsondering

Die Stad Kaapstad sê hy het een van sy stilste Nuwejaarsnaweke op rekord agter die rug. (Foto: Stad Kaapstad)

Die Stad Kaapstad sê hy het een van die stilste Nuwejaarsnaweke in die geskiedenis ondervind en skryf dit grootliks toe aan die aandklokreël en beperkings op die verkoop van alkohol.

Pres. Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika verlede week na ʼn aangepaste vlak 3 van die afsonderingsregulasies geskuif ná ʼn tweede vlaag Covid-19-gevalle.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die stad se wetstoepassingsowerhede het 75 inhegtenisnemings die afgelope week gedoen. Oortredings wissel van dronkbestuur (15) tot die besit van dwelms en onwettige vuurwapens en ammunisie.

“Ons kan met veiligheid sê dit was gegrond op die statistieke ʼn uiters stil feestyd. Gegewe die voorvalle wat ons beamptes aangemeld het, was daar egter steeds diegene wat die bepalings verontagsaam – maar dit is geen verrassing nie.

“Ons is dankbaar teenoor die talle mense wat hul gesondheid en veiligheid voor ʼn lekker tyd gestel het. Ons wetstoepassingsbeamptes sal hierdie week voortgaan met voldoeningsbesoeke. Ons doen ʼn beroep op die publiek om asseblief die regulasies en alle opdragte van wetstoepassers te gehoorsaam om te verhoed dat hul beboet of selfs erger, in hegtenis geneem word,” het Smith gesê.

Verkeersoortredings

Beamptes het tussen 27 Desember en 2 Januarie altesaam 21 inhegtenisnemings tydens algemene wetstoepassing gedoen. Hiervan was 10 vir dronkbestuur, vyf mense is aangekeer vir roekelose en nalatige bestuur en ses mense is van ander oortredings aangekla.

Beamptes het ook agt voertuie en 18 selfone geskut en byna 40 000 boetes vir verskeie ander oortredings opgelê.

Op Oujaarsaand is drie verdagtes aangekeer, van wie twee vir dronkbestuur. Smith sê beamptes het ook 177 boetes, waaronder 17 vir die oortreding van die aandklokreël, opgelê.

Wetstoepassing

Die stad se wetstoepassingsdepartement het 28 inhegtenisnemings gedoen en beamptes het meer as 2 000 voldoeningskennisgewings en boetes uitgereik.

In Hanoverpark is tussen Oujaarsdag en Sondag vier vuurwapens gevind.

“Dit is uitstekende werk deur ons wetstoepassers, maar ook die lede van die publiek wat die waarde besef om saam met beamptes te werk om onwettige bedrywighede en misdaad in hul gebiede aan te meld,” het Smith gesê.

Metropolisiedepartement

Beamptes het 23 verdagtes vir onder meer die besit van dwelms, dronkbestuur, gesinsgeweld en verset teen inhegtenisneming aangekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.